Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump is baie bek, maar min binnegoed

Die flambojante pres. Theodore Roosevelt, wat die Withuis van 1901 tot 1909 bewoon het, het ’n wyse leuse gehad om sy buitelandse beleid mee te beskryf: “Praat saggies en dra ’n groot stok.” Overgeset synde, moenie links en regs grootbek-dreigemente maak nie; sorg dat jou land voldoende magsmiddele het om sy wil, as dit nodig is, af te dwing.

As ’n mens kyk na wat tans gebeur tussen pres. Donald Trump en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, lyk dit of Trump die Roosevelt-leuse in die praktyk verander het na “Skreeu so hard as wat jy kan en doen vervolgens niks om dit op te volg nie.”

Die betrekkinge tussen Trump en Kim het begin met ’n wedersydse geskreeu wat by tye histeries geklink het. Kim het Trump as seniel bestempel, terwyl Trump Kim herinner het dat die Amerikaanse kernwapen-knoppie groter is as dié van Noord-Korea.

Vervolgens het Trump – volkome korrek – besluit dat dié strategie nie werk nie. Hy het dus toenadering gesoek, iets wat op drie ontmoetings uitgeloop het.

Dis altyd beter om met jou vyande te práát as om te skiét. Maar wanneer jy dan praat, moet jy dit met ’n realistiese analise en oop kop doen, pleks van om die wens die vader van die daad te laat word.

Laasgenoemde is egter wat Trump gedoen het. In Singapoer het hy ’n vae, eintlik niksseggende ooreenkoms met Kim geteken wat Kim tot niks verplig het nie.

Kim, duidelik ’n uitstekende politieke taktikus, het Trump soos ’n mielie geëet.

Van die een uiterste, waar hy Kim gereeld met totale vernietiging gedreig het, het Trump vervolgens na die ander uiterste gegaan. Kim is ’n man van sy woord, het Trump gesê, en selfs te kenne gegee hy en Kim is “verlief” op mekaar. Getrou aan sy narsistiese karakter, het dit vir Trump gegaan om sy eie eer en glorie te beklemtoon, pleks van om praktiese doelstellings te bereik.

Dit kon natuurlik nie so aanhou nie. Kim, duidelik ’n uitstekende politieke taktikus, het Trump soos ’n mielie geëet en baie tyd gewen. Tyd wat hy gebruik om sy kernarsenaal taamlik uit te brei.

Alles dui daarop dat Kim binnekort nuwe missieltoetse kan laat uitvoer of selfs ’n kernbom kan laat ontplof. Die “geskenk” aan Trump wat hy beloof het, kan daarop neerkom.

As Trump se praktiese optrede (in teenstelling tot sy retoriek) ’n leidraad kan wees, is dit duidelik wat sy reaksie sal wees: Histeriese twiets, opgevolg met . . . niks.

Trump se ondersteuners sal self histeries op die oordeel in dié artikel reageer, maar dit verander aan die praktyk níks. Trump is aansienlik meer bek as binnegoed.

Dié voorspelling klink daarom aanneemlik: Binne enkele weke sal Noord-Korea ’n kerntoets uitvoer. En Trump sal skel, maar hom daarby neerlê. Die alternatief, oorlog, sal hy nie durf aanpak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.