Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tree op of land word gyselaar van EFF

Ferm optrede teen die EFF is nóú nodig anders sal dié party die land as gyselaar aanhou, skryf Christi van der Westhuizen.

EFF-lede konfronteer polisielede tydens ’n betoging voor ’n winkel van Clicks verlede week in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die EFF het verlede week sy fascistiese politiek van boewery verder uitgebrei en verfyn, en sommer in die proses ’n hupstoot vir sy patronaat-netwerk gekry soos groot maatskappye skrik en by dié party se eise inval.

Die land loop die gevaar om deur ’n tien-persent-party as gyselaar aangehou te word as daar nie nou ferm opgetree word nie.

Rassisme is ’n voortdurende probleem in Suid-Afrika en die res van die wêreld. Noudat die EFF hulself aangestel het as die waghond-party wat teen rassisme optree, is dit net ’n geval van rondhang en iets sal wel iewers opduik. Sosiale media dien as ’n vergrootglas waarmee gevalle uitgesnuffel kan word, en ook as platform van waar troepe ekonomies-uitgesluite, ontgogelde jeugdiges opgeroep kan word om die EFF se vuilwerk te doen.

Om geweld te verskoon, is om dit as ’n politieke praktyk aanvaarbaar te maak. So word Suid-Afrika al meer ’n gyselaar van die EFF se magsaspirasies.

Mense gekant teen rassisme het wêreldwyd ’n kritieke massa bereik, daarom kan gevalle van rassisme nie meer soos in die verlede genormaliseer word nie. Eweneens word strukturele rassisme in die vorm van ongelykhede en institusionele uitsluiting ook nou doeltreffender toegetakel.

Dit is ’n belangrike deurbraak dat die stryd teen rassisme tot op dié punt gevorder het. Uit hierdie historiese beweging slaan die EFF nou munt met hul opportunistiese rassepolitiek.

Sommige Suid-Afrikaners se reaksie is dat die EFF se geweld by Clicks-winkels verstaanbaar is, gegewe hoe erg rassisme is. Dit is ’n naïewe standpunt wat miskyk hoe instrumentalisties die EFF die probleem van rassisme tot sy eie voordeel aanwend.

Om geweld te verskoon, is om dit as ’n politieke praktyk aanvaarbaar te maak. So word Suid-Afrika al meer ’n gyselaar van die EFF se magsaspirasies. Terwyl groot maatskappye ooreenkomste met die party aangaan om hul winkels sonder verdere vandalisme te kan heropen, wag gewone burgers om veilig hul medisyne by Clicks-apteke te kan afhaal.

Parlement móét Malema ondersoek

Polisielede bewaar die orde voor ’n winkel van Clicks in Kaapstad terwyl EFF-lede betoog. Foto: Jaco Marais

Hoewel dit lyk asof dit meestal privaat veiligheidsdienste is wat die fort moes probeer hou soos honderde kansvatters en ledige jeugdiges geklee in rooi landwyd op winkelsentrums toegesak het, het die polisie darem ’n klompie mense by die winkels in hegtenis geneem.

Dit is hoog tyd dat die polisie optree, gegewe dat die EFF sedert Maart 2018 by minstens 11 gevalle van ernstige geweld betrokke was waarvan slegs ’n klein minderheid tot regstappe gelei het, aldus die joernalis Ferial Jaffajee.

In die lig hiervan wonder ’n mens waarom klagte teen die EFF-parlementslid Kenny Motsamai teruggetrek is. Hy het na bewering ’n polisielid tydens ’n aanval op ’n winkel in Evaton naby Sedibeng verlede week aangerand.

Die owerhede vaar tot dusver nie goed in hul reaksie op die EFF nie. Benewens die korrupsie-ondersoeke teen leiersfigure wat net nie op die been kom nie, het die Menseregtekommissie se bevinding nie sin gemaak dat ’n oproep tot slagting van wit mense nié haatspraak is as die slagting tot later “uitgestel” word nie, soos EFF-leier Julius Malema dit slinks uitgedruk het.

