Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toni Morrison se lesse ook vir SA
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Die Amerikaanse skrywer Toni Morrison is op 5 Augustus oor­lede, ’n paar dae voordat ons in Suid-Afrika Vrouedag gevier het.

Haar invloed as skrywer en feminis was universeel en sy het onder meer die Pulitzerprys vir fiksie in 1988 gewen en die Nobelprys vir letterkunde in 1993, waarmee sy die eerste swart vrouewenner van dié prys geword het.

Morrison word beskou as een van die invloedrykste Amerikaanse skrywers juis omdat sy swart Amerikaners se realiteit in Amerika sentraal plaas.

Sy verweef hierdie realiteit met die geskiedenis van slawerny en trek die geweld van slawerny deur tot in die hede. Spesifiek haar boek Beloved ondersoek die gruwels van slawerny en die impak daarvan op vroue.

Haar skryfwerk was daarop gefokus om te wys dat swart mense ’n eie geskiedenis, taal en erfenis het.

Sy het altyd vanuit ’n interseksionele perspektief gewerk en haarself ’n swart vroueskrywer genoem. Maar sy was nie net ’n vrou of net swart nie.

Vir haar was die bevestiging van haar skryfwerk deur wit mense on­belangrik omdat sy nie vir hul goedkeuring geskryf het nie.

Vir haar was die bevestiging van haar skryfwerk deur wit mense on­belangrik omdat sy nie vir hul goedkeuring geskryf het nie.

Toe iemand haar gevra het hoekom sy nie wit karakters ook sentraal in haar skryfwerk stel nie, het sy geantwoord: “I don’t know why I should be asked to explain your life to you . . .”

Morrison was baie bewus van hoe taal gebruik word en het op ’n manier geskryf wat ’n mens na jou asem kan laat snak – sinsnedes wat vassteek.

Vir haar was onderdrukkende taal nie ’n voorstelling van geweld nie, maar geweld self.

Morrison se letterkunde is juis nou net so relevant as vantevore met die Black Lives Matter-beweging in Amerika, wat daarop dui dat die lewens van swart Amerikaners steeds dieselfde uitdagings het as toe sy haar eerste boek in 1970 gepubliseer het.

Haar skryfwerk is ook van toepassing op Suid-Afrika.

Op 7 Augustus het die polisie in Johannesburg klopjagte op buitelanders uitgevoer omdat hulle daarvan beskuldig word dat hulle handel dryf in onwettige goedere. By die 600 is in hegtenis geneem en talle is glo aangerand.

Dit het verder aanleiding gegee daartoe dat Suid-Afrikaners in groepe rondgegaan en buitelanders lukraak aangerand het. Dít is die belewenis van swart buitelanders in Suid-Afrika – of hulle nou skuldig is of nie.

A dream is just a nightmare with lipstick.

’n Foto van ’n huilende vrou met bloed wat by haar oor uitloop, het my diep getref. Ons kan slegs hierdie vergrype van die staat en Suid-Afrikaanse burgers verstaan as ons die buitelanders se stories sentraal plaas.

Wat vier ons in Vrouemaand as hierdie foto spreek van ’n nagmerrie in die realiteit? Soos Morrison gesê het: “A dream is just a nightmare with lipstick.” Wat het van daardie vrou se drome geword?

Dan is daar die EFF se aanvalle op die media. Hul woorde is geweld. Joernaliste is die mense wat stories skryf, hulle is die woordsmede. Wanneer joernaliste aangeval word, is dit ’n direkte aanval op die ruimte waarin stories vertel word.

In ’n huldiging van Morrison in The New Yorker sê die skrywer dat romans al hoe minder gelees word, selfs Morrison s’n, omdat die digitale wêreld van sinsnedes mense lui maak om te lees.

Wanneer die boeke van Morrison, wat tot ons menswees spreek, nie meer gelees word nie, is die wêreld in die moeilikheid.

Soos Morrison haar uit­gelaat het oor die dood en taal: “We die. That may be the meaning of life. But we do language. That may be the measure of our lives.”

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Toni Morrison  |  Vroue  |  Skrywer  |  Geweld Teen Vroue  |  Boeke  |  Eff  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.