Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tradisie agter dié titels

My vriend Jannie van der Westhuizen vertel waarom die skoolhoof van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch die titel van “rektor” voer, terwyl feitlik alle ander Suid-Afrikaanse skole van die “hoof” of (veral vroeër) “prinsipaal” praat.

Die woord “rektor” kom van die Latynse werkwoord “regere”, wat beteken om te lei of rigting te gee. Dit is ook die bron van die begrip “regering”. Soos byna alle universitêre terminologie kom dit uit die Europese Middeleeue toe Latyn nog die omgangstaal onder geleerdes was.

Tienduisende taamlik verwarde jong mense sluit in dié tyd by ons universiteite aan. Ongelukkig gaan die meeste van hul klasse vanjaar aanlyn aangebied word, maar hulle gaan tog daagliks kennis maak met nuwe begrippe soos “fakulteite”, “dekane” en “professore”. Hulle behoort te weet waar hierdie nuwe wêreld met sy eie begrippe vandaan kom as hulle uiteindelik daar wil tuis voel.

Hegte bande

Daar is verskeie aanspraakmakers op die titel van die wêreld se oudste universiteit, soos Al-Karaouine in die Marokkaanse Fès en Al Azhar in Kaïro, maar dié instellings was eerder gevorderde madrassas (Koran-kolleges). Die moderne Westerse universiteit het sy oorsprong gehad in Bologna in Noordoos-Italië in die vroeë 12de eeu n.C. Kort daarna het hoër onderwysinstellings in Frank­ryk gevolg, soos Montpellier in die suide en veral Parys met die beroemde Sorbonne in 1253. Ietwat later het Oxford en Cambridge in Engeland gevolg. In Sentraal-Europa was Praag die eerste in 1348 en kort daarna Heidelberg in Duitsland in 1386.

Om historiese redes is die Nederlandse en Skotse universiteite belangrik vir ons. Die Universiteit Stellenbosch het byvoorbeeld nou nog noue bande met die Universiteit Leuven in Vlaandere (België), wat reeds in 1425 gestig is. Weens ’n gemeenskaplike Calvinistiese erfenis was die ou Skotse universiteite soos St Andrews (1413) en Aberdeen (1495) in die 19de eeu gewilde studieplekke vir Afrikaanssprekende mediese en teologiese studente. Ook Afrikaanse regstudente is soontoe vanweë die verwantskap tussen die Skotse en die Suid-Afrikaanse reg.

Dekane en fakulteite

Hierdie eerste Europese universiteite se strukture was gegrond op die model van die kloosters en die lewe van die monnike, met die gevolg dat baie van die universitêre benamings wat ons nog gebruik, van kerklike oorsprong is. Tipies is ampstitels soos kanselier, rektor en dekaan. Die kanselier was (en is) die simboliese beskermheer van die instelling, gewoonlik uit die geledere van die betrokke regerende koninklike of adellike familie. So byvoorbeeld is prinses Anne van Brittanje nou nog die kanselier van sowel die Universiteit van Londen as van die Universiteit van Edinburg, terwyl haar pa, prins Philip, tot 2011 die kanselier van Cambridge was.

Die binnehof van die Sorbonne-Universiteit in Parys, Frankryk, wat van 1253 dateer.Foto: ISTOCK

Ingewikkeld raak dit aan Suid-Afrikaanse universiteite soos Stellenbosch waar die uitvoerende hoof die dubbele titel van “rektor en visekanselier” voer. Dit is die gevolg van die twee tradisies waaruit ons universiteitswese ontstaan het. Op die Europese vasteland staan dié persoon bekend as die recteur (Frankryk), Rektor (Duitsland), rettore (Italië) of rector (Nederland). In Engeland word hy eerder gesien as die tweede in die hiërargie ná die kanselier: daarom die visekanselier. Maar om duidelik te maak dat die persoon ook ’n werklike uitvoerende funksie het, word dan bygevoeg “and principal” (of onder Amerikaanse invloed deesdae ook by sommige instellings “and president”). In Skotland word deurgaans na ’n “principal” verwys.

’n Dekaan is die hoof van ’n fakulteit, albei woorde van Latynse oorsprong. “Dekaan” kom van die woord vir tien (decem), oorspronklik uit die Romeinse leër vir die aanvoerder van ’n groep van tien soldate. Die term is oorgeneem deur die Middeleeuse kloosters vir die leier van tien monnike. “Fakulteit” het ’n interessante betekenisverskuiwing beleef. In Klassieke Latyn beteken die woord “vermoë” of ’n “geleentheid”. In Middeleeuse Latyn is dit in Bologna gebruik om die vier vakgroepe aan die Universiteit te beskryf omdat dié groepe gesien is as ’n versameling van intellektuele vermoëns (oftewel kennis). Aan Middeleeuse universiteite was die vier fakulteite lettere en wysbegeerte (filosofie), teologie, regte en geneeskunde (medies). Deur ou Frans het faculté deel van die internasionale akademiese taal geword, hoewel die Amerikaners dit misbruik om die personeel eerder as die afdeling te beskryf. ’n Professor is iemand wat “profiteor”, dit wil sê kennis voordra.

