Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Troef lojaliteit sy ambisie?
Malusi Gigaba, minister van finansies.Foto: Theana Breughem

Daar staan ons snyerspak-minister van finansies toe laas week in die parlement met sy minibegroting en maak soos ’n seun wat sy ouers vermoor het en nou simpatie soek omdat hy ’n weeskind is.

Malusi Gigaba skets ’n donker prentjie van ons ekonomie en roep almal op om te help.

Maar ons almal wéét mos juis sy aanstelling in die plek van Pravin Gordhan verduidelik ’n groot deel van ons ekonomie se agteruitgang, so ook die afdanking van Nhlanhla Nene twee jaar gelede.

Ons wéét ook mos dat die multimiljard-fiasko by Eskom en ander staatsondernemings weens diefstal en wanbestuur ’n groot deel van die verduideliking is waarom ons ekonomie stadiger as ander in ons streek groei. En hoe kan ons dan vergeet dat dié agteruitgang begin het toe die einste Gigaba minister van openbare ondernemings was en die rade van dié ondernemings die een ná die ander met Zuma/Gupta-lojaliste vervang het?

Gigaba vertel ons daar was ’n tekort aan inkomste uit belasting van R50,8 miljard, wat die balansstate baie sleg laat lyk. Hy sprak g’n sprook nie oor die rol van die man wat ’n paar treë van hom af in die parlement sit, Tom Moyane, die hoof van die Inkomstediens (SAID).

My kollega Jacques Pauw se nuwe boek, The President’s Keepers, gee ’n hou-vir-hou-relaas van presies hoe pres. Jacob Zuma met die hulp van staatsekuriteit die SAID begin ondermyn het nadat hulle Zuma en sy vriende se belastingsake begin ondersoek het.

Al die kundiges en eerlikes by die SAID is weggejaag, Moyane het oorgeneem en die SAID is ’n skadu van sy gewese self.

Al die kundiges en eerlikes by die SAID is weggejaag, Moyane het oorgeneem en die SAID is ’n skadu van sy gewese glorieryke self.

Pauw gee vers en kapittel van al die miljarde aan belasting wat ontbeer is nadat Moyane ondersoeke na die belastingsake van superryk Zuma-vriende laat vaar het. Die spesiale ondersoekeenheid wat die onwettige sigaretbedryf in die hoek gehad het, is op ’n kriminele manier ondermyn en afgedank, met die gevolg dat die staat in die koers van R16 miljard verloor het.

As al die belasting van die bende­leiers, belastingkriminele en ander ontwykers oor wie Pauw skryf en die sigarethandelaars volledig ingevorder is, sou daar waarskynlik nie ’n tekort gewees het nie. Maar dan lees ons ook dat Zuma self jare lank belasting ontwyk het en oor sy inkomste gelieg het, so wat kan ’n mens verwag?

Een van die faktore wat beleggers, die sakesektor en graderingsagentskappe die harnas in jaag, is die oorweldigende ontoerekenbaarheid in die staat. Ons lees daagliks van nóg ’n erge skandaal, maar nóg die Valke nóg die nasionale vervolgingsgesag lig ’n vinger.

Weer eens gee Pauw se boek ’n hou-vir-hou-verduideliking van hoe Zuma, staatsekuriteit, die Guptas en ander superrykes te werk gegaan het om stelselmatig byna ál die eerlike, hardwerkende amptenare by die Valke, staatsekuriteit, misdaadintelligensie en die vervolgingsgesag uit te werk en met skelm, ongekwalifiseerde Zuma-lojaliste te vervang.

Gigaba is tussen wurg en hang. Hy het onlangs duidelik aan Richard Quest van CNN laat blyk dat hy presidensiële ambisies het, so hy besef hy moet ’n verantwoordelike finansminister wees of hy word vir ekonomiese inploffing geblameer. Maar alles wat hy dan móét doen, druis in teen dit waarvoor Zuma en sy binnekring en borge staan, en hy het juis ná sy begrotingstoespraak vir Zuma innig vir sy “leiding” bedank.

Ons moet hoop Gigaba se ambisie is sterker as sy lojaliteit jeens Zuma; dat hy die kernplanne gaan veto en die staatsbeursie stywer toe gaan hou, ook vir staatsamptenare wat nou op verhogings van minstens 10% aandring.

Meer oor:  Malusi Gigaba  |  Skuld  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.