Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tutu se versoek is steeds geldig
Anton van Niekerk

Hoewel ’n mens dreig om afgestomp te raak, tref die werklikheid van hoe goedkoop menselewens in hierdie land geword het my soms opnuut tussen die oë.

Asof die gruwelikheid van die kwota geweld en moorddadigheid wat die media daagliks uitbasuin, nie genoeg is nie, dra elkeen met ’n stukkie deernis in sy gemoed ook nog die las van ’n pandemie wat bedreig, beangs en soms ook vermoor sover dit beweeg.

Dit alles laat my deesdae terugdink aan ’n merkwaardige ervaring wat ek as ’n jong man in 1985 gehad het.

Dit was, soos tans, ook krisistye. PW Botha het vasgesteek in die Rubicon. Die land was aan die vooraand van ’n noodtoestand. Die townships het gebrand. Revolusie was in die lug.

In dié tyd word ek saam met ’n aantal Stellenbosse kollegas (meestal teoloë, maar ook ’n paar gewone sterwelinge soos ekself) genooi vir ’n besoek aan Soweto­ en Alexandra.

Willie Cilliers en Sam Buti reël die toer. Vir die meeste van ons is dit die eerste besoek aan Soweto, laat staan nog ’n Soweto wat gis en borrel en sporadies oorkook van opstand en verset teen apartheid, die ondubbelsinnige vyand­ waarmee geen kompromie aan te gaan is nie.

Vir my was die hoogtepunt van ons toer ons besoek aan die toenmalige biskop van Johannesburg, Desmond Tutu.

Hoe moeilik dit ook al is om vandag te glo, in daardie tyd was hy vir apartheid-aanhangers die versinnebeelding van kommunisme, revolusie en leierskap in die uitwissing van Afrikaners en wit mense.

Die meeste van ons het gelees hoe hy skryf oor God se droom, wat nie noodwendig ons droom is nie.

Die meeste van ons het gelees hoe hy skryf oor God se droom, wat nie noodwendig ons droom is nie.

Ons het seker twee uur saam met hom deurgebring. Wat ’n openbaring!

Hy het ons oorrompel met sy heg gewortelde spiritualiteit en teologiese diepgang. Tog was hy ook vol humor en selfspot. Ons was sprakeloos.

Die tyd breek aan dat ons moet vertrek. Tutu huiwer ’n oomblik. Dan kom sy laaste woorde: “Ek verstaan julle is almal dominees en teoloë uit die Afrikaanse kerke?”

Ons knik instemmend. Hy gaan voort: “Weet julle wat ek graag sou wou sien dat julle aan jul mense sal sê wanneer julle terug is?”

Ons knik weer gretig. Hier kom dit nou, dink ek by myself. Nou gaan hy ons vra om NG lidmate te looi met die sosiale kritiek van die Ou Testamentiese profete, of herinneringe aan die laaste oordeel of selfs ’n dreigement van oorlog teen apartheid!

Wat hy daarna aan ons sê, is iets totaal anders. “Gaan sê aan jul mense veral één ding, naamlik dat hulle wáárde het in God se oë. Sê vir hulle hulle het soveel waarde dat God self gely het in kruis en opstanding om daardie waarde te erken en te beskerm.”

Hy gaan voort: “Ek vra dat julle jul mense daaraan sal herinner. Want iemand wat weet hoeveel waarde hy het in God se oë, is iemand wat nie eens daaraan kan dink om mense – beeld­draers van God soos hyself, ongeag velkleur, stand of status – soos onmense te behandel nie.”

Op daardie noot het hy van ons afskeid geneem, teen die agtergrond van die tafereel van woede, opstand, geweld en moordlus in die strate om die katedraal waar ons ontmoet het.

Ek, soos die meeste van ons, was verslae. Al het ek in my jeugdige voortvarendheid gedink my oë het al oopgegaan oor die werklikhede van hierdie “wye en droewe land”, het ek skielik besef dit was bloot op skrefies oop.

Daar is ’n ander kant van en ’n ander moontlikheid vir Suid-Afrika. As ons almal net kan verstaan watter waarde ons het . . .

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Desmond Tutu  |  Geweld  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.