Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Twee moorde, twee uitkomste
Willie Spies

Dit is ’n storie van twee slagoffers: Dit was nie die beste tye nie, vir die jongeres was dit die slegste tye tot nog toe.

Dit was ’n era van eiewysheid, dit was die era van irrasionaliteit. Dit was ’n tyd waarin sommige hemel op aarde wou skep. Dit was ’n tyd waarin hulle in die proses hel op aarde geskep het.

In daardie tyd, net voor sononder op Goeie Vrydag, het twee vrouesoldate, gewapen met sambokke, by ’n huis op ’n piepklein erf in Alexandra, noord van Johannesburg, opgedaag.

Buite die huis, in die erf, het ’n leë kampstoel gestaan en langs die kampstoel ’n halwe beker bier.

Dit was Collins Khosa se kampstoel en bier. Collins was in die huis, waar sy lewensmaat, Nomsa Montshwa, besig was om vir hom aandete in te skep. Die soldate het die huis ingevaar en dit deurgesoek. Hulle het beslag gelê op een blikkie bier in Collins se yskas en een blikkie bier in die yskas van sy vriend, Thabiso Muvhangu.

Die soldate het hulle beveel om buitentoe te gaan “sodat hulle ’n punt bewys” kan word.

Pres. Cyril Rama­phosa, het die 11 sterftes van mense onder inperkingsregulasies en 230 000 inhegtenisnemings toegeskryf aan “oor-entoesiasme”.

In daardie stadium het versterkings opgedaag: nog soldate, polisiemanne en metropolisielede. ’n Woordewisseling het gevolg, waarna die soldate vir Collins brutaal begin aanrand het.

Hulle het hom met die kolf van ’n R4-geweer teen die kop geslaan, bier oor hom uitgegooi en hom teen die sementmuurtjie te pletter gestamp, terwyl hulle hom met die vuis, klappe en skoppe bygedam het.

Nadat die soldate en polisiemanne weg is, het Nomsa vir Collins tot by sy bed gehelp. Hy het begin naar word, sy spraak verloor en gaandeweg verlam geraak. Daardie nag is Collins Khosa dood.

Sy familie het ’n prokureur gaan sien en as eerste stap is die konstitusionele hof genader om direkte toegang, maar die konstitusionele hof het twee weke ná die dood van Collins Khosa beslis dat dit nie in die belang van geregtigheid was dat die hof direk genader word oor die saak nie.

Vroeg in Mei was Collins Khosa se naasbestaandes weer in die hof in Pretoria. Regter Hans Fabricius het in hul guns beslis, onder meer dat die betrokke soldate geskors en dissiplinêr verhoor moes word en dat die weermag ’n goeie praktykkode moes ontwikkel om in die toekoms soortgelyke voorvalle te voorkom.

Verlede week het die weermag se ondersoek die soldate van alle blaam onthef en die slagoffer daaraan skuldig bevind dat hy die twee vrouesoldate geprovokeer het omdat hy hulle nie met die nodige respek behandel het nie.

’n Fout waarvoor hy met sy lewe moes boet.

Die soldate is terug by die werk. Hul opperbevelhebber, pres. Cyril Rama­phosa, het die 11 sterftes van mense onder inperkingsregulasies en 230 000 inhegtenisnemings toegeskryf aan “oor-entoesiasme”.

Sowat 14 400 km van Alexandra, aan die ander kant van die aarde, in ’n ander stad – Minneapolis – is nog ’n man, die 46-jarige George Floyd, dood nadat hy brutaal deur ’n polisielid in hegtenis geneem en in bedwang gehou is.

Die polisielid en sy drie kollegas is reeds afgedank en hy is van moord aangekla, maar die land is steeds aan die brand. Winkels en selfs ’n kerk is gebrand en geplunder.

Die ANC het pas wat beskryf word as die brutaliteit van Amerikaanse polisie teen veral swart Amerikaners veroordeel en wil Ramaphosa afvaardig om daaroor gesprek te voer.

In hierdie twee stories van twee slagoffers in twee stede en die reaksie daarop is die skreiende dubbele standaard en dwaasheid van die tyd opgesluit.

  • Spies is die prokureur van AfriForum en voorsitter van Pretoria FM.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.