Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toenterjare se Du Plooys van Soetmelksvlei
Annelie Botes

Klassieke musiek was van my kindsjare af deel van my siel. As ek ’n paar dae oorslaan sonder musiek, pak ’n beklemming my beet.

Ons het op ’n plaas gebly en had nie ’n platespeler nie. Net my pa se valve-draadloos, en dit was sýne. Vir nuustyd, aandstories, kerk luister.

Vakansies, as my pa soggens op die plaas doenig was, het ons “Siembamba” geluister. As daar nie ’n vryery in die aandstorie was nie, kon ons op die mat by die valve-draadloos sit en luister.

My eerste herinnering aan ’n aandstorie is van “Die Du Plooys van Soetmelksvlei”. Van die storie onthou ek niks, maar die kenwysie het my weggevoer na ’n verre wêreld.

Eers toe ek dit op hoërskool oor my transistorradiotjie hoor, het ek ontdek dit kom uit die 18de variasie van Rachmaninoff se “Rapsodie” op ’n tema van Paganini. Dit was asof ek iets teruggevind het wat lank weg was. Tot vandag luister ek daarna op YouTube en verlang met verdriet in my bors na die beskutting van my pa en ma.

As kind was Sondae ’n tyd van melankolie.

As kind was Sondae ’n tyd van melankolie. Dit het smiddae begin as ek my koshuissoetkys pak en hoenderhok toe loop om my Bybelhoenders te groet vir die week. En nie geweet het of Jeremia of Nehemia of Abednego volgende naweek bruingebraai op die Sondagtafel sal lê nie. Maandagoggende moes ek my ma groet, altyd in die vrees dat sy sal doodgaan. Helder kan ek herroep hoe my pa my soms van haar moes wegskeur.

Ons mog nie ons poppe saamneem koshuis toe nie, en Sondae teen skemertyd het ek my Rosa-pop en my Lucie-pop gewas en skoon aangetrek en hulle hare gekam en met hulle op die mat in my ma-hulle se kamer gelê om te sê hulle moet soet wees, ek kom Vrydag weer. Dan sal ek vir elkeen ’n rolletjie Humbugs bring.

Juis daardie tyd van ’n Sondag was dit musiektyd op my pa se valve-draadloos. Dan het ek met ’n poppekind in elke arm, toegedraai in

Vannag het ek besluit ek gaan iemand soek wat Lucie kan heelmaak.

’n flenniekombersie, op die mat gelê en luister en my oë dik gehuil.

Dís waar ek Mozart se “Elvira Madigan” en Verdi se “Groot Mars” uit “Aida” die eerste keer gehoor het. Sonder om te weet wat ek hoor. Ek het net geweet dís die musiek wat die engele in die hemel langs die silwer riviere speel.

Waar ek hier in die middel van die nag sit en rubriek skryf, het ek pas weer “Elvira Madigan” op YouTube geluister en aan’t ween gegaan. Nie oor die goddelike musiek nie, maar oor my pa se valve-draadloos wat in die gryse se waenhuis gemonteer is, maar dit kan nie meer speel nie.

En my gebroke Lucie-pop wat in die waenhuis in ’n boks slaap met ’n somerrokkie aan wat my ma met haar Singer-naaimasjien gestik het.

Vannag het ek besluit ek gaan iemand soek wat Lucie kan heelmaak, sodat sy op my bed kan lê en saamluister na “Die Du Plooys van Soetmelksvlei”.

Oor die naweek wil ek my pa se valve-draadloos afstof en met my voorkop teen die houtkis ’n minuut stilte hou.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Herinnneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.