Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Trump waggel soos ’n dronke met dié beleid

Pres. Donald Trump se beleid teenoor Noord-Korea het probleme. ’n Verdere ontmoeting tussen die Amerikaanse president en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, is “onmoontlik” tensy Amerika sy “vyandelike beleid teenoor ons” staak.

Dié standpunt is vandeesweek verkondig deur die Noord-Koreaanse adjunkminister van buitelandse sake, Tsjoe Son Hwi, wat in Moskou (sy was daar op besoek) gepraat het. Eers wanneer Amerika hieraan voldoen, kan weer oor die staking van Noord-Korea se kernwapenprogram onderhandel word, het sy gesê.

Trump en Kim het mekaar reeds twee keer ontmoet. Die eerste was in Junie verlede jaar in Singapoer en die tweede in Februarie vanjaar in Hanoi. Veral die eerste gesprek is deur Trump as ’n triomf aangekondig. Nadat hy die politieke temperatuur tussen hom en Kim tot byna kookpunt gedryf het, was die oordrewe vriendelikheid wat hy in die twee ontmoetings aan die dag gelê het, opmerklik.

Ondanks Trump se triomfantelike uitsprake oor sy suksesse is níks konkreets ooreengekom nie. Sedertdien het geblyk dat die Noord-Koreane voortstoom met die ontwikkeling van nuwe kernplofkoppe en missiele waarmee die wapens tot in Amerika gedra kan word.

Dis duidelik dat Kim ’n moeilike kalant is. Hy het groot prestigevoordeel uit die twee ontmoetings gehaal, maar van sy kant geen enkele toegewing gemaak nie. Wat vorentoe gaan gebeur, kan uiteraard nie met sekerheid voorspel word nie. Tot dusver is dit egter duidelik dat hy Trump soos ’n kitaar bespeel.

Tot dusver is dit egter duidelik dat Kim Trump soos ’n kitaar bespeel.

Hy wissel sy uitlatings af. Die een keer smeer hy heuning om Trump se mond, iets waarvoor die president uiters gevoelig is; dan weer klap hy hom by wyse van spreke bruut agter die kop (soos vandeesweek).

Kenners van Noord-Korea meen dié diktatuur sal nooit afstand van sy kernwapenarsenaal doen sonder ystersterk waarborge van Amerika nie. Amerika sal plegtig moet beloof om Noord-Korea se voortbestaan te verseker en om aansienlike geldelike hulp te gee.

Kim het gesien wat gebeur met diktators wat hul kernwapen-aspirasies prysgee. Minstens twee van hulle, Moeammar Ghaddafi van Libië en Saddam Hoesein van Irak, het ’n onaangename dood gesterf.

Kim is duidelik nie van plan om dié pad te bewandel nie. Dus is die kans goed dat selfs groot Amerikaanse toegewings hom nie sal laat afstand doen van sy kernwapens nie. Hier stuit Amerika – ongeag wie in die Withuis sit – op die grense van die moontlike. Die enigste manier om sekerheid te kry, is om Noord-Korea fisiek te verower, maar dit sal ten koste van dalk miljoene lewens wees.

Dit sal al help as die bewoner van die Withuis ’n konsekwente beleid volg. Tans lyk Trump se beleid na ’n waggelende dronk man wat nie op sy voete kan bly nie.

Meer oor:  Kim Jong-Oen  |  Amerika  |  Noord-Korea  |  Wêreldburger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.