Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Transformasie vra besonderse, dapper mense

Suid-Afrika is ’n land wat op alle lewensterreine op ’n moeisame en opwindende reis van transformasie is.

Dis ’n reis van vyandskap na vriendskap; van vervreemding na versoening; van geskeidenheid na eenheid; van verwydering na saamwees; van onreg na geregtigheid; van uitsluiting na insluiting; van verontmensliking na menswaardigheid; van verknegting na vryheid; van ongelykheid na gelykwaardigheid; van ’n land op die pad van geweld en krepering na ’n land van vrede en florering.

Hierdie moeisame transformasiepad benodig besonderse, dapper mense. Dit vra vir mense wat die risiko loop om vorige vervreemdes te vertrou en saam met hulle vorentoe te gaan. Dit vra vir mense wat met gesonde agterdog oplet vir die oue wat in ons skuilgaan, en dit met deernis uitwys aan mekaar.

Transformasie vra van histories benadeeldes die dapperheid om die tegniese kundigheid van histories bevoordeeldes te betrek in belang van ons gesamentlike toekoms. Dit vra tegelyk van histories bevoordeeldes om hul tegniese kundigheid met nederigheid en sonder die geringste sweempie van arrogansie en meerderwaardigheid te deel.

Transformasie het mense nodig met die deernisvolle hart van ’n priester en die skerp tong van ’n profeet.

Transformasie het mense nodig met die deernisvolle hart van ’n priester en die skerp tong van ’n profeet. Mense wat dus die kwaad in jouself, in ander en in ons samelewing met profetiese moed ontmasker, en wat tegelyk deernisvol omgaan met mekaar ter wille van ons almal se uiteindelike heil.

Transformasie drink uit die bydraes van die aktiviste vir geregtigheid in ons samelewing; dit word gevoed deur sovele mense se deurlopende, minder sigbare bemiddeling en fasilitering, onderhandelinge en oortuigingswerk, protes en ingryping vir geregtigheid.

Godsdienstige en nie-godsdienstige lewensbeskoulike tradisies verkondig die potensiaal van mense en samelewings om te verander en te vernuwe.

Die Christelike tradisie verkondig die omvorming van mense en instellings deur metanoia (Romeine 12: 1 en 2), oftewel die verandering en vernuwing van ons denke.

Ware transformasie vind plaas waar ons denke verander, waar ons met ’n nuwe logika leef, ’n nuwe manier van dink, kyk, aandag skenk, beoordeel, besluit, praat en handel.

Hierdie nuwe logika verseker dat transformasie diepgaande is, dat nie net strukture en stelsels verander nie, maar ook die onderbewuste diskriminerende voorveronderstellinge en vooroordele waarmee ons leef.

Dapper mense, mense wat waag om mekaar te vertrou en te vermaan, mense wat mekaar help, mense met profetiese kritiek en priesterlike deernis, mense wat agiteer en fasiliteer vir geregtigheid, mense met nuwe denke is onontbeerlik vir heilsame transformasie.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Dapperheid  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.