SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Trump speel ’n gevaarlike spel met Sirië

Donald Trump bly maar Donald Trump. Soos weer bewys is met sy klaarblyklik impulsiewe besluit om alle Amerikaanse militêre betrokkenheid in Sirië te beëindig.

In beginsel, as ’n mens die praktiese implikasies buite rekening laat, is dit ’n begryplike besluit. Sirië (soos inderwaarheid die hele Midde-Ooste) is ’n mynveld wat liefs deur buitestanders vermy moet word.

Dit was die destydse pres. George W. Bush se besluit om Irak binne te val wat ’n kettingreaksie aan die gang gesit het.

Dit het die streek omgeskep in die episentrum van ’n reeks krisisse wat in die vorm van burgeroorloë en terrorisme oor die hele wêreld uitgekring het.

Trump se instink was van die begin af om uit ander se oorloë weg te bly. In beginsel ’n begryplike instink.

Tog lyk dit of die nuutste besluit – en veral die wyse waarop dit geneem is – meer probleme gaan veroorsaak as wat dit oplos.

Om mee te begin, het Trump blykbaar niemand geraadpleeg nie. Nie die Pentagon of die departement van buitelandse sake nie, nie sy politieke bondgenote in die kongres nie, nie sy bondgenote in Navo nie, selfs nie eens sy eie Withuis-amptenare nie. Al dié mense en instellings het dit eers gehoor toe hy daaroor getwiet het.

Om mee te begin, het Trump blykbaar niemand geraadpleeg nie.

In sy twiet het Trump sy besluit gemotiveer deur te sê dat die terreurbeweging Islamitiese Staat (Isis) die enigste rede vir Amerika se militêre betrokkenheid in Sirië was, en dat Isis nou verslaan is. Maar sy eie Pentagon het nog in Augustus in ’n verslag gesê ofskoon Isis kwaai verswak is, het die beweging nog sowat 14 500 vegters onder die wapen in Sirië.

Sy minister van verdediging, genl. Jim Mattiss, het nog ter elfder ure Trump tot ander insigte probeer bring, maar is bruut eenkant toe gevee. Trouens, alles dui daarop dat hy binne ’n week of twee afgedank kan word.

Met dié dat sy stafhoof, genl. John Kelly, ook afgedank is, verdwyn die laaste twee “volwassenes” in Trump se onmiddellike politieke omgewing ook.

Die besluit het voorts ingrypende geopolitieke gevolge vir die Midde-Ooste.

Ten eerste skop Amerika sy eie Navo-bondgenote, wat sy aan sy met die Amerikaners in die Midde-Ooste veg, in die tande. Die Britse minister van verdediging, Tobias Ellwood, het in ’n skerp verklaring gesê hy verskil “sterk” met die besluit. Terwyl selfs Republikeinse kongreslede negatief gereageer het.

Bowenal word drie lande, al drie mededingers van Amerika, deur die besluit bevoordeel. Die drie wat dankbaar in die vakuum stap, is Rusland, Iran en Turkye.

Gegewe die feit dat Trump se beleid in die Midde-Ooste grotendeels gebou is op die strewe om Iran in ’n hoek te druk, maak dit die jongste besluit eenvoudig onbegryplik.

Maar, ja, dis Trump van wie ons praat . . .

Meer oor:  Donald Trump  |  Sirië  |  Amerikaanse Militêre  |  Betrokkenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.