Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saterdag met piet
Tussen son se bak en wolke se blerts

Hier is drie verskillende briewe wat die Hemel ontvang het tydens die laaste tyd se reën.

Dankie vir die verfrissende hemels­nies:

Geagte Hemel. Vanjaar se somer het soos ’n Eerstewêreldland-atleet goed opgewarm om ons behoorlik te verkool en te verdroog. Daar was so twee weke waar ek soos tjops gevoel het wat te lank in die oond gelos is: droog, taai en souterig.

Selfs die wind het die wrede geaardheid van vlamme aangeneem. Om die deur oop te maak, was soos om in ’n mikrogolf te stap. Die enigste verlossing was om my kop neffens die ysblokke neer te lê in die vrieskas.

Toe kom daar ’n verfrissende hemelsnies – reën. Bless you.

Dié het die oorywerige somer se bose intensies gestuit soos ’n verkeerspolisiebeampte. Elke druppel wat die aarde getref het, was soos spoeg wat spat van ’n liefdevolle, passievolle soen.

Ek het selfs my arms uit die venster gesteek sodat my vel weer liefde en oormatige plesier kan ervaar . . . en dit was goed.

My dankbaarheid is sonder grense.

Groete, Piet.

Help, die wolke het ’n blaas wat vol is:

Liewe Hemel! Ek is vroeg die een oggend wakker gemaak met ’n blou slag. Eers dag ek dit is ’n booswig wat toeslaan – Suid-Afrika het ’n vyfde seisoen wat 365 dae lank is en dit is die misdaadseisoen.

Maar toe besef ek dit is die wolke wat brul. Daarna het dit erger geraak, dit het kompleet geklink asof die wolke die nare klanke van ’n maagaandoening namaak. Dit was ’n gegrrr en ’n gegra en dan ’n harde geblerts met water wat spat en blou flitse asof dit ’n toilet is met klubligte.

Ek het ’n hele paar keer aan my duvet geklou, want die bliksemstraal het my bekruip asof dit my aspris probeer bangmaak.

Ek is baie dankbaar vir ’n heerlike hemelsnies en ek is seker die boere met plase jubel en juig. Dit voel net asof die wolke in Gauteng se blase baie vol is. Wat voorheen ’n parkie was, is nou ’n dam – en wat voorheen ’n pad was is nou ’n rivier.

Ek kla hoegenaamd nie en ek waardeer natuurlik die koeligheid.

Ek vra net vir ’n gemaklike middelpunt tussen die son se gebak en die wolke se geblerts. My waardering ken geen einde nie.

Groete, Piet.

Dankie:

Beste Hemel, ek merk my briewe word wel gelees en hiervoor blaas ek ’n soen van dankbaarheid. Ek besef mense is nooit tevrede nie. In die winter se bibbers kla ons en wens ons vir die son se streel. Wanneer somer met al sy grade spog, smeek ons vir ’n hemelsnies en dan raak dit weer te veel vir ons.

Hoewel Suid-Afrika se vyfde seisoen baie onaangenaam is, is ons ander vier darem heerlik. Ons het hier en daar ’n ongehoorsame weer, maar oor die algemeen is ons redelik bederf.

Daarom wil ek hartlik dankie sê. En by voorbaat dankie dat ons nie gaan skroei wanneer die wolke se blaas leeg is nie – swart trek meer son aan.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.