Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Transformeer dan ook hiér

Ongelykheid wat breedweg die land se demografiese samestelling volg, is die bron van die meeste woede in ons gemeenskap en die primêre bedreiging vir ons stabiliteit, veral weens die aard van ons geskiedenis.

Max du Preez

Daaroor gaan die meeste van ons dalk saamstem.

Maar ek begin al hoe meer van die breë konsensus in Suid-Afrika verskil oor wat ons moet doen om ’n meer egalitêre gemeenskap te bewerkstellig.

My gedagtes hieroor is verder deur gebeure die laaste paar weke gestimuleer. Kom ek gee ’n paar voorbeelde.

  • Die Groot Kei-munisipaliteit is ná jare se wanadministrasie en korrupsie bankrot. Die munisipaliteit het sy werkers, omtrent almal swart, twee maande laas betaal, wat tot groot swaarkry lei.

Maar die verkose raadslede het seker gemaak dat húlle betaal is. In die laaste verkiesing het die ANC ’n meerderheid van 71% in Groot Kei behaal.

  • Die SAL het die regering altesame R21,7 miljard gevra om dié bankrot staatsonderneming te red.

Ek sou raai dat 90% van die bevolking tot op hede nog nooit van dié staatslugdiens gebruik gemaak nie.

Ethiopian Airlines, wat vergeleke met die SAL se 7,1 miljoen passasiers 6,9 miljoen passasiers per jaar vervoer, het verlede jaar ’n wins van R4 miljard gemaak.

  • Grondloosheid is die drywer van swart armoede, sê die ANC. Maar die laaste paar jaar het die staat veel meer aan die skema om ’n handjievol swart nyweraars te vestig as aan grondhervorming bestee. Die staat bestee ook meer aan BBP-beveiliging as aan grondhervorming.
  • Min. Nomvula Mokonyane het ses maande gelede ’n motor van R1,1 miljoen vir haar laat aankoop. Gister lees ek dié luukse Audi staan vandag nog in ’n parkeergarage en is nog nooit gebruik nie.
  • ’n Studie van die Wêreldgesondheidsorganisasie het pas bevind dat Suid-Afrika se gesondheidstrukture na aan die swakste ter wêreld is – 175ste uit 190 lande.

Maar pleks van dít regstel, kom die minister van gesondheid met ’n plan wat glo rondom R500 miljard sal kos en volgens die meeste ontleders totaal onwerkbaar is.

Die antwoord op ongelykheid en armoede is radikale ekonomiese transformasie – mits dit beteken die drie vlakke van regering en staatsondernemings word ook radikaal getransformeer.

Pres. Cyril Ramaphosa het die naweek gesê dié plan vir nasionale gesondheidsversekering gáán in werking gestel word, of mense nou daarvan hou of nie.

  • Terwyl ons sogenaamde model C-skole in ons woonbuurte nog uitstekende onderwys aan jong mense bied, is skole in townships en in die diep platteland van die vrotste ter wêreld – dit is al byna twee dekades lank die geval.

Dit beteken wit kinders en ander uit middelklasgesinne het ’n reuse- voorsprong bo arm swart kinders, ’n voorsprong wat in die meeste gevalle vir die res van hul lewe gaan geld.

Onderwys het die fabriek van ongelykheid geword.

  • En dan is daar Eskom wat volgens sy eie onlangse verklaring ’n skuldlas van R376 miljard het. Dit nadat dié staatsonderneming kwalik ’n dekade gelede nog skuldvry was.

Min. Pravin Gordhan het onlangs gesê hy raam dat sowat R100 miljard se staatsgeld die afgelope dekade gesteel of blatant vermors is. ’n Mens sou kon raam dat minstens R1 000 miljard die afgelope 20 jaar gesteel of blatant vermors is.

Dit is baie, baie meer as die welvaartbelasting op wit sakelui wat prof. Sampie Terreblanche in 1996 voorgestel het om die agterstande van die verlede reg te stel, ’n plan waarmee ek persoonlik saamgestem het en deur die ANC, die SAKP en Cosatu geloof is.

Die antwoord op ongelykheid en armoede is radikale ekonomiese transformasie – mits dit beteken die drie vlakke van regering en staatsondernemings word radikaal getransformeer om elke sent belastinggeld aan ontwikkeling te bestee, doeltreffendheid en produktiwiteit word radikaal opgeskerp, en korrupsie word uitgeroei.

Meer oor:  Ongelykheid  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.