Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Twyfel is allermins ’n teken van swakheid
Jan-Jan Joubert

By die onlangse Woordfees vra iemand my iets wat ek al dikwels gevra is – en al dikwels oor nagedink het. Dit handel oor wit Suid-Afrikaners van my generasie – tans rofweg tussen 40 en 50 jaar oud – en oor hoekom so relatief min van ons leiersposisies in die gemeenskap opneem.

Die eerste van die baie kere dat ek al hierdie vraag gevra is, onthou ek baie goed. Dit was in Mei 2007 en die vraag is gevra deur Francois Groepe, wat in daardie tyd ’n senior pos by Media24 beklee het en later ’n belangrike bydrae in die topbestuur van die Reserwebank sou lewer.

“Hoekom steek so min wit mense van jou generasie jul hand op vir leiersposisies?” het hy destyds gevra – en ek het nie geweet wat om te antwoord nie.

Niemand kan namens ’n generasie antwoord nie (en dié wat dit probeer doen, is myn insiens arrogante dwase), want ’n generasie bevat ’n klomp individue en ’n groot aantal uitsonderings op wat dalk as ’n heersende tydsgees ervaar word.

Ek was in 1990 agtien jaar oud en in matriek. In daardie jaar het die hele leefwêreld van Suid-Afrika verander.

Dit gesê, wil ek iets aan die hand doen as begin van ’n gesprek met diegene wat daarin mag belangstel, en van my kant af (soos weldra sal blyk) sonder selfversekerdheid. Ek wil aan die hand doen dat verskeie denkende lede van my generasie bekend kan staan as die “generasie van twyfel”.

Daar sal sommige mense wees wat twyfel as ’n teken van swakheid sien. Ek verskil – ek dink twyfel maak jou beter.

Ek was in 1990 agtien jaar oud en in matriek. In daardie jaar het die hele leefwêreld van Suid-Afrika verander. Vir baie van ons was dit ’n verligting en ’n bevryding, soos blyk uit die referendum-uitslag van 1992 toe sowat 69% van wit Suid-Afrikaners vir demokrasie gestem het en 31% daarteen.

Wat dit vir baie mense in my generasie beteken het, was dat jou leefwêreld omgekeer en die soeke na verandering ten goede deel van jou DNS geword het.

Dit het jou gefokus op diegene wat kwesbaarder as jy is, weg van ’n nasionalistiese en eiegeregtige ideologie wat ons suur bekom het en waarvan ons tans die wrange vrugte pluk. Dit het jou as denkende mens dikwels ontneem van die selfversekerdheid – die sogenaamde wete dat jy reg is – van soveel voorvadergeslagte.

Baie van ons generasie sukkel dus ook met die selfversekerde selfpromosie wat op die oog af so natuurlik kom by baie lede van die generasies jonger as ons.

Maak dit ons generasie van twyfel ’n swak generasie? Ek dink werklik nie so nie, want twyfel bied die kans op groei. Ek dink dit maak ons sterk.

As voorbeeld: Hier rondom 1960 het Rykie van Reenen namens Die Burger vir die destydse premier, dr. Hendrik Verwoerd, gevra of hy snags kan slaap met al sy verantwoordelikhede. Sy antwoord? “Ja, seker. ’n Mens het darem nie die kwelling van twyfel of jy dit dalk verkeerd het nie.” Van Reenen merk jare later op: “Ek het ’n bietjie geskrik voor so ’n sekerheid.”

As my generasie ’n generasie van twyfel is, is ons dalk meer Van Reenen as Verwoerd. En dit is vir my goed so.

  • Joubert is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Politiek  |  Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.