Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Transformasie is ’n leefwyse, nie ’n oomblik

Daar is vir ons almal lesse te leer uit die situasie rakende die “matriekafskeid” van die Hoërskool Brackenfell. Dit het my onwillekeurig laat dink aan my matriekafskeid lank gelede. Soos vanjaar se matrieks het ons ’n moeilike jaar gehad. Dit was die jaar van die jeugopstande. Ons was bevoorreg om ’n afskeid te kry. Al was dit in die koshuissaal sonder enige swier, duur motors en uitspattige uitrustings, was dit ’n aand om te onthou.

Weens Covid-19 het die Hoërskool Brackenfell nie ’n amptelike matriekafskeid gehad nie. Ouers het self ’n geselligheid gereël. Of swart leerlinge genooi is of net weggebly het, is onseker. Wat ons weet, is dat net wit leerlinge teenwoordig was. Dit was die vonk in die EFF-kruitvat. Dit is enigeen se demokratiese reg om beswaar aan te teken teen rassisme, maar hóé die EFF dit gedoen het, ontstel. Om te betoog terwyl matrieks hul eindeksamen skryf, getuig van oneerbiedigheid teenoor leerlinge wat ’n baie moeilike jaar beleef het.

Dit blyk ook dat leerlinge vroeër gevalle van vermeende rassisme onder die skoolbestuur se aandag gebring het. Volgens die skool sou hy die saak ondersoek en ’n diversiteitskomitee stig, maar Covid-19 het dié plan gekortwiek.

Een van die belangrikste toetse vir leierskap is om ’n probleem raak te sien voordat dit in ’n krisis ontaard.

Die skoolbeheerliggaam en die Wes-Kaapse departement van onderwys was vinnig om hul hande in onskuld te was deur te sê die partytjie het sonder hul medewete plaasgevind. Dit mag so wees, maar Arnold Glasgow het gesê: “Een van die belangrikste toetse vir leierskap is om ’n probleem raak te sien voordat dit in ’n krisis ontaard.” Die skool het die kans gehad om iets te doen toe leerlinge hom daaroor ingelig het. Deur die probleem te ignoreer, het dit gelei tot ’n krisis.

Die onderwysdepartement is ook nie onskuldig nie. Luidens berigte is daar talle skole met soortgelyke probleme. En ek praat nou van alle skole. Skoolhoofde moet hulself afvra: Hoeveel vroue dien in die senior personeel? Is die personeelkorps verteenwoordigend van alle rasse? Het die skool interaksie (byvoorbeeld deur sport) met skole van ’n ander kulturele agtergrond? Word ander sportsoorte (soos sokker) geïgnoreer, selfs al is daar swart leerlinge in die skool? Owerhede behoort leiding te gee pleks van hulself te verontskuldig.

Die gebeure beklemtoon opnuut dat Suid-Afrika grondige transformasie benodig en dit sluit die onderwysstelsel in. Transformasie is nie ’n enkele daad of ’n paar individue wat die regte geluide maak nie. Dis ’n nuwe leefwyse wat voortdurend in pas met die Suid-Afrikaanse konteks gebring moet word. Elke skool het ’n komitee nodig wat as waghond kan dien om die skoolbestuurspan op sy tone te hou.

Die toekoms gaan (en moet) anders lyk as vandag. Verandering gebeur nie deur op ander te wag of om dit uit te stel nie. Verandering begin by onsself.

  • Prof Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Eff  |  Matriekafskeid  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.