Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trots op onnies wat hulle inent vir veilige skole
Charles Smith

Ek is besonder trots op die Vrystaatse onnies wat gister van vroegdag af in hul duisende opgedaag het om hul eerste inenting teen Covid-19 by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein te kry.

Waar die mense hier ouer as 60 skynbaar te bang is om ingeënt te word, het die onnies gewys hulle gaan hul deel doen om ons skole en gemeenskappe veiliger te maak.

As elke klaskamer, elke skool en elke huis veiliger is, is ons een stappie nader daaraan om hierdie aaklige virus te oorwin. Daar lê nog ’n lang en moeilike pad voor, maar ter wille van ons kinders en diegene wat reeds die hoogste prys betaal het, moet ons alles moontlik doen om staande te bly.

Toe ek gisteroggend verby die hospitaal ry om my seun, Alwyn, skool toe te neem vir sy eksamen, het dit gelyk soos ’n interhoër-sportdag by die Vrystaat-stadion soos die skoolbusse en motors ingeryg gestaan het. Die verskil is elke onnie het ’n masker gedra en het besonder doelgerig gelyk.

Net toe kry ek ’n video van Marzaan Venter, skakelpersoon van Grey Kollege, wat wys hoe dié skool se personeel in die ry staan vir hul inentings. Dit is my seun se onnies. Hulle, hy en 1 000 ander seuns, se huise is veiliger. Soos met elke ander skool wat hier verteenwoordig is.

Ek en ander word kwaai aangeval deur diegene wat teen inentings gekant is. Almal is Afrikaans en baie aggressief. Hoe het ons hier gekom?

Cheréne Pienaar, ons joernalis by die hospitaal, het foto’s gestuur van onderwysers soos Elna Mostert, ’n gr. R-juffrou van die Laerskool Kruitberg, wat haar breiwerk saamgeneem het om die wag die moeite werd te maak. Elrie Prinsloo, ’n wiskundeonderwyseres van Grey Kollege, het gesê dit word sterk aanbeveel dat swanger vroue ingeënt word.

Ek as nuushoof moes verskeie berigte hanteer van mense in die Vrystaat wat dood of baie siek is. Die nuus breek in die oggend van ’n nuwe variant in Indië, terwyl die wêreld skaars die ander variante kan hanteer.

Ek moedig mense op Facebook aan om hulself te gaan inent aangesien dr. Nicholas Pearce, hoof van die Universitas-hospitaal se Covid-19-eenheid, aan die joernalis Marietjie Gericke sê dat hulle tussen ses en agt pasiënte per dag verloor – en dat te min mense bó 60 opdaag om ingeënt te word. Dan word ek en ander kwaai aangeval deur diegene wat teen inentings gekant is. Almal is Afrikaans en baie aggressief. Hoe het ons hier gekom?

Ek maak dit duidelik dat ek nie teen ivermektien as middel is nie. Ek sal dit self oorweeg, ook omdat daar geen medisyne is teen die virus nie. Maar bloot saam met die inenting. Nie alleen nie. En dit is waarvoor ons nou moet veg – dat die ouderdomsgroep vir inentings verlaag sal word om ook mense wat 50 jaar en ouer is – of selfs diegene bó 40 jaar in te sluit.

Ons het net een kans om onsself, ons gesinne, die land en die wêreld te red. Ons moet soveel moontlik mense so vinnig moontlik inent. Ons is stadig maar seker op koers, maar ons moet die regering daarvoor druk.

Dit begin by jouself. Laat jou inent. Kom ons oorwin die virus.

Meer oor:  Charles Smith  |  Inentings  |  Inspuit  |  Hulp  |  Inentingsprogram  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.