Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump se probleme nie opgelos

Die dood van Aboe-Bakr al-Bagdadi, berugte leier van die terreurgroep Isis, het groot aandag oor die wêreld heen getrek. Leopold Scholtz probeer nagaan wat die invloed daarvan op die politieke en militêre situasie in Sirië, Irak en Turkye kan wees en hoe dit pres. Donald Trump se binnelandse politieke lotgevalle kan raak.

Aboe-Bakr al-Bagdadi, berugte leier van die terreurgroep Isis. Foto: Getty Images

Pres. Donald Trump kon homself nie inhou nie. “Iets groots het pas gebeur,” het hy laas Saterdagaand getwiet.

Binne enkele ure kon hy op ’n mediakonferensie aankondig dat die berugte leier van die terreurgroep Isis in ’n blitsoperasie deur die Amerikaanse Delta Force – ’n elite-eenheid van die land se leër – in Noordwes-Sirië uitgeskakel is. Bagdadi het blykbaar in ’n tonnel ingevlug en het homself toe saam met drie van sy kinders opgeblaas.

Trump het dié prestasie só beskryf: “Bagdadi en die losers wat vir hom gewerk het . . . was bang hondjies.” Bagdadi self “het gekerm, gegil en gehuil . . . hy het nie soos ’n held gesterf nie, hy het soos ’n lafaard gesterf”.

Trump het dit ook vergelyk met die uitskakeling van Al-Kaïda se leier, Osama bin Laden, onder pres. Barack Obama, en gesê Bagdadi se dood is “baie groter” as Bin Laden s’n.

’n Agent het een van sy gebruikte onderbroeke gesteel om sy DNS in die hande te kry.

Twee mense wat die operasie saam met Trump vanuit die Withuis gemonitor het, die minister van verdediging, Mark Esper, en die hoof van die weermag, genl. Mark Milley, het agterna gesê hulle weet niks van die besonderhede wat Trump so triomfantelik oor Bagdadi se dood gegee het nie.

Die operasie, soos dit luidens berigte in die Amerikaanse media ontvou het, het ongelooflik glad verloop. Blykbaar het die Siriese Koerde die eerste inligting oor Bagdadi se teenwoordigheid in die noordweste van Sirië in die somermaande aan die Amerikaners gegee (dit was toe die Koerde en Amerikaners nog bondgenote was).

In dié tyd is ook een van Bagdadi se vroue en ’n Isis-koerier gevange geneem, wat bykomende inligting verskaf het oor plekke waar Bagdadi dikwels kom. Die CIA het plaaslike Koerde gewerf om dié plekke dop te hou en die inligting deur te gee as die terreurleier sy opwagting maak.

Toe het die Amerikaners begin met die beplanning van die operasie. ’n Agent het een van sy gebruikte onderbroeke gesteel om sy DNS in die hande te kry.

Aanvanklik het die Pentagon oorweeg om ’n hommeltuig te gebruik om Bagdadi uit te skakel, maar uiteindelik is besluit dat spesmagte die sekerste is.

Die operasie het die kodenaam Operasie Kayla Mueller gekry, genoem na ’n Amerikaanse vrou wat deur Isis gevang, gemartel, herhaaldelik verkrag en ten slotte vermoor is.

Agt helikopters – CH-47 Chinooks om die soldate (plus ’n hond) te vervoer en AH-64 Apaches om die vuurkrag aan te vul – is gebruik. Van hul basis het dié mag sowat 120 km ver gevlieg tot by Barisja, ’n gehuggie met ’n kompleks waar Bagdadi, sy lyfwagte en enkele van sy kinders die nag oorgebly het.

Met die helikopters wat die hel vanuit die lug op die kompleks laat neerdaal het, het die soldate ’n gat in die buitemuur geblaas en na binne gestorm. Bagdadi het in ’n tonnel ingevlug. Hy is die geleentheid gegee om oor te gee, maar het geweier en hom en sy kinders opgeblaas.

