Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tuisonderrig nie kinderspeletjie vir ouer of kind nie

’n Groot dankie aan ouers, gemeenskappe en die private sektor wat gehelp het dat 95% van alle skole gister gereed was vir heropening.

Weens Covid-19 is tuisonderrig steeds iets wat baie ouers oorweeg, maar dit kom met sy eie uitdagings. Kinders kan nie net wegbly uit die skool nie.

Ingevolge art. 4 van die Skolewet is ouers verplig om hul kinders se grondwetlike reg tot opvoeding te respekteer. Sou ouers besluit op tuisonderrig, moet daar by die departement van onderwys aansoek gedoen en geregistreer word. Dit is ook net vir hul eie kinders.

Tuisonderrig hou talle voordele in: Kinders word groot met hul ouers se morele waardes, wat die band tussen ouer en kind versterk. Daar is die vryheid om van die kurrikulum af te wyk en iets interessants na te vors. Sonder enige druk van onderwysers of boelies is kinders minder gespanne, wat tot beter leer lei. Met tuisonderrig hou die leerproses nooit op nie – of dit ’n uitstappie is en of selfs net ’n maaltyd voorberei word, alles is ’n leerervaring.

Tuisonderrig is egter ’n voltydse taak en vereis ouers se onverdeelde aandag en tyd. Ouers moet tyd inruim vir lesvoorbereiding, klasgee en die nasien van take en toetse en besoeke aan die biblioteek. Kortom, as ouers hul kinders gehalteonderrig wil bied, moet hulle heeltyd beskikbaar wees. Ouers wat hul kinders tuis onderrig, moet oor Job se geduld beskik. Kinders kan (en sál) volwassenes se geduld beproef, ook dié van hul eie ouers. Soms moet jy herhaaldelik verduidelik en jy durf nie jou humeur of geduld verloor nie.

In teenstelling met openbare skole wat onderrig gratis aanbied (of teen nominale skoolgeld), is tuisonderrig nogal duur. Daar is heelwat tuisonderrigpakkette kommersieel beskikbaar. My raad is dat ouers eers net ’n gedeelte aankoop om te sien of die kind daarby aanpas.

Daar is ook heelwat versteekte koste, soos projekmateriaal, skryfbehoeftes, boeke, uitstappies, rekenaars en sagteware. Sportafrigting, musiekonderwysers en dansinstrukteurs is nie goedkoop nie.

Dit is onwaarskynlik dat jou huis oor alle geriewe sal beskik wat nodig is vir doeltreffende onderrig. As jou kind vakke soos chemie en fisika het, benodig hy of sy ’n laboratorium vir eksperimente, asook apparate en beskermde kleredrag. Jou kind sal ook nie toegang tot sportgeriewe hê nie.

MIchael le Cordeur
Michael le Cordeur

’n Belangrike voordeel van tuisonderrig is dat kinders teen hul eie pas vorder sonder druk van hul portuurgroep. Baie kinders wil egter uitgedaag word. Trouens, hulle gebruik dit as motivering om bo ander uit te styg.

Die grootste nadeel van tuisonderrig is dat kinders sonder vriende grootword. Kinders is sosiale wesens wat met hul portuurgroep wil sosialiseer. Dit is belangrik vir hul geestelike welsyn, ’n gesonde selfbeeld en die ontwikkeling van sosiale vaardighede wat nodig is in die volwasse wêreld.

Daar is ’n fyn balans tussen jou rol as ouer en jou taak as onderwyser. My advies aan ouers is die volgende: Moenie oorhaastig besluit nie. Praat eers met die skoolhoof en vind uit wat die skool gedoen het om ’n veilige leeromgewing te skep.

Wat ook al die besluit, tuisonderrig is ’n groot verantwoordelikheid wat algehele toewyding vereis.

  • Prof. Le Cordeur was voorheen onderwyser, skoolhoof en kringbestuurder. Hy is tans hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.