Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump, Kim, morone, WO3 en jou eie IK
Charles Smith

Wat is jou IK?

Hierdie kodesyfer wat meet of jy slim of, wel, minder slim is, is groot nuus nadat pres. Donald Trump van Amerika sy eie minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, tot ’n IK-toets uitgedaag het.

Dis nou nadat Tillerson glo sy president ’n “moroon” genoem het. - glo omdat Trump ’n groter arsenaal kernwapens as oudpres. Barack Obama wil hê. Die Withuis het sover bekend nog nie bevestig of ontken of Trump ’n moroon is of nie, maar die gevolg van hierdie bekgeveg is vir die meeste Yanks ’n groot verleentheid.

Dink daaraan: Pres. Jacob Zuma daag sy minister van welsyn, Bathabile Dlamini, tot ’n IK-toets uit nadat sy hom ’n moroon genoem het wat nie beleid verstaan nie. Oukei, goed, dis dalk nie die beste voorbeeld nie, maar julle verstaan nou die sepie genaamd The White House se storielyn ’n bietjie beter.

Asof Trump en sy Twitter-vinger nie reeds vir genoeg rooi gesigte gesorg het nie – en terwyl WOIII met Noord-Korea dreig – het ’n katgeveg dieselfde dag tussen Trump se huidige vrou, Melania, en sy vorige vrou, Ivana, uitgebreek. Dis nadat Ivana na haarself as die “presidentsvrou” verwys het. Melania se skakelpersoon het dit as “aandagsoekery en selfdienende geraas deur ’n eks” afgemaak.

Trump self was meer bekommerd oor sy beeld as ’n “moroon”. Dis ook, bygesê, nadat ’n senior Republikein-se senator, Bob Corker, na die Wit Huis as ’n “volwasse kleuterskool” verwys het, verwysende na die klaende baba-president wat alewig op Twitter cowboy speel.

Dalk moet hy die IK-toets los en sommer ou Kim tot ’n WWW-stoeigeveg uitdaag.

Trump het op Twitter geskimp Corker het hom gesmeek vir die pos van minister van buitelandse sake. Intussen het Wit Huis-amptenare laat blyk hulle behandel Trump presies soos ’n kind deur vir hom leë beloftes te maak en te hoop hy vergeet daarvan. Want dit help nie om hom sy speelding, sy foon, te belet nie. As hulle hul oë uitvee, lê hy in die kamer en dreig die wêreld op Twitter.

Tussendeur wil hy nog Little Rocket Man, soos hy Kim Jong-oen noem, die diktatortjie van Noord-Korea wat so lekker met vuurpyle speel, warm wiks. Dalk moet hy die IK-toets los en sommer ou Kim tot ’n WWW-stoeigeveg uitdaag: The Orange Twit vs Little Rocket Man.

Noem dit die WWIII Big Ego Bash. Die wenner kan ’n paar speelvuurpyle lanseer en met ’n opblaas-aardbol om ’n sjokoladekoek dans en Ring a ring a rosie sing. Dan weet ons die aarde is vir minstens een dag veilig.

Gelukkig gee die leier van die grootste demokrasie op moederaarde ons iets om oor te grinnik. Want ons eie diktators mors só in die sandput terwyl hulle koekies en koeldrank steel, dat ons land een groot gemors raak.

Nietemin: As jy nog kan lag vir dié spul, is jou IK orraait. Die paar Trompetters wat my weer wil wiks, tel tot 10, maal met 52 en deel deur nege. . . Jy is ge-Trump, swaer!

Meer oor:  Donald Trump  |  Rubrieke  |  Morone  |  Menings  |  Wo3 Ik  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.