Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe spoel ek my liefde in ’n toilet weg

As jy nie kans sien vir ’n afskeidseremonie nie, kan ’n egskeidingsritueel wat jy op jou eie doen jou ook help om jou reis tot op hede te evalueer en te dink oor die pad vorentoe, skryf Erla-Mari Diedericks.

erla-mari diedericks
Erla-Mari Diedericks

Hiermee belowe ek om vir ewig uit jou lewe te stap. Ek belowe om jou net te pla aan die einde van die maand vir “maintenance”. Ons het mekaar nie ondersteun in die goeie en die slegte tye, of tydens welvaart en armoede nie – en ons gaan nie nou begin nie. Ek belowe wel om hoflik te wees ter wille van die kinders.

Dood sal ons nie skei nie, maar ons kinders sal ons vir altyd bind. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is dit: Dis my keuse om jou te haat of lief te hê tot die einde van my dae, maar ek hoef nie meer met jou te baklei nie. Die “power struggle” is verby. Sela.

Vergeet van alleen sit en huil in jou whiskeyglas.

Egskeidingseremonies is veral oorsee hoogmode.

Jy en jou eks hou dit saam, die familie word genooi, beloftes word gelees (soos die ene hierbo wat ek losweg op die huweliksbelofte gegrond het) en die doel is om vreedsaam uitmekaar te gaan. Sielkundiges en huweliksberaders stem saam dat dit ’n gesonde manier is om afskeid te neem van ’n ou lewe en die nuwe lewe te verwelkom.

Dis natuurlik as jy en jou eks nog praat.

Baie pas geskeides sal eerder ’n drankbottel teen hul eks se kop “klink” as ’n glasie op mekaar se voorspoed. ’n Seremonie kan egter ’n meer beskaafde manier wees om van mekaar afskeid te neem.

Daar is niks beskaafd aan ’n egskeidingshof nie.

Vra my.

Ek het een oggend my troupand in ’n vullisdrom gegooi – in Heerengracht reg voor die Naspersgebou. Dit was nie ’n duur ring nie – net ’n eenvoudige pand wat ons in Galaxy gekoop het.

Die skeihof is kil en donker, die grys vertrekke deurdrenk met trane en desperaatheid. Jy deel die gange en harde houtbanke met ongenaakbare tronkvoëls met tatoeëermerke wat teen hul gesig oprank soos doringdraad. Die egskeidingsdokument wat jy in klam hande vashou, krul in pap oortjies om van jou sweet.

Die skeihof is die hel se weergawe van die hemelse troue. In plaas van die reuk van blomme, begroet ’n skerp reuk van urine jou elke keer as die badkamerdeure oopgaan. ’n Gebroke hart klop flou onder jou ribbes en in plek van jou skitterende trouring, is daar net ’n kaal streep oor jou vinger.

En waar jy glimlaggend langs jou geliefde voor die kansel gestaan en trou gesweer het, is dit nou net jy voor die landdros, besig om te verduidelik waarom jou huwelik “onherroeplik verbrokkel het”.

“Want ons het opgef*k, u Edelagbare?”

Natuurlik kan jy dit nie kwytraak nie. Dus mompel jy iets van “uitmekaardryf” terwyl jy wens die aarde wil jou insluk soos dryfsand.

Maar ’n afskeidseremonie gee jou ’n tak om aan vas te hou.

Sien jy nie kans vir so ’n seremonie nie, kan ’n egskeidingsritueel wat jy alleen doen, jou ook help om jou reis tot op hede te evalueer en te dink oor die pad vorentoe.

Ek het een oggend my troupand in ’n vullisdrom gegooi – in Heerengracht reg voor die Naspersgebou. Dit was nie ’n duur ring nie – net ’n eenvoudige pand wat ons in Galaxy gekoop het.

Om my ring weg te gooi soos ’n stuk vullis, het versinnebeeld hoe ek oor my gemors van ’n huwelik gevoel het. My hart was in skerwe gebreek, my lyf gekneus, my siel dood. Ek moes my verlede letterlik weggooi om van vooraf te kon begin.

Die dag van die amptelike egskeiding het ek my hare helderblond gekleur. Ek het ook ’n nuwe ring vir myself gekoop. Bonkig en silwer met ’n swart steen. Ek was nou getroud met myself.

Maar kort daarna was ek weer in ’n verhouding en toe ons liefdesverhaal sewe jaar later ten einde loop, het ek ’n tatoeëermerk van vyf swaeltjies aangebring. Die simbool van vryheid. Ek spot altyd die vyf voëltjies staan vir: Moenie. Weer. Verlief. Raak. Nie. Maar eintlik staan dit vir: Vryheid laat jou hart vlieg.

So gee rituele drome vlerke.

Sommige kerke het begin met afskeidseremonies en daar is ook regsfirmas en beraders wat iets soortgelyks aanbied. Maar dis te vervelig vir my.

Persoonlik verkies ek die Japanse toiletseremonie. Die Mantokuji-tempel was eers ’n tradisionele toevlugsoord vir vroue wat hul mans wou los in ’n tyd toe vroue geen regte gehad het nie. Vandag heers die god van toilette, Kawaya no kami, oor ’n wit toilet waarin jy ’n papiertjie afspoel met jou wens of afskeidsboodskap daarop.

Daar was natuurlik gevalle waar iemand die heilige toilet met ’n gewone ene verwar en dit gebruik het!

Maar gelukkig is ’n toilet gemaak om enige soort drol “weg te spoel” – van die ware Jakob tot die een met wie jy getroud was.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Haar nuwe boek, Seks, leuens en die internet (Lapa) is nou landwyd op die rakke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.