Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tussen die duiwel, diep blou see

Selfs ons alledaagse posisioneringskampe is geraak deur die Covid-19-pandemie.

Verlig of verkramp, links of regs, sosialisties of kapitalisties, individuele regte of groepsregte, regstellende aksie of meriete, vegters teen aardverhitting of ontkenners daarvan, noem maar op. Nou is dit die inperkers teen die uitbrekers.

Barnard Beukman

En dit is juis hier waar alle regeerders, ook pres. Cyril Rama-phosa, tussen die duiwel en die diep blou see is.

Sommige deelnemers aan die debat – amper soos met Bybelversies buite konteks uit die Ou Testament – gaan grawe die nodige wetenskaplike verslag of projeksies of voorbeeld van ’n land uit wat hul punt bewys.

Maar, in alle erns, daar is heelwat goedingeligtes en kundiges wat geldige punte opper ten gunste van ’n langdurige inperking of ’n opheffing met bepaalde beperkings.

Die kernargument van die inperkers is dat die meeste wetenskaplike data tans wys dat ’n ononderbroke staat van inperking van tussen 40 en 50 dae nodig is om die virus se verspreiding grootliks die nek om te draai. Veral ter wille van die kwesbares meen hulle dit is nou prioriteit om lewens te red. In elk geval sal mediese geriewe nie ’n massa-uitbreking kan hanteer nie en sal duisende sonder versorging sterf.

Hulle wys daarop dat lande wat aanvanklik gedink het die antwoord is mindere maatreëls, die natuurlike verspreiding van die virus en sodoende ’n natuurlike immuniteit wat ontwikkel, moes omswaai toe infeksies handuit geruk het. Die Britte en veral Amerika het gewys as die bestellings vir lyksakke styg, swig politici voor inperking. Selfs Donald Trump.

Die lof wat hy nou kry vir sy hantering van die situasie is hoogs verdienstelik.

Swede swig ook

Die gunstelingvoorbeeld van die uitbrekers, Swede, het voor die langnaweek ook omgeswaai. Hulle verwag nou ook baie sterftes en oorweeg meer inperkings.

Die uitbrekers meen Rama-phosa moet juis die beweegruimte gebruik wat hy gekry het omdat hy vroeg in die siklus ingeperk het. Daarom kan hy vol-gens hulle vroeër uitbeweeg en die ekonomie weer oopsluit. Die vernietigende inkrimping van die ekonomie gaan volgens hulle noodwendig groter vernietiging, ellende en onstabiliteit bring.

Hulle vra om die opheffing van die inperking sodat ondernemings en nywerhede weer aan die gang kan kom. Daar moet dan ook nog maatreëls wees om ’n gesonde afstand, gesonde praktyke en beskerming van kwesbares, soos bejaardes, te handhaaf.

Hulle vrees ook dat die inperking ’n ewigdurende Groundhog Day skep waaruit nooit gebreek kan word nie weens vrese vir die volgende vlaag.

Die laaste en volgende paar dae is verskeie van dié vertrekpunte op ons blaaie en op Netwerk24 te lees soos verwoord deur meningskrywers, ekonome en wetenskaplikes.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand.
Geleidelike uitfasering

Ramaphosa het nou voorlopig sy kaart gespeel met ’n verlengde inperking. Maar praat ook reeds oor hoe die land daaruit bestuur gaan moet word. Dit dui op ’n geleidelike uitfasering ná April.

Die lof wat hy nou kry vir sy hantering van die situasie is hoogs verdienstelik. ’n Pilaar van standvastigheid midde-in ’n warboel van teenstrydighede.

Maar sy toets vir ware staatsmanskap gaan steeds wees of hy die land kan red van dreinerende staatsondernemings. En of hy die pogings vanuit die ANC om ’n Stalinistiese wurggreep op landsake te kry, sal kan afweer – dus of hy sy en Tito Mboweni se beloftes sal kan deurvoer. Daarvan gaan die pandemie hom nie polities red nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.