Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Turkye en die Weste hap al weer na mekaar

Die betrekkinge tussen Turkye en die Weste is opnuut onder groot druk. Sommige waarnemers gis openlik of dit tot ’n breuk in Navo se suidoostelike flank kan lei.

Die onmiddellike aanleiding is die konfrontasie tussen ’n Franse en ’n Turkse oorlogskip in die Middellandse See.

Luidens berigte in die Europese media wou die Franse fregat ’n verdagte vragskip, die Cirkin, wat onder die Tanzaniese vlag vaar en wat glo onderweg na Libië was, deursoek.

’n Turkse fregat wat in die onmiddellike omgewing was, het toe blykbaar sy aanvalsradar “aggressief” op die Franse skip gerig, waarna die Franse skip padgegee het. Dis nie die eerste keer dat só iets gebeur nie.

Kort tevore het ’n Griekse oorlogskip die Cirkin ook probeer deursoek, maar is eweneens deur aggressiewe Turkse optrede gekeer.

Turkye word daarvan verdink dat hy wapens onwettig aan die Libiese regering lewer. ’n Burgeroorlog woed in dié Noord-Afrikaanse staat, en die Verenigde Nasies het gevolglik ’n verbod op alle wapenleweransies aan die vegtende partye in Libië ingestel.

Frankryk en Griekeland is twee van die lande wat deelneem aan ’n internasionale maritieme operasie op die Middellandse See wat die verbod probeer afdwing. Turkye se pres. Reçep Tayyip Erdogan, op sy beste ’n kwasterige nasionalis wat hom nie veel aan beperkings steur nie, is egter vasbeslote om sy land se invloed tot ver buite sy grense uit te brei.

Erdogan bots ook in ander opsigte met die Weste. Hy beperk die demokratiese vryhede steeds meer, wat tot ontsteltenis in die Europese hoofstede aanleiding gee.

Iets wat op simboliese vlak tot groot irritasie lei, is Erdogan se openlike strewe om die bekende Hagia Sofia in Istanbul weer in ’n moskee om te skep. Die bouwerk is oorspronklik in 537 deur die Bisantynse keiser Justinianus as Grieks-Ortodokse kerk voltooi, maar met die inname van die stad in 1453 deur die Turke het dit ’n moskee geword. In 1935 is dit as gebaar van versoening teenoor die Weste in ’n neutrale museum omskep en talle van die oorspronklike Bisantynse mosaïeke is herstel.

Die amptelike besluit hieroor is vandeesweek met twee weke uitgestel, maar daar word ernstig rekening gehou met die moontlikheid dat Erdogan se aggressiewe nasionalisme die bestaan van Christelike mosaïeke in wat beskou word as ’n moskee, nie sal duld nie.

Turkye het in ’n stadium ’n ernstige poging aangewend om lid van die Europese Unie (EU) te word. Omdat die land se demokrasie maar vlak gewortel is, het die EU nie toegelaat dat Turkye verder as die spreekwoordelike wagkamer vorder nie. Met Erdogan se Turkse nasionalisme wat steeds aggressiewer vorms aanneem, is die kans op EU-lidmaatskap steeds kleiner. En dít bring die moontlikheid van ’n breuk in Navo ook steeds nader.

Meer oor:  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.