Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Toe vermoor ek hom in sy slaap’ en ander slaaptydstories

Sy het ’n versameling slaaptydstories wat genoeg is om ’n mens nagmerries te gee, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Ek dink jy kry twee soorte mense: Saamslapers en alleenslapers. Rondslapers is ’n storie vir ’n ander dag.

Ek het gedink ek is ’n saamslaper, want ek het altyd gedroom oor lepellê met my soulmate. Alleenkind, groot dubbelbed en met eensaamheid as bedmaat, kan dit aan ’n mens doen.

Totdat daar een aand ’n harige wese saam met jou in die bed klim en jy ná ure se rondrol, besef: dalk is saamslaap nie so romanties as wat jy dink nie.

Verskeie verhoudings en saamslaappogings later, het ek ’n versameling slaaptydstories wat genoeg is om ’n mens nagmerries te gee.

Daar was die eksman wat koulik was. Toe ek hom ontmoet het, was hy ’n vurige man in die fleur van sy lewe wat kaalbas en vol idees saam met my in die bed gespring het. Maar ’n paar jaar later het die koudheid en oudheid in sy are kom sit en het hy daarop aangedring om met klere aan te slaap.

Maar nie pajamas nie. O nee. Dit was long johns wat sy lang, maer bene nog langer laat lyk het en ’n langmou-vessie. Dié prentjie is afgerond met ’n wollerige mus. Dus moes ek in die bed klim saam met iemand wat gelyk het soos ’n anoreksiese Klaasvakie.

Daarby het hy ook gesnork, my wurgend toegevou onder sy arms en bene à la My Octupus Husband en daarby was daar altyd ’n pistool onder sy kussing. Maar meer daaroor later.

’n Ander slaapmaat se grootste plesier was om ’n wind te laat en dan die duvet oor my kop te trek en my daar, in die stankwalms, gevange te hou. Ek en die sadistiese slaper se slaappaadjies het gou geskei.

En wat as jul slaapkamergewoontes nie ooreenstem nie? Party mense wil allerhande vreemde goed in die bed doen. Soos koekies eet. Wat krummels laat. Wat my van my kop af maak. Of TV kyk. Daar is vir my niks wat die romanse so laat insluimer soos iemand wat langs jou sit en TV kyk nie.

Party mense knip hul toonnaels in die bed. Ek belowe. Ander rook. In die bed! In die slaapkamer!

Soms slaap ek by my ma oor en sy luister radio regdeur die nag, wat beteken dat my slaap voortdurend onderbreek word deur nuusbulletins en advertensies. En elke keer as daar ’n aaklige liedjie speel, skrik ek wakker, want selfs in my slaap het ek goeie smaak.

Party mense knip hul toonnaels in die bed. Ek belowe. Ander rook. In die bed! In die slaapkamer! Dis dan wanneer ’n mens sommer ’n brandende vuurhoutjie op die gansdonsduvet gooi as die roker in droomland is, uitstap en die deur agter jou toetrek.

Slaapsteurnis kan ’n mens vreemde dinge laat aanvang. Dit kan jou tot waansin dryf . . . en selfs tot moord. Daarom was dit dalk nie ’n goeie idee van my eks om met ’n pistool onder sy kussing te slaap nie.

Daar is verskeie gevalle van mense wat deur hul slaapmaats in hul slaap vermoor is. Oor die dekades heen was daar moordsake waar die verdagtes beweer het dat hulle slaapwandelaars is en nie besef het wat hulle doen nie.

Een man – wat sy jong seuns aangerand en sy vrou vermoor het – het selfs beweer dat hy gedroom het hy jag volstruise. In die meeste gevalle is die slaapwandelaar-slagters wel skuldig bevind.

Jy is my vrou. Ons slaap saam. In dieselfde bed.

Alhoewel daar sekerlik – en met rede – mense is wat hul bedmaats doodwens ná nog ’n slapelose nag, beweer navorsers dat saamslaap goed is vir jou. Dit verlaag stresvlakke en verhoog dopamienvlakke wat jou gelukkiger laat voel. Daarby voel jy veiliger as daar nog ’n asem in die bed is en dit sorg vir groter intimiteit in ’n verhouding.

My ma en pa het vir 60 jaar saamgeslaap – dikwels in die lepelposisie. Soms was my pa se snorkery so erg dat my ma gedreig het om in ’n ander kamer te gaan slaap, maar hy het volstrek geweier.

“Jy is my vrou. Ons slaap saam. In dieselfde bed.”

Hy is hierdie maand vyf jaar dood, maar my ma slaap nog steeds saam met hom. Elke aand sit sy ’n kussing agter haar rug, praat so ’n bietjie met hom en wens hom ’n goeie nagrus toe. Elke aand.

En ek glo vas dat sy gees elke aand tot ruste kom in daardie kussing, agter sy vrou se rug.

Want party mense is saamslaapmense.

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Slaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.