Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump is gevolg van regse media
Hein Willemse

’n Week gelede het ons die mag van die media op dramatiese wyse ervaar toe ekstremistiese navolgers van die Amerikaanse president so opgerui is dat hulle die Kongresgebou bestorm het.

Dit was hul poging om die sertifisering van die verkiesingsuitslag, wat die Demokraat Joe Biden aan bewind gaan bring, te keer. In weerwil van getuienis tot die teendeel, is by dié militante die saad geplant dat die verkiesingsuitslag beknoei en Donald Trump die regmatige oorwinnaar is.

Trump het, sonder bewyse, op Twitter verklaar dat amptenare in sommige deelstate die uitslae bekook het. Dié boodskap is ook onkrities uitgedra deur die regse media in Amerika. Die afgelope vyf jaar het die regse media Trump se uitlatings op sosiale media in so ’n mate versterk dat dié koerante, tydskrifte en veral televisiekanale, radiostasies en webtuistes meegewerk het aan die skepping van ’n alternatiewe werklikheid.

Sommige van dié instellings het Trump se brose ego vertroetel en sy wanvoorstellings en leuens onkrities uitgedra. Dit maak hulle aandadig aan gebeure. Hoewel Trump die diep verdelings in sy samelewing uitgebuit het, het die regse mediasfeer hom gebruik om hul eie agendas uit te dra.

Individuele vryheid word vertolk in terme van behoudende Christelike godsdiens- en gesinswaardes, met teenkanting teen aborsie en homoseksualiteit.

Die Republikeinse Party word tradisioneel verbind met die verdediging van individuele vryheid en verantwoordelikheid, in samehang met die behoud van kapitalisme as grondslag vir die skepping van persoonlike welvaart en vooruitgang. Hulle staan beperkte regering, laer belastings, gebalanseerde begrotings en ’n sterk, doeltreffende weermag voor.

Op die keper beskou kan miljoene Amerikaners hulle sonder voorbehoud met dié waardes versoen omdat dit die kern van die Amerikaanse droom vergestalt. Dié waardes is egter juis aantreklik vir behoudendes. Elemente van die regse media verkondig dié ingesteldheid. Individuele vryheid word vertolk in terme van behoudende Christelike godsdiens- en gesinswaardes, met teenkanting teen aborsie en homoseksualiteit.

As voorstanders van persoonlike vryheid en beperkte regering het sommige Republikeine hulle beroep op oordadige bewapening, met ’n uitgesproke anti-intellektualisme, wat neerkom op anti-wetenskaplike houdings. Dit verklaar waarom Republikeine die klimaatkrisis ontken – ’n boodskap wat ook in die regse media afspeel deur die Parys-verdrag as vyandig teenoor Amerikaanse kapitalisme te stel.

In die presidensiële ampstermyn van die Demokraat Barack Obama is opnuut ’n onderliggende benepenheid jeens vreemdelinge en die oorstroming van wit leefruimtes deur swart Amerikaners openbaar. Obama was vir sommige behoudendes die versinnebeelding van die kruipende maatskaplike verandering wat hulle gevrees het.

Met Trump aan die bewind het die Republikeinse Party die tuiste vir gewelddadige ekstremiste geword. In die regse media is ’n omgewing geskep waarin die aansprake van wit heerssugtiges verdra en selfs vergoeilik is. Dit is dié onderstrominge wat Trump met sy rassisme, vreemdelingehaat, nasionalisme en boelie-gedrag in sy ampstermyn uitgebuit en na die politieke hoofstroom en die stadsplein gebring het.

Vir talle samelewings, ook ons eie, is daar ’n boodskap in dié gebeure, naamlik dat die media die vorming van idees beïnvloed en dat dié vermoë met oordeel hanteer moet word. Die bestorming van die Kongresgebou en die bloedige nagevolge is die bisarre klimaks van Trump as ’n mediaskepping.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie in die departement van Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.