“Gooi net ’n tantrum, dan dans almal na jou pype.” Dit was die “raad” van ’n komediant in een van sy vertonings. Hy is reg. Dit werk vir baie mense. As moeilike familielede of kollegas uitbarstings het, probeer almal kliphard om hulle tevrede te hou. As moeilike lidmate uit die kerk bedank, storm al wat ’n kerklike is agterna om hulle te paai.
Hoekom akkommodeer ons sulke goor gedrag? Spreuke sê ons moet katvoet loop vir dwase. Hulle is nie leerbaar nie. Ons moet duidelike grense trek. Ons laat hulle verstaan hul gedrag is onaanvaarbaar. Daar is nie ’n ander stel beginsels of reëls vir hulle as vir ons nie. Ons roep hulle daarom reguit op tot dieselfde standaard as dié waarvolgens ons almal moet leef – Christus s’n, naamlik om God en ander mense lief te hê en te respekteer.