Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geestelike Waardes
Tree die kinders van die duisternis dan slimmer op?

‘Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.”

Die Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr gebruik hierdie woorde uit Lukas 16:8 as motto tot sy boek: The Children of Light and the Children of Darkness: A Vindication of Democracy and a Critique of its Traditional Defense (1944).

Niebuhr – wat dikwels as Amerika se mees invloedryke teoloog van die 20ste eeu beskryf word – is ook bekend vir hierdie gebed: “God, give me grace to accept with serenity the things that cannot be changed, / Courage to change the things which should be changed, / and wisdom to distinguish the one from the other.”

In sy The Children of Light and the Children of Darkness verwys “die kinders van die lig” na diegene (of lewenshouding) wat glo dat eiebelang deur hoër morele ideale en waardes getemper kan word.

Die “kinders van die lig” is weliswaar die bouers van demokratiese samelewings, maar die gevaar bestaan vir Niebuhr dat hulle te optimisties oor ons menslike aard is. Hulle is nie realisties genoeg oor hoe die soeke na eiebelang en mag die samelewing, en eintlik ook hul eie lewe, stempel nie.

Hierdie naïwiteit maak dat “die kinders van die lig” op sosiale, ekonomiese en politieke vlak nie bestand blyk te wees teen diegene wat Niebuhr die “kinders van die duisternis” noem nie.

Laasgenoemde verstaan iets van die krag van die soeke na eiebelang en staan skepties ten opsigte van enige hoër morele wet as die wil-tot-mag. En is daarom skynbaar meer wys (of geslepe) in die politieke spel. Vir hom is dit daarom belangrik dat ’n demokratiese stelsel realisties oor menslike selfsug, hebsug en heerssug moet wees en dit in toom moet probeer hou.

Dit is in hierdie konteks dat hy dan een van sy mees aangehaalde stellings maak: “Man’s capacity for justice makes democracy possible, but man’s inclination for injustice makes democracy necessary.”

Jy kan seker tereg vra of Niebuhr se sieninge (wat dikwels met die term “Christelike realisme” beskryf word) nie ’n meer radikale Christelike visie vir die politieke lewe afwater nie. Maar tog voel ’n mens aan dat Niebuhr met ’n belangrike saak worstel wat steeds vir ons relevant is.

As Niebuhr vandag geleef het, sou hy waarskynlik ook in ons era van toenemende politieke frustrasie en populisme vir groter realisme ten opsigte van die werkinge van eiebelang, mag en menslike sondigheid gepleit het. En heel moontlik steeds in sy gebede – soos destyds – vir kalmte van gees, moed en wys­heid gevra het. – RRV

Meer oor:  Godsdiens  |  Menings  |  Geestelike Waardes  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.