Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trooskos is ’n skep van ma se boerpampoen

Sondae, net na tien, as ek die laaste klawers gedruk het en na my motor langs die kerk stap, kom dit aangesweef, daardie hemelse geur uit ’n towenaar se kombuis.

’n Sjef wat met liefde kook lig iewers ’n deksel van ’n pot. ’n Raakvat-ouma met behendige vingers koester êrens pampoen op die stoof. Regte, egte boerpampoen.

Soos ’n speurhond wil ek agter my neus aanhardloop totdat ek daardie lieflike huis uitruik. Ek wil gaan kyk hoe lyk die gelukkige mense wat daar bly. Ek sal by die agterdeur inhardloop, reguit kombuis toe. Wie en wat sal ek daar vind?

Iemand soos my ou moeder, wat darem ’n pampoen kon opkook dat dit soos poeding proe. Dis nou as ’n mens van stroopsoet nagereg hou. Trooskos.

Ek onthou hoe sy dikwels ’n pampoen in stukke gesny het, in die dae voordat boetiekwinkels voorbereide pampoenblokkies in plastieksakkies verkoop het.

Kaneel was nie net bedoel vir pannekoek op reënerige, koue dae nie. In elke kooksel is kaneel liefdevol bygevoeg.

Ek is gereeld na die groentewinkel in die dorp gestuur om ’n heel pampoen te koop. Een van daardie met ’n dik wit skil. Soms was dit te swaar om agter op my fiets se rak met ’n vasmaak-rek te balanseer.

Behendig het my moeder dit dan eers met ’n massiewe mes in kwarte gekap en daarna sorgvuldig op ’n oopgespreide koerant geskil en in blokkies gesny.

Kaneel was nie net bedoel vir pannekoek op reënerige, koue dae nie. In elke kooksel is kaneel liefdevol bygevoeg. Nie die fyngemaalde poeier uit ’n botteltjie nie, groot heel boerevingers kaneel. En bietjie-bietjie water, sodat die pot nie ’n oranje slopperigheid word nie.

Wat daarna gebeur met die kooksel pampoen het ek nie opgelet nie. Deesdae skop ek myself daaroor. Ek kan maar net raai dat vars plaasbotter en baie suiker nodig was om dit tot die perfekte fynproewersdis op te tower.

Die taai, karamelagtige, amberkleurige heerlikheid het soos ’n goue sandduin op jou bord gelê.

Wanneer ’n groot skep van my ma se pampoen jou bord getref het, was daar nie omdraaikans nie. Die taai, karamelagtige, amberkleurige heerlikheid het soos ’n goue sandduin op jou bord gelê. Die aartappels, rys en vleis moes hulle beurt afwag. Happie vleis, happie pampoen. Happie rys, happie pampoen. Happie aartappels, happie pampoen. Tot die pampoen amper op is. Nog ’n porsie, ’seblief ma!

En dan is daar mense wat nie van pampoen hou nie. In Afrikaans gebruik ons dié groente om mense te beledig. As jy dom is, is jy ’n pampoen. Party mense skrik nie vir koue pampoen nie. ’n Vrot pampoen word saam met ’n lappop en ’n leë bottel bier op die ashoop weggegooi. En wat van Aspoester? Haar koets word middernag ’n pampoen.

Kom ons bring pampoen terug!

Koop hom by die Portugees se groentewinkel. Ry hom saam van ’n Vrystaatse plaas af. Soek een by ’n padstal naby Robertson uit.

Of kom staan net Sondae saam met my buite ons kerk en ruik die kooksel liefde.

  • Nell is ’n skrywer van Kaapstad.
Meer oor:  Pampoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.