Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tweede Koue Oorlog speel af in Oos-Asië

As jy die internasionale politiek wil voorspel, moet jy jou daarvoor regmaak dat jy waarskynlik verkeerd gaan wees. Tog, op grond van insig oor hoe internasionale magsverhoudinge werk en ’n kennis van die geskiedenis, kan jy ’n ingeligte raaiskoot waag.

Wat ’n mens tans voor jou oë in Oos-Asië sien gebeur, is ’n tweede Koue Oorlog – dié keer tussen China en sy bondgenote enersyds en Amerika en sý bondgenote andersyds.

Leopold Scholtz

En net soos met die eerste Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie en hul onderskeie bondgenote, is die skeidslyn tussen ’n “koue” en ’n “warm” konflik flenterdun.

In enige konflik is daar twee kante van die waarheid. Dikwels het albei kampe in mindere of meerdere mate skuld aan wat gebeur. In dié geval dra China egter duidelik die meeste skuld, al maak Amerika ook nie altyd reg nie. Onder pres. Xi Jinping, ’n aggressiewe nasionalis wat sy land se glorie van die verlede wil laat herleef, het die Chinese ekonomie ongekend gegroei.

Daarmee saam het die land ook militêr tot ’n reus gegroei: Sy weermag is nou só sterk en neem só in krag toe dat Amerika nie meer summier op ’n oorwinning kan reken as die twee aan mekaar sou spring nie.

Die kantelpunt was die veiligheidswet wat China op 30 Junie in Hongkong afgedwing het. Toe Brittanje die gebied in 1997 aan China oorgedra het, het laasgenoemde beloof om die demokrasie te respekteer – “Een land, twee stelsels” was die leuse. China het dit ook vir ’n hereniging met Taiwan aanbeveel. Maar die veiligheidswet het op woordbreuk neergekom. Die Hongkongse regstaat is bruut onderdruk.

Dit beteken dat China, Amerika, Japan, Suid-Korea en Indië almal hul spiere begin bult. Die Chinese hou vanaf Maandag grootskaalse maritieme oefeninge in die Suid-Chinese See; die Amerikaners het met die Indiese en Japanse vloot geoefen; nuwe Frans-vervaardigde straalvegters het pas in Indië aangekom; Amerika het gevorderde bomwerpers na Diego Garcia in die Indiese Oseaan gestuur; en China versterk sy magte in die grensgebied met Indië, waar botsings onlangs plaasgevind het.

Is Taiwan volgende op die Chinese lys? Indien wel, het Amerika ’n duidelike boodskap aan Beijing gestuur met die besoek van sy gesondheidsminister aan die eiland. Dit het tot groot woede en allerlei dreigemente in Beijing gelei. Die temperatuur is duidelik besig om steeds meer verhit te raak.

Dis waar dat pres. Donald Trump deel van die verantwoordelikheid moet dra, gesien sy handelsoorloë met China. Hy kyk hoofsaaklik soos ’n sakeman na twee kolomme – geldelike wins en verlies – en hou nie voldoende rekening met sake soos geopolitiek nie.

Maar dit bly waar: Met enige president in die Withuis sou die wêreld met ingehoue asem na ’n eskalasie in die spanning tussen die twee lande gekyk het.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.