Die parlement het ’n plig om ondersoek in te stel na alle LP’s wat betrokke was by verlede week se nasionale poging tot afpersing ter wille van politieke en geldelike gewin vir die EFF.

Druk moet op die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Hoofstuk-Nege-instellings kom om alle beweerde oortredings van die EFF-leiers en hul ondersteuners met erns op te volg en tot in die kleinste besonderhede en die gees van die wet af te handel. Dit is een van die talle toetse waarvoor die land se verswakte instellings nou te staan kom.

Die parlement het ’n plig om ondersoek in te stel na alle LP’s wat betrokke was by verlede week se nasionale poging tot afpersing ter wille van politieke en geldelike gewin vir die EFF.

Veral na Malema wat via Twitter sy 3,2 miljoen volgelinge opdrag gegee het om Clicks te “attack”.

Prof. Adam Habib, Wits-rektor wat ongelukkig die land binnekort vir ’n hoë pos in Brittanje verlaat, is doodreg wanneer hy die EFF vergelyk met ’n plaaslike bende of ’n Mafia-organisasie wat deur intimidasie en geweld hulpbronne bekom.

Niks feministies hieraan

’n Winkel van Clicks in Kaapstad wat verlede week gesluit is weens EFF-betogings. Foto: Reuters

Die EFF het vir geselekteerde vroulike ondersteuners beurse en sanitêre doeke by Clicks beding.

Dit kan voorkom as ’n feministiese stap, maar die EFF speel dié politiek ook berekend. Die beurse en doekies dien as ’n soort afbetaling vir getroue vroue wat hulle by EFF-mans skaar, ongeag wat laasgenoemde doen. Terselfdertyd het die EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi aanvanklik die manlike ondersteuners verdedig wat die vroulike TV-verslaggewer Nobesuthu Hejana verlede week rondgestamp het.

Die beurse en doekies is soortgelyk aan die “beskermingsgeld” wat Mafia-bendes by besighede eis. Vodacom het glo ook verlede jaar ’n ooreenkoms met die EFF aangegaan wat hulpbronne behels het. Die “beskerming” ter sake is eintlik om jou eiendom en lewe te beskerm teen die einste persone aan wie jy die geld oorbetaal.

Intussen het ’n klomp ander groothandelaars sommer net ingestem om op die EFF se aandrang ook die betrokke haarproduk waaroor die rasseherrie ontplof het, van hul rakke te verwyder.

Op dié manier word maatskappye goedsmoeds meelopers van ’n politiek wat tans net so ’n groot gevaar as die ekonomiese krisis vir Suid-Afrika se voortbestaan as ’n demokrasie inhou.

Christi van der Westhuizen

Middelklas- en kapitalistiese elites met liberale neigings sukkel nog altyd met hoe om fasciste te hanteer. Om net in te val by die eise, is ’n oorwinning vir die EFF, en sal hul politieke benadering net versterk.

Terselfdertyd moet Suid-Afrikaners se reaksie oorwoë wees. Die EFF toets en toets om te sien hoe ver ander Suid-Afrikaners hulle sal toelaat om te gaan. Terselfdertyd toets hulle ook hoe ver gewone Suid-Afrikaners gedruk kan word voordat hulle hulself ook tot geweld wend.

’n Vuurwapen is by ’n winkelsentrum in Kempton Park afgevuur in die stoeiery tussen EFF-ondersteuners, veiligheidswagte en polisielede. In Port Elizabeth het ’n vroulike kliënt ’n pistool uitgepluk te midde van EFF-ondersteuners se krete dat sy “na Europa moet terugkeer”.

Hierdie soort reaksie is vet op die EFF se vuur. Dit is nie net wit rassiste wat van ’n rasseoorlog droom nie.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.