Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Toekoms is in ons hande

Die toekoms is steeds in die hande van ons, die mense van Suid-Afrika, ongeag wie volgende week as die ANC-leier verkies word en dus waarskynlik volgende jaar al Suid-Afrika se nuwe president gaan wees.

Dié van ons wat in die oppergesag van die Grondwet, ’n groeiende ekonomie en in skoon en doeltreffende regering glo, verkies dat dié leier Cyril Ramaphosa sal wees.

Illustrasie: Jaco Grobbelaar

Maar selfs al maak hy en mense aan sy kant van die ANC skoonskip in die ANC se leierskapsverkiesing, gaan die toekoms steeds donker bly as die huidige vlaag van aktivisme deur die burgerlike samelewing nie volgehou en verskerp word nie.

Die stryd teen staatskaping, magsmisbruik en korrupsie was die laaste paar jaar nogal suksesvol. Die waarheid is dat burgerlike aktivisme, saam met ’n onafhanklike regbank, eerder as organe van die staat (met die uitsondering van Thuli Madonsela) meestal daarvoor verantwoordelik was.

Politieke partye in opposisie het darem ook ’n rol gespeel.

Die vraag is of daar inderdaad ’n kritieke massa van burgers gevorm het wat weier om korrupsie en misbruik te aanvaar.

Dié konsep kom uit die fisika: ’n kritieke massa is die minimum splytbare materiaal wat ’n kern-kettingreaksie kan onderhou.

Die toekoms gaan steeds donker bly as die huidige vlaag van aktivisme deur die burgerlike samelewing nie volgehou en verskerp word nie.

In die politiek is dit die minimum aantal invloedryke mense wat sterk genoeg oor iets voel om ’n politieke ideaal te verwesenlik.

Ek dink daar is wel vandag so ’n kritieke massa in Suid-Afrika van mense wat siek en sat is vir Jacob Zuma se wanbestuur en ’n terugkeer na konstitusionalisme en doeltreffende regering eis.

Hulle vorm dalk nie die numeriese meerderheid van die bevolking nie, maar bestaan uit die mees invloedryke mense: die swart professionele klas en elite, sakelui, werkende stedelinge, nasionale en plaaslike vakbondleiers, geestelikes en die meerderheid van die lede van die minderheidsgroepe.

Maar só ’n kritieke massa kan geen kettingreaksie veroorsaak as dit passief en verborge is nie. Dit moet gemobiliseer word en hom sigself laat geld, anders is dit irrelevant.

Daarvoor het ons aktiviste-organisasies wat ons meer geesdriftig moet ondersteun, soos Outa, Save SA, Freedom Under Law, die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Section27, Corruption Watch, GroundUp en ander (ek sluit etniese mobiliseerders uit, want hul rasgerigte aksies is in die breë meestal teenproduktief).

Ramaphosa is nie korrup nie en het ’n realistiese siening van wat in die samelewing en die ekonomie moet gebeur, maar hy is geen ridder op ’n wit perd nie. Sedert sy terugkeer na die politiek in 2012 het hy oor en oor gewys dat pragmatisme en magspolitiek belangriker vir hom as beginsel of waarheid is.

As hy inderdaad ons nuwe president gaan word, sal ons net soveel druk op hom en sy administrasie moet toepas as waaronder Zuma die laaste paar jaar is.

Hy sal ’n klomp sleutelmense moet vervang en heelparty ongewilde besluite moet neem.

As Nkosazana Dlamini-Zuma die verkose leier gaan wees, is dit nie die einde van die wêreld nie, mits ons as burgers die druk op haar tienvoudig eskaleer. Ons kan dit vir haar baie moeilik maak om die Zuma-roete te volg.

Die mense in die ANC wat haar nie goedgesind is nie, veral dié in die parlement, sal baie durf moet toon om daarmee te help. Selfs al klop sy vir Ramaphosa, gaan sy nie die nasionale uitvoerende komitee van die ANC oorheers soos Zuma gedoen het nie.

Gelukkig gaan sy en haar span deeglik besef dat as sy die status quo gaan laat voortleef, gaan die ANC die 2019-verkiesing verloor. Dit behoort haar te help fokus.

Max du Preez

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Suid-Afrika  |  Anc-Leier  |  Mense  |  Verkies  |  Toekoms  |  Nuwe President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.