Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trots SA: ’n Warboel van noodnommers

Ander lande het eenvoudige stelsels van kort noodnommers, maar hier pas ons ’n bewonderenswaardige meesterstuk van ordelose noodnommers toe, skryf Rhynie Greeff. Ook op onsself.

Weet jy watter nommer om te skakel om die regte reddingswerkers vir ’n spesifieke noodgeval te kry? Foto: Argief

Ronald Reagan het eens op ’n tyd gesê dat status quo (die bestaande toestand) maar net Latyn is vir “die gemors waarin ons is”.

Nou, terwyl ek dit skryf, ondervind ek skielike beurtkrag. ’n Gemors. Ons almal se status quo. Sug.

Ons weet almal dat daar geen elektriese krag in beurtkrag is nie. Daarom gaan dit my verstand te bowe dat ons so met ’n status quo-neusring gelei word om nasionaal die woord beurtkrag te aanvaar as beskrywing van vonkelôl krag.

Ons status quo-gemors het baie met staatsondernemings en owerheidsregulasies te doen. Suid-Afrikaanse regulasies is soos Franse ganslewerpatee: Dit word in die keel afgedruk en hoe minder jy weet van die produksieproses, hoe rustiger slaap jy.

Hoe meer ons slaap, hoe meer is ons oneindig beïndruk deur die produksieproses van ons Trots Suid-Afrikaanse warboel van verwarrings.

Ja, kom ons verenig regulatories en gee inkomende toeriste na Suid-Afrika ’n bietjie breingimnastiek met uitdagende tongknoper-dorpsname wat atlasse omseil.

Suid-Afrika se leuse op sy landswapen !ke e? |xarra ?ke is mos Khoisan vir “diverse mense verenig”. Ja, ons staan meesterlik verenig in die teenstrydighede van ons selfgemaakte chaos.

Hoekom moet ons dan so vervelig wees soos die Engelse wat al eeue lank weier om te torring aan hul dorpsname soos Upton Snodsbury in Worcestershire en Pucklechurch in Gloucestershire? Of soos die Belge wat al sedert die 1300’s die dorp Boom net Boom bly noem? Dwarsboom die lot, sê ons.

Ja, kom ons verenig regulatories en gee inkomende toeriste na Suid-Afrika ’n bietjie breingimnastiek met uitdagende tongknoper-dorpsname wat atlasse omseil. Kom ons uitoorlê daai Britte wat dink Rhodes het nog ’n rol en kyk of hulle weet waar gekamoefleerde Makhanda nou is.

Kom ons maak dit ’n uitdaging vir Nederlandse toeriste om die regte adres in die ou Kerkstraat in Pretoria te vind tussen ’n wegraakwarboel van vier nuwe name: Stanza Bopape-, Helen Joseph-, W.F. Nkomo- en Elias Motsoaledi-strate.

Toeriste is in elk geval net ’n oorlas. Wie wil hulle hê? Viva, al julle toegewyde vakbondaktiviste van die SAL. Julle het onlangs byna die toeristekraan suksesvol toegedraai.

Ons nommers is ook hul nommers

Maar kyk, ons is ook Trots Suid-Afrikaans baie regverdig. Ons diskrimineer nie teen toeriste nie. Nee, as daai sokkies-op-plakkies-rondsluipers hier gekaap of aangerand word en hulp soek, is ons al die pad mét hulle.

Die noodnommers wat hulle moet skakel, is ook óns nommers. Ander lande het eenvoudige stelsels van kort noodnommers wat jy kan skakel vir misdaad of ongelukke, maar hier in ons land pas ons ’n bewonderenswaardige meesterstuk van ordelose noodnommers, ook op onsself, toe.

In die VSA het Amerikaners net een vervelige noodnommer: 911. Kan jy dit glo dat die Britte ook net een verbeeldinglose noodnommer het, naamlik 999 en die Europeërs het 112? In Nieu-Seeland is dit 111 en in Australië 000.

Slaapwekkend genoeg, en verskoon my gaap asseblief, is al daardie ander oorsese nommers 911, 999 en 112 tolvry as jy van landlyne én selfone skakel. Ongelooflik. Drie kort nommers vir nood en boonop gratis van enige foon af. Het daardie lande dan nie burokrate met gebreklike bakhande vol belastinginkomste agter hul rûens nie?

Dis nou innoverend dat belastings aangewend word om mense gratis in nood te help!

Vergeleke met enkelnommers elders het ons hier in fassinerende Suid-Afrika sommer baie noodnommers. So wyd soos die kapers se genade lê die slagoffers in spervuur en skade.