Sy oorblyfsels is aan die DNS geïdentifiseer en, soos in die geval van Bin Laden, in die see gegooi om te voorkom dat die graf ’n bedevaartsoord word.

Wat beteken Bagdadi se dood, en wat beteken dit nie?

Om mee te begin is dit ’n kwaai klap vir Isis.

Dié groep het al klaar die gebied wat hy in 2016 in Sirië en Irak verower het, verloor. Daarmee het die “kalifaat” wat Bagdadi uitgeroep het, met homself as kalief, in duie gestort.

Tog, Trump kan elke greintjie voordeel goed gebruik. Nog iets wat dit nié is nie, is die finale oorwinning oor Isis.

Ook beteken Bagdadi se dood ’n veer in Trump se hoed. Die uitskakeling van ’n man wat ’n lewensgroot gevaar vir Amerika en die hele Weste was, het immers onder Trump se bewind gebeur, en dis logies dat hy dit sal melk vir al wat hy werd is.

Trump staan op die punt om amptelik in ’n staat van beskuldiging (impeachment) gestel te word omdat hy na bewering skuldig is aan magsmisbruik. Bagdadi se dood bring minstens tydelik effens verligting.

Soos egter in Obama se geval gesien kon word, is die krediet wat die president vir só iets kry, tydelik. Die voordeel eb ná ’n paar weke weer weg. Tog, Trump kan elke greintjie voordeel goed gebruik. Nog iets wat dit nié is nie, is die finale oorwinning oor Isis.

Trump het ’n paar weke gelede in ’n impulsiewe opwelling die groen lig aan pres. Reçep Tayyip Erdogan gegee om die grensstrook aan Siriese kant te beset en die Siriese Koerde daar te verdryf.

Dit het aanleiding gegee tot die verdrywing van tot 300 000 Koerde, en dit was die einde van hul bondgenootskap met Amerika, ’n alliansie wat die einde van die Isis-kalifaat moontlik gemaak het. In die chaos wat op die Turkse inval gevolg het, het ’n paar honderd Isis-terroriste ontsnap uit kampe waar hulle juis deur Koerde bewaak is.

Dit kos min verbeelding om die moontlike gevolge hiervan in te sien. Bagdadi se uitskakeling sal waarskynlik ook nie genoeg wees om die verlies aan Amerikaanse geloofwaardigheid in die streek ongedaan te maak nie.

Die Koerde, wat 10 000 lewens verloor het in die oorlog teen Isis, het alle vertroue in Trump en die Amerikaners verloor. Dis ’n gevoel wat wyer in die Midde-Ooste gedeel word.

Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Ook in Irak en selfs in Israel word bekommerd gevra in welke mate die Amerikaners nog vertrou kan word.

Die vraag is ook of ’n operasie soos dié in die toekoms weer moontlik gaan wees.

Dit kan naamlik net gebeur as daar by wyse van spreke plaaslike ore op die grond is, en Trump het dié moontlikheid nou self aansienlik bemoeilik. Trouens, toe hy sien wat die praktiese gevolge van sy impulsiwiteit is, het Trump omgeswaai, Turkye met die vernietiging van dié se ekonomie gedreig en bekend gemaak dat Amerikaanse troepe nou die olievelde in Noordoos-Sirië vir die Koerde gaan beskerm.

Die gebeure sal ook nie die druk van die Demokrate in die Kongres verminder nie. In teenstelling met die normale praktyk het Trump nie die leiers van die Demokrate vantevore oor die operasie ingelig nie om – soos hy dit gestel het – te keer dat hulle die nuus voortydig uitlap.

Nancy Pelosi, Demokratiese speaker van die huis van verteenwoordigers, het egter daarop gewys dat Trump wel die Russe ingelig het.

Hoe ook al, Bagdadi se dood is ’n klap vir Isis. Maar Isis is nie klaarpraat nie, en Trump se probleme is nie op ’n einde nie.

Meer oor:  Isis  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Turkye  |  Sirië  |  Irak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.