Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trollies en trolle

Inkopies doen het ’n nuwe dimensie bygekry met die koronavirus en voorkomingsmaatreëls wat nou in kruidenierswinkels geld, maar die inkopiegangers bly maar dieselfde. Erla-Mari Diedericks kyk na die verskillende tipes.

Erla-Mari Diedericks

Deidre die drentelaar

Om te dwaal soos ’n verlore spook tussen die gange van die kruidenierswinkel, is deel van Die Drentelaar se natuur. Drentelaars dra die mandjie los in die hand. Soos ’n slingerende nagedagte.

’n Drentelaar sal meteens in die middel van die gang voor jou gaan stilstaan en ’n liederlike botsing veroorsaak.

Of sy kan vir etlike minute voor die presiese kaas staan wat jy wil koop en jou glad nie hoor as jy keel skoonmaak nie.

Sy staan net daar. Haar kop vol kase en keuses.

By die betaalpunt is sy die een wat nooit haar geld of bankkaart kan vind nie. Want haar gedagtes drentel nog steeds in die gange.

Suinige Sarel

Hoeveel kos dit? Foto: Getty Images

Die foon is uit met die calculator aan en elke liewe item se prys word opgetel. Suinige Sarel kan soms ’n vrou aan die sy hê wat verveeld na die rakke staar terwyl hy koorsagtig besig is om blikkies en kilogramme en pryse met mekaar te vergelyk. Hy sal ook luidkeels aankondig dat Blikkie X ’n allemintige R1 goedkoper is as Blikkie Y. Suinige Sarel sal sy neus staan en afvries voor die vleisafdeling soos wat hy die prys per kilogram vergelyk. By die betaalpunt kan jy maar daarvan verseker wees dat Suinige Sarel ’n lojaliteitskaartjie sal hê, stickers sal versamel om die een of ander item mee te kan opeis, en hy sal, maar sal, die betaalstrokie net daar nagaan. Al beteken dit hy hou die hele winkel op.

Die trolliestoter

Die trolliestoter het nie ’n lisensie vir trolliestoot nie. Dit is dalk die hele probleem. Die trolliestoter se trollie vlieg om die hoeke en vat wye wilde draaie wat inkopiegangers gewoonlik verskrik uitmekaar laat spat soos ’n glas wat van die rak af op die vloer val.

Die trollie word met krag en mag gestoot soos ’n Voortrekker van ouds wat die ossewa oor die bult moet kry. Terwyl gestoot word, is die oë nie op die pad nie, maar tussen die rakke – op soek na die Cadbury’s-sjokolade. Die gevolg is verskeie hakke wat in die slag bly.

By die betaalpunt sal die trolliestoter die trollie net daar los, in almal se pad. Of die trolliestoter sal ’n trolliekleuter hê wat luidkeels begin gil oor die lekkers by die betaalpunt wat sy ma nie vir hom wil koop nie.

Karen die klaer

Karen, soos ons almal weet, is die ene wat altyd die bestuurder wil sien. Karen Klaer het net ’n mandjie en dra haar handsak in die waai van haar arm. Netjies opgevou in haar handsak is gewoonlik ’n advertensiepamflet met die nuutste winskopies en afslagaanbiedings. Bewaar die winkel se siel as hulle nie die spesifieke aanbiedings het nie. “Call the manager!” Dit is haar mantra, haar leuse. Vir Karen is die kruidenierswinkel ’n oorlogsterrein vol veldslae wat gewen moet word.

’n Ou tannie wat senuagtig na haar bankkaart soek, sal begroet word met ’n gepynigde sug en ’n getik-tik van gemanikuurde rooi naels.

Die gange is nat en kan haar laat gly. “Call the manager!” Die piesangs is nie ferm nie of die spesiale afslag-toiletpapier is uitverkoop. “Call the manager!” Ander inkopiegangers is ook nie veilig nie. As jou masker effens afsak – glo my, sy sal jou daarvan in kennis stel. Die ouers van skreeuende kinders sal ’n vuil kyk kry, ’n ou tannie wat senuagtig na haar bankkaart soek, sal begroet word met ’n gepynigde sug en ’n getik-tik van gemanikuurde rooi naels.

Karen is dan ook in haar volle glorie by die betaalpunt. Waag jy dit net om met 11 items by die “10-only” betaalpunt te staan . . . Haar valkogies mis niks nie. Want sy is Karen. “Call the manager!”

Die trollietrol

Met ’n volgelaaide trollie op pad na die betaalpunt. Foto: Getty Images

Volgens ’n Facebook-post wat die ronde doen, is daar wel ’n ander faktor wat inkopiegangers van mekaar onderskei – die trolliekwessie.

Die trolliekwessie skei die manne en vroue van die trollietrol. Die kwessie is as volg. As jy klaar jou kruideniersware uitgepak het in die kattebak, wat maak jy met jou trollie? Dit is nou as daar nie ’n ywerige trollieterugstoter in die omtrek is nie.

Dus is daar eintlik net een rede waarom jy die trollie hoef terug te stoot: Omdat dit die regte ding is om dit te doen.

Daar is nie ’n wet oor trollies nie. Dit is nie verpligtend om jou trollie in die trollieparkeerplek te gaan los of al die pad terug te stoot na die winkel toe nie. Daar is geen verkeersbeampte wat jou sal beboet as jy die trollie net daar los waar dit in ander motors kan vasvlieg of parkerings kan versper nie.

Dus is daar eintlik net een rede waarom jy die trollie hoef terug te stoot: Omdat dit die regte ding is om dit te doen. Volgens die skrywer van die post is dit iets wat jy uit die goedheid van jou hart doen, en word die trollietrolle hier van die beskaafde inkopieganger onderskei.

Want ’n trollieterugstoter is iemand wat die regte ding sal doen, al word hy of sy nie gedwing nie.

Watter een is jy?

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.