Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Twitter wag nie, of hoe prof?

Daar’s ’n natuurwet wat alle breekslae weerstaan.

Met ’n kopie van dié koerant in die hand nader ek die betaaltoonbank by die CNA-winkel op die Kaapstad Internasionale Lughawe. Die produk én die gebabbel onder die verkoopslui is Afrikaans. Sonder uitsondering kom die groetwoord op Engels. Ferm maar vriendelik – maar sonder om die uitwisseling Twitter-vlerke te gee – hou ek op Afrikaans vol.

Sonder uitsondering faal ek en loop ek met ’n stert wat wil-wil druip die winkel uit – met Afrikaans wat gou weer agter my oprinkel.

Soms – al hoe meer – begewe die taaldrif my tog. Dán koop ek sonder verset met dowwerige Engelse munte.

Natuurlik besef ek daar’s ’n magswanbalans tussen my en die verkopers. Boonop is ek wit en daarom in baie onpeilbare opsigte bevoorreg – en húlle nie. Én dat my wit bevoorregting maak dat ek dikwels binne-in soos ’n brose vaas is onder kritiek of teëspraak wat van buite my tradisionele (lees: wit en middelklas-) denkraamwerk kom.

Vandaar dat ek dit nou vermy om in sulke winkels waar sulke dinge gebeur ’n vloermoer of ’n “sissige fiks” (vanjaar se top-neologisme?) te pleeg. Daarom my merendeelse tjoepwees.

Vandaar ook my verbasing oor hoe die Stellenbosse Gamaliël, prof. Jonathan Jansen, na berig word ’n blykbaar onskuldige stuk toenadering in die Protea-boekwinkel op Matieland benader het. En in ’n sissige fiks uitgerafel het.

Die onderwys-ghoeroe, wat die Kovsies-rektor én ’n genoot aan die Stanford-universiteit in die VSA was, het laat val dat hy – as hy tyd kry ná hy hoeveel bedrieglike Israeliete op sosiale media geontvriend of geblok het – in ’n essay sý kant van die saak sal stel.

Tog het hy verlede week in die Engelse media laat blyk dat wat hom in die Protea-boekverkoper se aanslag gegrief het haar krasse taalchauvinisme was.

Maar moet die rysige professor nie ook maar somtyds sy groot status ligter dra nie?

Ek was nie ’n vlieg op die muur in die boekwinkel toe die professor bedien is nie. Tog ken ek die winkel goed. Daar is dáár ook ’n jong verkoper – dalk ’n student? – wat my Afrikaanse vrae reëlmatig op Engels begroet. Dit tersyde.

Die getuienis, voorlopig, is dít. Die professor doen by die toonbank op Engels oor skryfbehoeftes navraag.

Dis natuurlik sy volste reg om hierdie transaksie in Engels te beklink.

Tog is die professor al baie jare lank ’n bulderstem in die Afrikaanse media, waar hy dikwels in rubrieke sy wys­heid aan die lesende menigte oordra. Hy’s warempel ’n Afrikaanse iemand.

Ná ’n vlugtige soektog op die webwerf YouTube vind ek ’n beeldgrepie waar hy ondervra word. Hy praat die pragtigste – ’n amper singerige – Afrikaans. Hy gebruik die woord foeter en dit klink soos poësie. Daarom verbaas dit my nie dat die boekverkoper, ten spyte van die professor se aanvanklike “Good morning”, op Afrikaans teruggegroet het en gevra het wat hy benodig nie.

Die norm is immers al hoe meer vir Afrikaanses – soos die prof? – om uit beleefdheid eerder op Engels te groet al is albei partye Afrikaans magtig.

Sy beroemdheid het uitgeloop op haar tienermeisie-agtige opvolgvraag: “Is jy die professor van die Vrystaat?”

Natuurlik sal ek nooit weet hoe dit voel om die lewe sonder wit bevoorregting deur te gaan nie. Dis met piëteit dat ek dus mense wat dít nie beskore is nie se ervarings moet bejeën – ook die professor s’n wie se uitgesproke menings ek provokatief vind.

Maar moet die rysige professor nie ook maar somtyds sy groot status ligter dra nie? En in oorweging bring dat ’n toegewyde Stellenbosse boekverkoper wat opgewonde met ’n Afrikaanse behemot Afrikaans praat dalk nie die gesig van Afrikaanse taalchauvinisme is nie.

Maar Twitter wag vir niemand nie.

* Meiring is ’n regsgeleerde.

Meer oor:  Jean Meiring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.