
Jana Luther
Die Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV) word deurlopend bygewerk. Hier is ’n paar nuwe inskrywings:
Vir die koronavirus en -siekte is sedert Desember verskillende name gebruik, onder meer “2019-nCoV” en “Wuhansiekte”, na die “virusstad” waar dit ontstaan het. Op 11 Februarie maak die Internasionale Komitee vir Virustaksonomie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir sowel die virus as die siekte ’n amptelike naam bekend: “Ears- (SARS-)CoV-2” vir die virus, om die verband met “EARS-CoV”, wat in 2003 ’n soortgelyke “ernstige akute respiratoriese sindroom” (Ears) veroorsaak het, te beklemtoon, en “Covid-19” (“coronavirus disease 2019”) vir die siekte. Die naam “Ears-CoV-2/Covid-19” is dus soortgelyk aan “MIV/vigs”: Die eerste deel verwys na die virus; die tweede na die toestand. As jy Covid-19 het, is jy siek.
Beeld en die meeste ander Afrikaanse publikasies skryf “korona” met ’n “k”. Huisgenoot verkies “corona”. Altwee is reg. Onder ’n elektronmikroskoop lyk die virus soos ’n blomkrans. Dit besorg aan hom sy naam: uit Latyn “corona”, via Grieks “korone” – “kroon” of “(strale)krans”.
’n “Pieng-gereg” (na die tydklokkie van ’n mikrogolfoond) benodig opwarming en is klaar.
Woorde van vreemde herkoms het dikwels twee moontlike spellings. Party tale, soos Japannees, het ’n nie-Romeinse alfabet én ’n amptelike sisteem wat die Romeinse alfabet gebruik. “Shiitake” en “shimeji” óf “sjiitake” en “sjimeji”. Vir dié sampioene is al vier spellings reg.
Nog kosvoorbeelde is “blomkoolrys” (gemaalde kool); “edamame” (groen sojabone in die peul); “kriekmeel” (van die insek); “kombucha” of “komboetja” (gefermenteerde tee); “lattekuns” of “melkkuns” (patrone op jou cappuccino); “robynsjokolade” (pienk en met ’n bessiegeur wat kom van die kakaobone self); “sumak” (’n vrug en spesery met ’n vars, suur smaak).
’n “Pieng-gereg” (na die tydklokkie van ’n mikrogolfoond) benodig opwarming en is klaar. Vir ’n restaurantlose kombuis, wat bestellings by huise en kantore aflewer, lê die naamkeuse tussen “donker-”, “spook-” en “wolkkombuis”.
Weg! wikkel met neologismes, soos laas jaar se “bullebakkie”. Dié slag munt hulle “mesmoertang” vir ’n multitaakknipmes: ’n “knyp- en draadtang, mes, sagie, tandjieslem, platpunt- én sterpuntskroewedraaier, vyl, blik- en botteloopmaker . . . Net nog ’n mullet, dan’s jy MacGyver”.
Geselstaalwoorde is “bloulampie” (vir ’n oog wat blou geslaan of gestamp is), “sementbek” (vir iemand wat swyg), “Marie-Johanna van der Schijff” (van “marijuana” vir dagga, “skyf” vir sigaret) en “Springbroekie” (vir swem en handskud in die kleure van die SA vlag).
- Luther werk mee aan die WAT en is redakteur by www.afrikaans-vandag.co.za.