Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tronkklere is nie sonder rede oranje nie!

Met Olly en die span comrades wat aangekla is, kan ons in die Vrystaat nou met twee Curriebekers spog: Een vir rugby en nog een vir korrupsie.

Ons weet nou hoekom die gevangenes in ons tronke oranje oorpakke dra. Want die meeste is van die Vrystaat. Hulle kan agterop elke oorpak skryf: Geborg deur Ace.

Charles Smith

Byna die hele topbestuur van die Vrystaatse departement van landbou (weens die Vrede-suiwelskandaal) en van behuising (weens die asbesdak-skandaal) is al aangekeer. Hulle kan sommer takvergaderings van die ANC in die tjoekie hou.

Dit is nogal ironies dat Olly in hegtenis geneem is op dieselfde tyd dat die radikale ekonomiese faksie van Ace en Zuma in die ANC die Mangaung-raadsvergadering geboikot het omdat hulle eis dat Olly weer as burgemeester aangestel word.

Eisj, dit is nogal radikale slegte tydsberekening, nè.

In rugbyterme is daar omtrent al ’n A-span onder die Vrystaatse comrades aangekeer om die hofbanke warm te hou. Dit is nog net die kaptein en spanbestuurder wat kort, sê die mense in Castro City (voorheen Bloem).

Saans kan hulle in die koue selle luister na die kore van die arm en die honger mense in die townships, waar rioolvuil deur die strate vloei, huise ineenstort en werklose mense bedel vir brood of papgeld vir hul kinders.

Die plek waar staatskaping uitgedink, vervolmaak en steeds in volle gang is.

Gepraat van Olly. Die VF Plus in die Mangaung-raad verdien ’n medalje dat hy die mosie van wantroue in haar kon laat slaag en sy uitgeskop is. Dit wys wat kleiner partye kan doen om die koevoet in die breuk tussen die faksies in die ANC te kry.

Ek het ’n hol gevoel op die maag gekry toe ek hoor die Valke slaan toe op politici en amptenare. Dit is die beeld wat die wêreld van die Vrystaat het: ’n Staat geplunder deur die ANC onder die bewind van Ace. Die plek waar staatskaping uitgedink, vervolmaak en steeds in volle gang is.

Dit is dieselfde gevoel wat ek gekry het toe ek op Oranje Maandag voor die Curriebeker gestaan het. Ons het geweet Saru gaan ons skroef. Dis maklik om die ouens van die platteland ’n middelvinger te wys, Jurie. Ons is uit die Pro14-reeks en sal dalk sonder ’n borg moet klaarkom. Dit maak my bitter dat dié span, wat met briljante rugby die Curriebeker gewen het, gaan sukkel om te oorleef. En dat korrupte politici die provinsie leeg steel.

Aan Saru en die politici wil ons sê: Hou die Toyota Cheetahs in die Curriebeker dop. Die ouens gaan alles gee vir hul trui, hul span en hul provinsie. Geld is nie alles nie. Eerbaarheid, etiek en liefde vir die spel is. Min ouens kan dit deesdae in Suid-Afrika sê.

Aan Toyota wil ons vra: Bly by ons, asseblief. Die Vrystaat is Toyota-wêreld. Kom ons laat dinge hier regloop.

  • Smith is Netwerk24 se nuushoof in Bloemfontein.
Meer oor:  Klere  |  Charles Smith  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.