Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Twitter gons oor voorstel oor emotikons
Jana Luther

Toe Hans Bennis, hoof van die Nederlandse Taalunie, dié week aan die Nederlandse Algemene Dagblad voorstel dat koerante en nuuswebwerwe naas gewone teks in hul berigte en artikels ook emotikons begin gebruik, was Twitter in rep en roer.

“Gebruik mense jonger as 60 nog emotikons?” vra ’n bekende professor gemaak verbaas. “Kommunikasie met emoji’s? Dit lyk soos apetaal!” sê ’n ander. Wat my herinner aan die openingstrefwoord in die Instituut vir die Nederlandse Taal se internetwoordeboekie wat op 1 Mei verskyn het om die internet se 25-jarige bestaan te vier, naamlik “aapstertgenerasie”: Almal wat tussen 1990 en 2005 gebore is en met moderne kommunikasiemiddels soos die internet en e-pos (vandaar die aapstert, die teken @ in ’n e-posadres) grootgeword het.

Dat die internet binne ’n skrale kwarteeu omtrent elke aspek van miljoene mense se bestaan beïnvloed het, kan nouliks ontken word. Ook hoe ons deesdae met mekaar kommunikeer. Uit ons daaglikse kommunikasie, wat al hoe meer visueel raak, is kletssimbole nie meer weg te dink nie. Met foto’s en emoji’s in WhatsApp- en Snapchat-boodskappe, op Instagram, Twitter, Facebook, noem maar op, vind daar vandag gesprekke plaas waarvoor onlangs nog oproepe gemaak en e-posse en teksboodskappe gestuur is.

Ook die taal- en visuelekommunikasiekundige Neil Cohn wys op hoe emotikons en emoji’s geskrewe kommunikasie kan aanvul of verbeter. Soortgelyk aan gesigsuitdrukkings en handgebare wat by gesproke taal belangrike inligting verskaf. Lig iemand die wenkbroue of knipoog die spreker? Dan weet die luisteraar: Wat gesê word, is dalk tergend, ironies of sarkasties bedoel.

By Bennis se voorstel moet ’n mens egter die verskil tussen emotikons en emoji’s in gedagte hou: Emotikons word met leestekens gevorm om emosies aan te dui, soos ’n glimlag :-), ’n knipoog ;-), ongelukkigheid :-( of verbasing :-o. Die eerste emotikon was die laggende gesiggie, Engels se geel “smiley”, wat reeds van die 60’s dateer.

Daarenteen hou die Japanse woord “emoji” nié met emosies verband nie, maar is ’n samevoeging van die woord “e”, wat “beeld” beteken, en die woord “moji”, wat “karakters” aandui.

Masahide Joeasa, ’n Japanse neuroloog, het bevind dat ’n emojigesiggie dieselfde deel van ’n mens se brein aktiveer as dié deel wat werklike gesigte herken. ’n Laggende of kwaai emoji kan by die ontvanger daarvan dus dieselfde gevoel as regte vriendelikheid of stuursheid wek.

Emotikons roep geen gesigte op nie, maar hulle bly – oordeelkundig aangewend – tog nuttige hulpmiddels vir skrywers. Ook dié onder 60 wat woorde en sinne in die juiste konteks wil plaas, emosies wil weergee wat hulle andersins moeilik uitdruk, of dalk net wil keer dat lesers, nogmaals, satire vir soetkoek opeet. ;-)

Of wat sê julle?

  • Jana Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.
Meer oor:  Taal  |  Emoji  |  Sosiale Media  |  Twitter  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.