Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump begin oorlog om sy eie bas te red

In ’n reis deur die steenkooldorpies van Wes-Virginië het dit my getref hoe arm hierdie meestal wit slawe is wat misbruik word in die Amerikaanse stelsel.

Hulle moet die giftige steenkool uitgrawe wat die Yanks se ekonomie aan die gang hou, sterf gereeld in mynrampe en dié menslike rysmiere van die Roesbelt verloor gereeld hul werk.

Charles Smith

En raai wie is die kanonvoer wat Amerikaanse presidente in hul triljoendollar-oorloë aanskaf? Die ouens wat nie anders kan as om by die weermag aan die sluit om brood op hul gesinne se tafels te sit nie.

En dit is die steenkoolmyne in Amerika, Suid-Afrika en Australië wat veral die klimaatskrisis veroorsaak wat die droogtes en uitermate hoë temperature in Amerika, Suidelike Afrika en Australië veroorsaak en bydra tot orkane en tifone wat groter en sterker word.

En die klimaatkrisis dra by tot die verwoestende bosbrande wat Australië bedreig – ’n land waar die temperature net styg en styg. Minstens twee spesies, die glanskaketoe en die dunnarts, ’n bosmuis, is uitgewis en die koalas word erg bedreig. Meer as ’n miljard diere het al doodgebrand.

Scott Morrison, die Australiese premier, het al as minister van finansies met ’n handvol steenkool in die parlement opgedaag om sy teenstanders die harnas in te jaag. Hy is ’n klimaatsontkenner.

Vandag is sy land aan die brand en word hy met reg deur arm slagoffers van die brande uit hul dorpe gejaag. Die groot steenkoolmaatskappye wat sy veldtogte finansier, is sy pêlle aan wie hy verantwoording doen, nie die mense wat verkool nie.

Trump, Morrison en Boris Johnson voel vere vir voëls en beertjies. Hulle voel nog minder vir armes. Hulle offer die wêreld en die aarde laggend op vir eie gewin.

Al dié cowboys teer op die bravade van Donald Trump. Dié weermagontduiker is die vet kokkedoor wat ’n nuwe oorlog teen Iran ontketen deur die opdrag te gee om die land se weermaghoof, genl.maj. Kassem Soleimani, in ’n lugaanval uit te wis terwyl hy aan ’n roomys lek.

Soleimani het waarskynlik gekry wat hom toekom, maar die hele wêreld ly onder dié daad van ’n man wat skaars geweet het waar Iran is en spog met Amerika se triljoendollar-toerusting vir sy weermag. Baie pêlle van The Don word skatryk in ’n oorlog.

En raai wie se kinders sterf in die oorloë?

Nie hulle s’n nie. Dis buitelanders en afgedankte steenkoolwerkers wat in bom- en vuurpylaanvalle gaan sterf – en wat Trump weier om meer geld voor te gee as hulle flenters geskiet lê in hospitale.

Trump, Morrison en Boris Johnson voel vere vir voëls en beertjies. Hulle voel nog minder vir armes. Hulle offer die wêreld en die aarde laggend op vir eie gewin.

Soos Trump wat ’n oorlog met Iran begin om sy eie gat by die stembus te red. En dapper toekyk hoe die aarde verswelg sonder om ’n vinger te verroer. Red nou die aarde met sulke verwaande, regse ego-maniakke.

Meer oor:  Charles Smith  |  Goeiemôre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.