Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Trek nóú streep in sand
Pres. jacob Zuma vroeër in ’n ligte luim.

Soos die befaamde graffiti op ’n muur in Auckland Park in die stormagtige laat 1980’s dit gestel het – Hezekiël 10 vers 4: Die Vader weet, só kan dit nie aangaan nie.

Die burgers van Suid-Afrika sien die president nou as verhewe bo die reg.

Dit verswak die hart van ons Grondwet, die oppergesag van die reg, dit versterk die kultuur van ontoerekenbaarheid en ondermyn die legitimiteit van die staat.

Die regerende ANC is aandadig daaraan. As die regbank self niks daaraan kan of wil doen nie, weet ons die ANC kan wel.

Jacob Zuma is deur die ANC se leierskorps as president ontplooi en hulle kan nie nou hul hande in onskuld was nie.

Die appèlhof se beslissing verlede week dat strafregtelike aanklagte teen Zuma heringestel moet word, is gelate met ’n oorweldigende “ag, ons weet mos hy gaan daarmee wegkom” deur die breë publiek begroet.

Die ironie is natuurlik dat ­Zuma dalk aan baie, baie erger misdade skuldig is as die paar miljoen rand wat by sy verhouding met die veroordeelde misdadiger Schabir Shaik betrokke is.

Ons beraam korrupsie in Suid-Afrika deesdae in miljarde, lankal nie meer miljoene nie.

Kom ons onthou dat Shaik al in Oktober 2004 weens sy aandeel in die korrupte verhouding met ­Zuma in die hof verskyn het.

In April 2009 het Mokotedi Mpshe, toe waarnemende hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die aanklagte teen ­Zuma teruggetrek, ’n besluit wat nou deur twee howe as ongegrond verwerp is.

Die Vader weet, só kan dit nie aangaan nie.

Zuma ontglip die reg dus al meer as ’n dekade lank. Ja, dit is so dat ander mense met onbeperkte bronne vir regskoste (in Zuma se geval, ons belastinggeld) ook dié sogenaamde Stalingrad-speletjie met die reg kan speel, maar dié man kry dit net reg en langer reg omdat hy politieke mag het.

Ons almal sien dié vergrype voor ons oë afspeel, maar ons kan maar net magteloos toekyk. Die naweek moes ons lees dat die saak dalk nog vier jaar of meer kan sloer as Zuma, sy regspan en die NVG se plannetjies uitwerk.

Ons durf dit nie toelaat nie. Die onbesproke status van ons regbank en ons howe wat goed funksioneer, is byna al wat tussen ons en anargie staan. Ons kan dit nie bekostig dat één man ’n middelvinger aan dié instelling wys en daarmee wegkom nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy broers en susters op die bank in al die hoër howe moet dit ook besef.

Dis met húlle wat die president kat en muis speel; dis húl geloofwaardigheid waarop hy trap.

Daar is sterk prima facie-getuienis dat Zuma ’n korrupte verhouding met Shaik gehad het – drie hoër howe het die essensie van dié getuienis al aanvaar.

Zuma hou sy lyf nou Grace ­Mugabe, wat ’n burger van Suid-Afrika in Suid-Afrika wreed aangerand en daarmee weggekom het. Maar Zuma het geen immuniteit van enige aard nie en Suid-Afrika is nie Zimbabwe nie.

Die burgerlike samelewing moet nou die druk op adv. Shaun Abrahams, huidige hoof van die NVG, ondraaglik maak sodat hy binne enkele dae Zuma se vertoë moet aanhoor en besluit of hy gaan vervolg of nie.

As Abrahams daarteen besluit, moet die saak dringend na die hof geneem word en Mogoeng, ­bewaker van die regbank se geloofwaardigheid, moet verstaan dat dit nie meer aanvaarbaar is dat ons weer maande lank wag om die saak op die hofrol te kry nie.

As Zuma hom na die konstitu­sionele hof gaan wend, moet dit voorrang bo alle ander sake geniet. Dis tyd om ’n streep in die sand te trek.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Bedrog  |  Politiek  |  Korrupsie  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.