Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump se eie mense lê nou die karwats in

Niks is so gevaarlik as om die uitslag van ’n verkiesing vyf maande voor die tyd te voorspel nie. Tog is dit duidelik dat pres. Donald Trump táns diep in die moeilikheid is.

Leopold Scholtz

Dit is duidelik dat sy hantering van die betogings in Amerikaanse stede by die meeste kiesers nie in goeie aarde val nie.

Op die webwerf RealClearPolitics, waar die gemiddelde van peilings gerapporteer word, sak Trump uit. Vandeesweek was hy byna 8 persentasiepunte agter. Maar kiesers se gevoel kan verander, byvoorbeeld as die ekonomie verbeter. Dis anders wanneer Trump uit die aarde geloop word deur gerespekteerde leiers, mense wat hul spore verdien het.

Dat gewese Demokratiese presidente, soos Jimmy Carter, Bill Clinton en Barack Obama hom kwaai kritiseer, is te verwagte. Maar skerp kritiek kom nou ook uit onverwagte oorde. Eers was dit die Republikeinse oudpres. George W. Bush wat Trump verwyt het dat hy die Amerikaners verdeel, pleks van verenig. (Dit was al in 2016 bekend dat sowel hy as sy pa, George H.W. Bush, nié vir Trump gestem het nie.)

Maar vandeesweek het vier senior offisiere, helde by die Amerikaanse publiek, Trump in die openbaar uit die aarde geloop. Die een was die afgetrede senior generaal, Martin Dempsey, ’n ander genl. James Mattis, Trump se eerste minister van verdediging, wie se geduld met die president se gereelde vloermoere ná twee jaar opgeraak en hy bedank het.

In ’n artikel in die tydskrif The Atlantic skryf Mattis: “Donald Trump is die eerste president . . . wat nie die Amerikaanse volk probeer verenig nie – wat nie eens vóórgee dat hy dit probeer nie. Pleks daarvan probeer hy ons verdeel. Ons is getuies van die gevolge van drie jaar van dié doelbewuste poging . . . drie jaar sonder volwasse leierskap.”

Ook genl. John Allen, wat in ’n stadium die Navo-magte se bevelvoerder in Afganistan was en die stryd teen die Islamitiese Staat gekoördineer het, het Trump trompop geloop.

In die gesaghebbende tydskrif Foreign Policy het hy (met verwysing na Trump se posering voor ’n kerk met ’n Bybel) geskryf: “Donald Trump is nie godsdienstig nie, het godsdiens nie nodig nie, en gee nie om vir die godsdienstiges nie, behalwe sover hulle sy politieke oogmerke dien.

“Die president het nie daarin geslaag om enige van die hoër emosies van leierskap wat ons desperaat in alle uithoeke van dié nasie in dié gevaarlike tyd benodig te projekteer nie.”

Hy het 1 Junie, die dag toe Trump soldate gebruik het om betogers uitmekaar te jaag, moontlik “die begin van die einde van die Amerikaanse eksperiment” genoem.

Ook adm. Mike Mullen, gewese hoof van die vloot, het Trump reguit gekritiseer. Dis uniek in die Amerikaanse geskiedenis. Trump kan nog in November wen, maar nóú is hy diep in die moeilikheid.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.