Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trap vir oulaas ligvoets oor die jaar se stekels

Die feestyd voel stiller, meer gedemp as verlede jaar. Dieselfde Kersliedjies wat gewoonlik in Desember in die winkels speel, blêr op die agtergrond, maar die versierings is minder uitspattig.

En met menige beursies platter, het Swart Vrydag ook nie dieselfde koop-histerie as verlede jaar opgejaag nie. Die meeste mense is maar versigtig oor die risiko wat Covid-19 inhou en besluit om eerder die vakansie by die huis te bly.

Maar dit is steeds Kerstyd in Johannesburg. Daar is ’n koor van pers agapanteen krismis­rose wat bloei in die tuin en ná die goeie reën skiet selfs die kakiebos op die sypaadjie die hoogtes in.

Dit was ’n moeilike jaar.

Ek onthou hoe restaurante geantwoord het op die roepstem en hul deure gesluit het. Sonder om te weet wat werklik gevra en wat opgeoffer sou word.

Dit is later opgevolg deur die stoel-protes in die strate, ’n poging om die bloeding van werkverliese te keer, maar menige ondernemings het in dié slag omgekom.

Esté Gross

In Melville se bekende Sewende Straat is daar “Ons is gou weer terug”- bordjies wat nooit weer omgedraai is nie. Ek loop met die straat af en kry vir my ’n wegneemkoffie by die bakkery en sê aan die eienaar ek is dankbaar dat hy nog hier is. Hy frons, sug en sê versigtig: “Kom ons hoop die ergste is verby.”

In Vierde Straat staan ek stil by twee straatsmouse se rietmandjies en -matte en ons begin gesels. Winnie en Vuyo kom van Swaziland en hulle hoop om genoeg geld te maak voordat hulle vir Kersfees huis toe gaan. Vuyo dra ’n helderpienk romp en sit op ’n krat, terwyl Winnie gebuk staan met haar voete op ’n halfvoltooide mat. Om als in plek te hou, moet sy die vorm stewig plat trap. Die struktuur word bymekaargehou met lang, skerp, silwer naalde terwyl sy die string gevlegte riet inmekaarsteek.

Ek ys in die stilligheid vir haar voete tussen die naalde wat soos ystervarkpenne dreig, maar Winnie kén haar voetwerk. En toe ek weer sien, werk sy die voltooide sirkel met gare aanmekaar.

Miskien is ons almal ’n bietjie uitgeput ná die jaar se gedans op ’n stekelrige mat.

Miskien is ons almal ’n bietjie uitgeput ná die jaar se gedans op ’n stekelrige mat. En is ons ontnugter deur hoe wreed én barmhartig ’n enkele jaar op die aarde kan wees.

Ons het geleer van verlies en om versigtig te wees terwyl ons aan ’n nuwe toekoms weef.

Ek groet Winnie en Vuyo en keer huiswaarts. Later die aand sien ek ’n man voor my huis in die straat met ligballonne oor sy skouer loop. En ek koop een, want ek het nodig om na iets gelukkigs te kyk.

As dit donker is, moet jy doelbewus lig soek, dis al hoe jy kan sien dat jy in die jaar ook genadiglik ’n paar penne gesystap het en dat die mat waarop jy staan, eintlik nog baie mooi in hom het.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Menings  |  Esté Gross  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.