Ons het drie nasionale noodnommers vir lewensbedreigende situasies: 10111 (polisie), 1017 (medies en brand) en 112 (vir selfoongebruikers).

Suid-Afrika se 10111 is gratis van ’n landlyn af, maar jy betaal daarvoor as jy vanaf jou selfoon skakel.

Suid-Afrika se algemene drie-syfer 112 is gratis van jou selfoon af, maar jy kan nie 112 van jou landlyn af skakel nie. Dit beteken selfs ’n Telkom-landlynkliënt kan nie Telkom se eie selfoonnoodnommer skakel nie. Formidabele bestuur.

Ons stede het hul eie sentrale noodnommers soos 011 375 5911 in Johannesburg en 031 311 1111 in Durban. Suid-Afrika het ’n spinnerak van ander noodnommers soos vir private noodhulp deur Netcare 911 op 082 911, ER24 op 084 124 en ander.

Onthou, as jy waai vir hulp, sal die menseredder net na jou toe swem as jy met ’n tienrandnoot in jou hand om hulp roep.

Hier in Kaapstad waar ek woon, is 107 ’n verdere noodnommer maar jy kan dit net van ’n landlyn skakel. Selfoongebruikers moet in Kaapstad 021 480 7700 skakel, maar dis ’n noodoproep waarvoor jy weer moet betaal.

Ons het nog ’n magdom ander noodnommers vir situasies soos bergredding, seeredding (ek tel sewe betaal-asseblief-subnommers in streke), plaaslike brandweer, gifgevalle, geestesprobleme, kinders in gevaar en ander ambulanse, want dié dinge is mos baie gelokaliseerd en koördinasie staan nie in ons land se leuse nie.

Dis soos ’n verdrinkingsituasie in die see by Durban, oeps, ek bedoel eThekwini. So, geagte toeris, ons betaal-asseblief-noodnommers is soos wanneer jy daar diep agter die branders begin verdrink. Onthou, as jy waai vir hulp, sal die menseredder net na jou toe swem as jy met ’n tienrandnoot in jou hand om hulp roep.

Johan Stemmet se Noot-vir-noot word hier nou Noot-vir-nood. En as jy nie korrek aan Noot-vir-nood deelneem nie, sal jou redder net sê: “En kyk hoe lyk daai lyk nou!”

Wat van ’n nuwe wet?

Rhynie Greeff

Ons status quo (hoe dit is) is eintlik quid pro quo (iets vir iets) wat Britse toeriste sekerlik sal verstaan, want ’n quid is vir hulle ’n Britse pond en die woord quid stam af van quid pro quo, naamlik betaling vir iets.

Ja, ons uiteenlopende reënboogmense staan verenig in hierdie veeleisende, byna herkuliese, taak om ’n ware reënboog van noodnommers, soms gratis en dikwels met Noot-vir-Nood-betaling, in stand te hou. #LogicMustFall.

Suksesvolle agteruitgang is die produk van die ywer van ryk en arm, geskoold en ongeskoold, oud en jonk, intellektueel en ongeletterd, kieser en verkose leier, entrepreneur en burokraat.

Stry ons telekommunikasiemaatskappye onderling? Wil hulle hul eie noodnommers vir eie gewin hê of nie tegnologies by ander aanpas nie? Is drie nommers soos 911 of 112 tegnologies onmoontlik vir Telkom se vastelynstelsels?

Wil reddingsorganisasies ook eie agendas nastreef?

Ek weet nie. Dis so ’n dowwe deurmekaarspul dat ek nie eens heeltemal seker is oor wie wat aan wie doen nie.

Kan die staat nie maar in die algemene belang as vredemaker intree vir orde in hierdie blertsgemors wat tussen burokrate en ondernemers ontstaan het nie?

Ek wil vandag my hand 'opsteek' en vra dat die owerheid ons belastingbetalers respekteer.

Sportkapteins praat dikwels oor spelers wat hul hande “opsteek”.

Ek wil vandag my hand “opsteek” en vra dat die owerheid ons belastingbetalers respekteer, die hondebrekfis van noodnommers vereenvoudig, harmoniseer en ten volle gratis maak.

Wat van ’n nuwe Wet op Een-enkele-tolvryenoodnommer? Miskien 000 om al die ander gemors van nul en gener waarde te maak?

* Dr. Greeff was in die 1990’s op Telkom se bestuursraad en uitvoerende komitee, ’n direkteur van die Geelbladsyemaatskappy en voorsitter van twee Telkom-filiale. Hy het in 1999 uitgetree as uitvoerende hoof van Telkom se internasionale onderneming, groothandel en interkonneksie met selfoonmaatskappye asook ander operateurs.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ronald Reagan  |  Brittanje  |  Suid-Afrika  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.