Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump, los Iran se kultuurskatte
David J. Wasserstein
David J. Wasserstein

In ’n dreigende twiet op 4 Januarie waarsku pres. Donald Trump van Amerika hy gaan “baie vinnig en baie hard” toeslaan op kultuurskatte in Iran sou dié land wraak neem vir die Amerikaanse sluipmoord op sy topgeneraal. Dié land hét intussen ’n missielaanval op Amerikaanse militêre basisse in Irak van stapel gestuur.

Trump bevind hom in die geselskap van weersinwekkende karakters as hy Iran se kultuurskatte bedreig.

Die geskiedenis se klub van barbare sluit in die Roemeense diktator Nicolae Ceausescu, wat die verwoesting van honderde van sy land se skilderagtige dorpies en kerke beplan het voordat hy in 1989 onttroon en tereggestel is.

Slegs dae nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het Duitse soldate die eeue oue Leuven-biblioteek in die neutrale België met sy unieke versameling boeke en manuskripte afgebrand. Die Belge het die biblioteek herbou – net sodat dit vir ’n tweede keer 26 jaar later deur die Nazi’s afgebrand kon word.

Adolf Hitler wou die bekende bakens in Parys ook teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog sloop – ’n katastrofe wat vermy is omdat sy soldate geweier het om hom te gehoorsaam.

Meer onlangs het die Taliban Afganistan se bekende Boeddhas van Ba­myan opgeblaas en Isis het die antieke stede Hatra en Palmyra vernietig, saam met heelwat van Mosoel. Al dié aanvalle was gemik op die kulturele en kunserfenis van die mensdom.

Iran huisves meer as 20 Wêrelderfenisgebiede, onder meer die ruïnes van Persepolis, wat dateer uit die sesde eeu voor Christus.

Iran huisves meer as 20 Wêrelderfenisgebiede, onder meer die ruïnes van Persepolis, wat dateer uit die sesde eeu voor Christus. Trump was nie spesifiek oor watter kultuurskatte hy in die oog het nie, behalwe dat 52 persele geïdentifiseer is, waaronder “sommige op baie hoë vlak en belangrik vir Iran en die Iranse kultuur”. Hy het intussen die dreigement herhaal en gesê: “Hulle word toegelaat om ons mense te vermoor, te vermink en te martel. En ons mag nie aan hul kulturele bakens raak nie? Dit werk nie so nie.”

Unesco het geantwoord deur Amerika te herinner dat hy gebind word deur twee ooreenkomste, waarvan een bepaal dat ondertekenaars nie “aspris maatreëls mag neem wat direk of indirek die kultuur- of natuurerfenis” van ’n ander party mag beskadig nie. Brittanje, tradisioneel ’n Amerikaanse bondgenoot, het hom ook gedistansieer van Trump se opmerkings.

Op 6 Januarie het Mark Esper, Trump se minister van verdediging, in ’n verklaring strydig met sy president se uitlatings gesê Amerika sal ag slaan op “die wette van gewapende konflik”.

Jawad Zarif, Iranse minister van buitelandse sake, het aangedui so ’n bomaanval sou beskou word as ’n oorlogsmisdaad.

Ná die Iranse Revolusie van 1979 het sommige mense gevrees die nuwe regime sou vyandig wees teenoor die studie in die land se pre-Islamitiese, selfs voor-revolusionêre verlede. Dié bekommernisse was nie nodig nie. Iranse vakgeleerdheid het voortgeduur en gedy tot vandag toe.

Toe die Notre Dame-katedraal aan die brand was, het Zarif getwiet: “Hartseer dat die ikoniese monument wat gewy is aan die aanbidding van ons een God en wat almal van ons nader aan mekaar gebring het deur Hugo se literêre meesterwerk, gedeeltelik verwoes is nadat hy 800 jaar lank oorloë en revolusies deurstaan het.”

Die Romeinse geskiedskrywer Takitus het 2 000 jaar gelede dié woorde in die mond gelê van ’n heroïese leier van die Britse weerstand teen die mag van van die Romeinse Ryk: “Hulle maak ’n woestyn en hulle noem dit vrede.”

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Iran  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.