Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe oom Brand by drankwinkel ingebreek het

Onlangse inbrake by drankwinkels het Willem Fransman jr. laat terugdink aan die keer toe oom Brand wederregtelik ’n paar bottels brandewyn wou bekom.

Willem Fransman jr.

“As ons nie kan drank koop nie, dan stéél ons dit . . .”

“KWV-vragmotor vol wyn gekaap.”

“Nog ses drankwinkels oor naweek in Wes-Kaap geplunder.”

Só het verskeie opskrifte van onlangse artikels in koerante gedurende die staat van inperking gelui. Skokkend, maar tog so werklik!

Dit is dalk aangedryf deur dranklus of dalk ook deur misdadige elemente, maar sommige dranklustiges het getoon dat hulle tot enigiets in staat is om hul dieper dors te les.

Dit het my laat regop sit toe ek lees dat die Diamond Liquors-drankwinkel in Haltweg, Elsiesrivier, ook beroof is.

Dit het my gedagtes ver laat teruggaan na ’n inbraak lank gelede by dieselfde drankhandelaar.

Een van hulle was oom Brand. Eintlik Brandewyn weens sy geweldige voorliefde vir hardehout, veral brandewyn. Later jare het die wyn-gedeelte van sy bynaam net verdwyn. Oom Brand was ’n messelaar wat dikwels vir Ouboeta werk kom doen het. Sy betaling sou die ooreengekome bedrag plus ’n bottel brandewyn wees, daardie soort met die toue om die bottel en die slagspreuk oor die eeu-oue Franse tradisie.

In die sewentigerjare het ons hoërskoolseuns bevriend geraak met Ouboeta se seuns (ek sal maar hul werklike identiteit verswyg).

Ouboeta het met groente en vrugte gesmous. Sommer so vanaf sy voorstoep. Ons het, om sakgeld te verdien, ná skool ’n handjie bygesit.

Hy het sy inkomste met drankverkope uit die huis aangevul – jy kon net koop en loop! Slegs goeie vriende kon agter in die werf gaan sit. Dit was ons as skoolkinders nie beskore nie, ’n regte no-go-area.

Maar soos ons die groente en vrugte voorlangs verkoop het, het ons mettertyd die ooms bevriend. Baie het dikwels eers by ons geselsies aangeknoop voordat hulle gaan drink het.

Een van hulle was oom Brand. Eintlik Brandewyn weens sy geweldige voorliefde vir hardehout, veral brandewyn. Later jare het die wyn-gedeelte van sy bynaam net verdwyn.

Oom Brand was ’n messelaar wat dikwels vir Ouboeta werk kom doen het. Sy betaling sou die ooreengekome bedrag plus ’n bottel brandewyn wees, daardie soort met die toue om die bottel en die slagspreuk oor die eeu-oue Franse tradisie.

Wanneer hy goeie geld verdien het, het hy dikwels sy brandewyn by die Diamond-drankwinkel gaan koop. Op ’n dag toe hy by die drankwinkel se deur uitstap met twee bottels brandewyn, een in elke vuis vasgeklem, staan ’n skollie reg voor hom en vra ’n rand.

Toe Brand sê hy het nie geld nie, steek die snaar sy hande in Brand se sakke terwyl hy reg voor hom staan.

Terwyl sy hande nog so in Brand se sakke is, vererg Brand hom en slaan, eers met die een bottel en toe ook met die ander, twee harde houe op die snaar se kop. Met dit sak die ou inmekaar en trek Brand op hom af.

Tydens die val, breek albei bottels. Met die brandewyn wat nog so onder hulle twee uitvloei, het die polisie albei in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Brand se verweer dat hy die slagoffer is en dat die ou se hande nog in sy sakke was, het glad nie in sy guns getel nie. Hy het drie dae in die selle deurgebring, en was uiteraard sy voggies kwyt.

Oom Brand in die hof

Op ’n dag breek die nuus dat daar die vorige aand by die Diamand-drankwinkel in Haltweg ingebreek is en dat verskeie bottels duur brandewyn vermis word. Gou-gou is een en een bymekaar getel en gerugte het die ronde gedoen dat Brand betrokke moes wees.

Binne ure was die polisie by Ouboeta, wat hulle na Brand se huis in Baardmanstraat geneem het.

Edelagbare . . . ek sal skillag pleit as daai man net vi my kan sê waa hy weggekryp het!

Met die hofsaak blyk dit toe dat Brand en ’n jongerige outjie betrokke was. Dié se advokaat het dit laat blyk dat Brand, as die ouer persoon, vir die inbraak pa moet staan.

Toe Brand heeltemal in ’n hoek gedryf is en die landdros hom vra of hy iets wil sê voor die vonnisoplegging, antwoord hy vererg: “Edelagbare, ek wiet dit was net ek en Jobie wat by die kantien ingebriek het. Jobie hettie deur mettie crow bar oepegebriek. En toe is ôs in. Ek het nog omgekyk toe ôs ingat. Daar was geniemant agte my. Vra vi Jobie . . . ek was net agte hom.

“Toe het ôs die wyn gevat en ytgehatloep. Dit was net ek en Jobie. Nou praat dié man (hy wys na die advokaat) asof hy oek saam moet ôs innie kantien was! Maar Jobie sê dan niks’ie. Edelagbare . . . ek sal skillag pleit as daai man net vi my kan sê waa hy weggekryp het!”

Nodeloos om te sê, moes Brand én Jobie tronk toe.

Vandag is jy dronk . . .

’n Drankwinkel wat in die staat van inperking onder inbrekers deurgeloop het. Foto: Argief

Nes Brand wat lief was vir sy brandewyn, was die gewilde Amerikaanse skrywer Ernest Hemingway gek na ’n droë yskoue Martini en soms ’n Bloody Mary.

Nader aan die huis het NP van Wyk Louw, veral tydens sy verblyf in Engeland, dikwels “pub crawling” gedoen. Uys Krige, goue seun van Afrikaanse letterkunde, het op ’n keer opgemerk die lewe is net draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is.

Dr. C. Louis Leipoldt het self van ’n wyntjie “met ’n muskaat-agtige smaak” gehou.

Sommige skrywers het soms ’n eksterne impuls (lees: inspuiting van Bacchus) nodig om kreatief te wees, aldus die digter WEG Louw, broer van NP. In die gedig “Naggesprek” skryf hy:

Ons het met uitgelatenheid gewerk en heelwat wyn gedrink, want sonder wyn, sover ek weet, het nooit ’n vers ontstaan nie.

Vandag is jy dronk. As jy nugter word, is jy steeds honger.

Maar terug by die inbrekery. Hoewel ’n mens dit nie wil goedpraat as mense by winkels inbreek om kos te steel nie, het jy tog ’n sekere mate van begrip daarvoor.

Maar inbreek vir drank?

Dit is net nie verdedigbaar nie. Vandag is jy dronk. As jy nugter word, is jy steeds honger.

Die Amerikaanse skrywer F. Scott Fitzgerald se waarskuwing moet miskien sterk ter harte geneem word:

Eers neem jy ’n drankie, dan neem die drankie ’n drankie en dan neem die drankie jou!

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.