Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump kan Navo dalk vaarwel roep

Vir waarnemers van die wêreldpolitiek gaan aanstaande week ’n interessante periode wees. Op 11 en 12 Julie vind Navo se spitsberaad plaas, dan bring pres. Donald Trump ’n ampsbesoek aan Brittanje, en vervolgens vertrek hy na Helsinki vir samesprekings met pres. Wladimir Poetin van Rusland.

In afwagting van al dié gesprekke het die politieke temperatuur al klaar begin styg. Trump het ’n brief aan die regeringshoofde van Navolande gestuur waarin hy hulle behoorlik ondiplomaties uittrap omdat hulle te min aan verdediging bestee. Dis één terrein waar Trump op sigself iets beet het.

Die Navo-regeringshoofde het onderneem om hul verdedigingsuitgawes tot 2% van hul bruto binnelandse produk (BBP) te verhoog in reaksie op Rusland se aggressie. Waar Amerika tans 3,2% van sý BBP aan sy weermag bestee, voldoen slegs sewe ander Navo-lande vanjaar aan die 2%-

vereiste, te wete Brittanje, Griekeland, Pole, Letland, Estland, Litaue en Roemenië.

Duitsland, naas Amerika loshande die rykste lidland in Navo, bestee tans slegs 1,2%. Die land se minister van verdediging, Ursula von der Leyen, het in antwoord op Trump se brief teruggekap dat haar land besig is om die uitgawes stelselmatig te verhoog, maar dat Rome nie in ’n dag gebou is nie. Teen 2024, is die plan, sal Duitsland se verdedigingsbegroting 1,5% van die BBP bedra, wat ’n verhoging van 80% in absolute euroterme sal wees.

Dis bekend dat Trump nie veel ooghare vir enige multilaterale internasionale liggaam het nie.

Waarnemers is nuuskierig hoe Trump aanstaande week met die ander Navo-leiers sal omgaan. Volgens die Washington Post het hy die Pentagon opgedra om ondersoek in te stel na die koste-effektiwiteit van die 35 000 Amerikaanse troepe in Duitsland. Is dit sy manier om voorbrand te maak vir die vermindering – of dalk volledige terugtrekking – van die Amerikaanse troepe uit Duitsland? Hoe sien hy Amerika se toekoms in Navo?

Dis bekend dat Trump nie veel ooghare vir enige multilaterale internasionale liggaam het nie. Hy sien veel meer in bilaterale ooreenkomste tussen individuele lande.

Dis waarom Trump se beplande ontmoeting met Poetin ook veel belangstelling oproep. Wat gaan hy met sanksies teen Rusland doen?

Iets wat heelparty waarnemers opval, is dat Trump bereid is om die woord van ’n wrede diktator soos Kim Jong-oen van Noord-Korea blitsvinnig te aanvaar, maar gewillig is om ’n onwenbare handelsoorlog teen sy nouste bondgenote in Europa te ontketen. Hy het onlangs selfs in ’n toespraak die historiese onwaarheid verkondig dat die Europese Unie opgerig is met die doel om Amerika te benadeel.

Dalk bewys Trump almal verkeerd. Dalk moet ’n mens jou oordeel voorlopig opskort.

Maar daar is ’n moontlikheid, word gevrees, dat Trump se houding uiteindelik kan uitloop op Amerika se volledige onttrekking aan Navo.

Meer oor:  Donald Trump  |  Wladimir Poetin  |  Brittanje  |  Navo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.