Staat en universiteit

Selfbestuur volgens die voorbeeld van die kloosters was ook van die begin af ’n kenmerk en Middeleeuse universiteite was in baie opsigte staatjies binne die staat met allerlei voorregte en selfs hul eie howe.

In die Angel-Saksiese wêreld het hierdie tradisie van universitêre outonomie behoue gebly. Op die Europese vasteland het die sentralisme van Napoleon egter daartoe gelei dat universiteite sedert die vroeë 19de eeu bloot as afdelings van die staat behandel is. Kyk ’n mens na waar die huidige leidende universiteite is – die Oxfords, Harvards en Princetons – kan daar min twyfel wees dat die Britse en Amerikaanse tradisie die universiteitswese beter gedien het as die versmorende omhelsing van die Napoleontiese staat.

Daarom is die huidige neiging wêreldwyd om van die sentralistiese model van hoër onderwys weg te beweeg. Ook in Duitsland en Italië word nou van universiteite verwag om as onafhanklike regspersone hul eie strategiese rigting te bepaal en hul eie finansies te bestuur. Dat dit vrugte afwerp, word bewys deur die steeds hoër aansien van hedendaagse Nederlandse en Switserse instellings soos Delft, Leiden en Zürich. Hoe dinge onder die wakende oog van die Kommunistiese Party in China gaan ontwikkel, sal ’n mens moet sien. Beijing stort geweldig baie geld in hoër onderwys, maar dit is twyfelagtig of die wetenskap werklik sonder vryheid kan gedy.

Unisa, nie Ikeys nie

In Suid-Afrika het ons gelukkig die Britse model geërf. Dit het beteken dat die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop in 1873 as selfbesturende regspersoon opgerig is deur ’n afsonderlike wet van die Kaapse parlement. Dié instelling was bloot ’n eksaminerende liggaam vir die twee onderriggewende kolleges in Stellenbosch (die Victoria-kollege) en Kaapstad (die South African College).

Sy opvolger was die Universiteit van Suid-Afrika, en nie die Universiteit van Kaapstad nie, soos die Ikeys dikwels beweer.

Andreas van Wyk

Sowel die Universiteit van Kaapstad as die Universiteit van Stellenbosch het op dieselfde dag, 2 April 1918, tot stand gekom ingevolge twee individuele wette van die Suid-Afrikaanse parlement.

’n Derde wet wat dié dag in werking getree het, het die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop herdoop tot die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), wat dieselfde eksaminerende funksie as sy voorganger gehad het. Onder die wakende oog van Unisa het vele kolleges tot selfstandige eksaminerende en graadgewende universiteite ontwikkel, soos die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) tot die Universiteit van Pretoria, wat nou nog die bynaam Tukkies dra.

Al die latere Suid-Afrikaanse universiteite is deur so ’n eie wet van die parlement tot stand gebring. Die vroeëre technikons, bedoel as toegepaste opleidingsinstansies op die na-sekondêre vlak, is daarenteen van die begin af opgerig deur ’n ministeriële besluit ingevolge ’n algemene parlementêre wet.

Staatsinmenging

In verskeie ondersoeke oor die induiestorting van die eens goeie universiteite in Afrika noord van Suid-Afrika het liggame soos die Wêreldbank owerheidsinmenging en pogings om universiteite vanuit ministeriële kantore te bestuur as die hoofprobleme geïdentifiseer.

Ten spyte hiervan kon ook ons ANC-regering, veral onder wyle minister Kader Asmal, nie die versoeking weerstaan om die outonomie van ons universiteite toenemend te beperk nie.

Sterk simbolies was die herroeping van al die universiteite se individuele wette en hul vervanging deur ’n enkele Wet op Hoër Onderwys (WHO) in 1997, wat die nasionale minister van onderwys in staat stel om universiteite te stig, te sluit en saam te smelt, iets wat vantevore net deur die parlement gedoen kon word.

Weliswaar kan elke universiteit nog deur ’n eie huishoudelike statuut die besonderhede van sy interne bestuur individueel reël, maar slegs binne die raamwerk van die WHO en onderworpe aan ministeriële goedkeuring.

Ons universiteite, veral die ou gevestigde inrigtings in die Wes-Kaap en Gauteng, is as strategiese bates van onskatbare waarde vir ons land. Hulle lewer kundige mense en ook kennis waarsonder ons nie uit ons huidige laagtepunt sal kan kom nie. Hulle moet beskerm en ondersteun word om ons land nog vir baie eeue (met hul Middeleeuse tradisies en al) te dien.

  • Van Wyk is ’n voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch en emeritusprofessor in handelsreg.
Meer oor:  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.