Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe kyk Da Vinci die olifant in die vertrek mis
Heinz Mödler

Leonardo da Vinci (1452-1519) het in sy leeftyd meer as 35 kadawers opgekerf. Veral gedurende die tydperk 1508 tot 1513 het Da Vinci die meeste van sy nagte met ’n mes in die een hand en ’n potlood in die ander deurgebring.

Hy het spiere noukeurig gedissekteer om vas te stel waar hulle ontspring en waar hulle weer inplant.

Die disseksies van mondspiere, wat vir ’n glimlag verantwoordelik is, het hom gehelp om van Mona Lisa se glimlag ’n ongeëwenaarde meesterstuk te maak. Maar Da Vinci het ook ander organe bestudeer. Veral die hart het hom gefassineer en hy het die hartkamers en -kleppe noukeurig geskets.

Hy was gefassineer deur enige vloeiende vloeistof. Water wat strome en kolke maak het hy onweerstaanbaar gevind en hy het honderde sketse gemaak en teorieë voorgestel oor hoe strome en stroomver-snellings plaasvind.

Hy het byvoorbeeld opgelet dat water wat teen die kant van ’n kanaal of pyp vloei, stadiger vloei as die water in die middel. Hierdie verskynsel lei dan tot die ontstaan van voorspelbare draaibewegings wat kolke veroorsaak.

Wanneer bloed deur die driesuilige aortaklep vloei, gebeur dieselfde. Net ná die aortaklep, waar die aorta of hoofslagaar begin, word drie verwydings na die klepsuile, die sogenaamde Valsalva-sinusse, gevind. Antonio Valsalva was ’n Italiaanse anatoom wat hierdie verwydings in 1750 beskryf het.

Of liewers, vir publikasie gestuur het, want Da Vinci het dieselfde bevindinge reeds in 1510 in sy notaboeke aangeteken. Na regte moes dit dus eintlik die Da Vinci-sinusse geheet het.

Da Vinci het bespiegel dat die maalkolke wat die bloed in die Valsalva-sinusse vorm, noodsaaklik is vir die aortaklep om weer te sluit. Niemand het hom geglo nie, en tot en met die 1960’s het dokters geglo dat die massa bloed wat die linkerventrikel tydens sametrekking in die aorta inpomp, verantwoordelik is vir die sluiting van die klep bloot omdat die bloed teen die klepsuile terugdruk.

Die feit dat bloed deur die liggaam sirkuleer, kon baie maklik aan Da Vinci ’n Eureka-oomblik besorg het, maar hy het dit gemis.

Leonardo het selfs ’n glasmodel van die linkerventrikel, aortaklep en die aorta gemaak om te bewys dit is nie die geval nie, maar geleerdes het hulle nie aan hom gesteur nie.

Brian Bellhouse van die Universiteit van Oxford het Da Vinci se bevindinge ’n paar dekades gelede bevestig. Maar eers in 2014, aan dieselfde universiteit, is Bellhouse se bevindings deur magnetiese-resonansiestudies as akkuraat verklaar.

Tydens Da Vinci se gedetailleerde studies van die aortaklep, asook die bloedvloei wat met die oop- en toegaan gepaardgaan, het hy egter versuim om die olifant in die vertrek raak te sien.

Verstommend genoeg het hy verkeerdelik, en heel gelate, die Galenus-teorie aanvaar dat bloed in die liggaam bloot heen en weer gepomp word. Die feit dat bloed deur die liggaam sirkuleer, kon baie maklik aan Da Vinci ’n Eureka-oomblik besorg het, maar hy het dit gemis.

Gevolglik moes ons nog 100 jaar vir die Engelse geneesheer William Harvey wag om te besef dat bloed wat in die regterhart beland, dieselfde bloed is wat ’n paar pompslae tevore die linkerhart verlaat het.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Leonardo Da Vinci  |  Heinz Mödler  |  Hart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.