Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump twiet nou in paniek oor verkiesing
Pres. Donald Trump Foto: Chris Kleponis/ Bloomberg via Getty Images

Nooit sedert pres. Donald Trump in Januarie 2017 ingehuldig is, was daar so ’n eenparige verset oor partygrense heen teen ’n idee van hom nie.

Sy nuutste idee is om die verkiesing uit te stel. Die rede wat hy in ’n twiet geopper het, was dat die grootskaalse gebruik van posstemme in die presidentsverkiesing (’n regstreekse gevolg van die koronakrisis) tot bedrog van so ’n enorme omvang sou lei dat dit die hele idee van ’n verkiesing ongeldig sou maak.

Die kans dat Trump die plan kan deurvoer, is egter presies 0,0%. Hy het nie die wetlike mag om enigiets oor die verkiesingsdatum te besluit nie.

Die Amerikaanse grondwet gee daardie mag aan die twee huise van die kongres. En die kongres het in 1845 ’n wetsontwerp aangeneem wat bepaal dat die verkiesing op die eerste Dinsdag ná die eerste Maandag van November gehou word.

Om dit te verander moet Trump dus die steun van sowel die huis van verteenwoordigers as die senaat kry. Gesien die onmiddellike openbare teenkanting wat hy van Demokrate én Republikeine ondervind, is die kans daarvoor presies nul.

Peilings wys dat die Trump-ondersteuners baie geesdriftiger oor hul kandidaat as die Biden-ondersteuners is. Maar die weersin van die Biden-stemmers in Trump is ook baie groter as andersom.

Bowendien bepaal die Grondwet dat die president staatshoof bly tot om twaalfuur die middag van 20 Januarie, wanneer die nuwe president (of dieselfde een, as die vorige herkies is) ingehuldig moet word. Daardie tydstip is in marmer gegiet en kan slegs deur middel van ’n grondwetwysiging (twee derdes van albei huise van die kongres, asook die steun van driekwart van die deelstate se wetgewende vergaderings) verander word.

Indien 20 Januarie aanbreek en daar is om welke rede dan ook geen wettig verkose president nie, sal die volgende in die lyn van opvolging waarnemende staatshoof word. In dié geval sal dit Nancy Pelosi, (Demokratiese) speaker van die huis van verteenwoordigers, wees.

Dis nie moeilik om in te sien waarom Trump nou ewe skielik met die idee kom nie.

Dit kom op dieselfde dag as die slegte nuus dat die Amerikaanse ekonomie in die tweede kwartaal vanjaar met byna ’n derde gekrimp het, wat op sy beurt die gevolg van die korona-krisis en Trump se wanbestuur daarvan is. Al is daar nog byna drie maande oor, maak sulke nuus dit vir hom steeds moeiliker om sy herverkiesing op 3 November te verseker.

Bowendien wys peiling ná peiling ná peiling dat hy ver agter sy Demokratiese teenstander, Joe Biden, loop. Ook in die sleutelstate, wat dikwels die deurslag in die kieskollege gee en wat Trump se wa in 2016 deur die drif gesleep het, loop hy agter.

Peilings wys dat die Trump-ondersteuners baie geesdriftiger oor hul kandidaat as die Biden-ondersteuners is. Maar die weersin van die Biden-stemmers in Trump is ook baie groter as andersom.

Trump is in paniek. Dís die rede vir sy twiet.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Verkiesing  |  Menings  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.