Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trogvreters se snoete is droog
Johann Maarman

As die trogvreters eers soos jakkalse begin tjank omdat Suid-Afrika in ’n resessie inbeweeg het, moet jy weet ’n sensitiewe aar is raakgeboor.

Boonop pak hierdie ANC-trogvreters (staatskapers is eintlik ’n té ordentlike naam) ál die skuld op pres. Cyril Ramaphosa. ’n Mens sou wou sweer die nege aalwyn-bitter bewindsjare onder Jacob Zuma het net mooi boggerol bygedra tot die punt waar ons ekonomie vandag is nie.

Zuma se kohorte het die land rot en kaal besteel en gemaak asof die staat se beursie hul persoonlike kitsbank is. Hulle het nie ’n bloue duit omgegee toe gerekende kredietgraderingsagentskappe soos Moody’s, Fitch en Standard & Poor gewaarsku het dié gestelery gaan ons nog tot die rommelhoop verdoem nie. Hulle het aanhou steel en hul snoete was so diep in die trog dat dit eintlik van die vet gedrup het. Hulle kon, want hulle was ANC-kaders en Zuma se uitverkorenes. Dit was die trogvreters se beurt.

Hulle het eintlik opgetree soos ’n misdaadsindikaat en het elke staatsdepartement se begroting van nasionale, provinsiale tot plaaslike regeringsvlak geplunder.

Hulle het eintlik opgetree soos ’n misdaadsindikaat en het elke staatsdepartement se begroting van nasionale, provinsiale tot plaaslike regeringsvlak geplunder. Daarom is dit interessant dat die rasse-ingenieur, Mzwanele “Jimmy” Manyi, nou mompel dat die land se ellende vierkant voor die deur van Ramaphosa gelê word.

Nogal taamlik aanmatigend verklaar Manyi dat die ANC ontslae moet raak van Ramaphosa en dat ’n vis van sy kop af vrot. Manyi noem ook dat Ramaphosa geen visie het nie.

Toe die aroma van kerrie in Saxonwold deur die Gupta-herehuis getrek het, was dit die einste Manyi wat kamma R450 miljoen aan die Guptas betaal het vir ’n TV-kanaal en ’n koerant wat uiteindelik aan die lewe gehou is deur die belastingbetalers en staatsdiens-entiteite wie se spene hulle leeggetap het.

Manyi vergeet gerieflikheidshalwe dat hy ook aktiewe kiemdraer was van die Jacob Zuma-virus.

Dit verbaas mens geensins dat Manyi aan geheueverlies ly nie. Dit is een van die newe-effekte van die Zuma-virus. Toe Zuma die land in die afgrond bestuur het, was Manyi ’n ewe gewillige en aktiewe deelnemer.

Ook hierdie sindikaat wat nou handel dryf as Radikale Ekonomiese Transformasie is niks anders as saboteurs van Zuma nie.

Ook hierdie sindikaat wat nou handel dryf as Radikale Ekonomiese Transformasie is niks anders as saboteurs van Zuma nie. Dis ’n klomp politieke lieplappers soos Ace Magushule, Mzwandile Masina, Bathabile Dlamini, Supra Mahumapelo en natuurlik Manyi homself – hoewel sy eie party, ATM, niksseggend is. Verder word hulle aangehits deur Julius Malema, wat nou ’n bondgenoot van hierdie koalisie van gewondes geword het.

O ja, dan moet ons tog nie vergeet van veldmaarskalk Carl Niehaus nie. Soos iemand nou die anderdag opgemerk het: Karel is nie net die spesialishofnar van Zuma nie, hy is sommer die hele sirkus!

Verlede week wou mens juis ’n ligte vuisie in die lug pomp toe Bulelani Ma­gwanishe, voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, dit duidelik gestel het dat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, haar nou sal moet roer, want mense se verwagting is hoog omdat Batohi belowe het dat vanjaar die jaar van oranje oorpakke sal wees.

Dis wat die Zuma-dissipels vrees, want met Ramaphosa is die toevoer na die kripbakke summier afgesny en nou is die snoete kurkdroog, want hulle kan nie meer stroop nie.

Sorry, boys, jul tentakels soek ons nie weer naby die staatskas nie. Jul kolfbeurt is verby. Julle doen nou veldwerk in die skroeiende son en regter Raymond Zondo moet ook nog ná Batohi kom kolf.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Resessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.