Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd dat CR hom vasvat
Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal.Foto: marietjie gericke

Die tyd vir ’n beslissende konfrontasie tussen die twee faksies in die ANC het aangebreek. Hoe langer dit vermy word, hoe meer skade gaan die party én die land ly.

Die vermeende geheime vergaderings – tussen oudpres. Jacob Zuma, Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, Supra Mahumapelo, die afgesette Noordwes-premier, Meokgo Matuba, die Vroueliga se sekretaris-generaal, Thanduxolo Sabelo, die Jeugliga-leier in KwaZulu-Natal, en die omstrede Zuma-vertroueling Dudu Myeni – waar ’n veldtog teen pres. Cyril Ramaphosa glo bespreek is, is net die regte sneller vir só ’n konfrontasie.

En die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering aan die einde van die maand is die plek daarvoor. Dit is tog geheel en al onhoudbaar dat die party se sekretaris-generaal teen sy eie president konkel.

As die verdeeldheid nie nou op die spits gedryf word nie, gaan die verlamming voortduur.

Ek het drie maande gelede al in hierdie rubriek geskryf: “Ace Magashule is die adder in Cyril Ramaphosa se boesem, die Zuma-faksie se Trojaanse perd in die ANC se topbevel.”

Nou is daar bewyse, ten spyte van sy en die ANC se onoortuigende ontkenning dat die vergaderings in twee hotelle in Durban en Umhlanga plaasgevind het.

’n Senior intelligensiebron wat oor die jare heen nog nooit vir my gelieg het nie, het gister half teësinnig bevestig dat hy van die gekonkel bewus is en dat die jongste vergaderings wat Sondag deur die Sunday Times onthul is, nie die eerste in hul soort was nie. Hy wou egter nie die besonderhede van die jongste vergaderings bevestig nie.

Jackson Mthembu, die ANC se parlementêre hoofsweep, het die berig geloofwaardig genoeg gevind om sy ernstige kommer daaroor op Twitter uit te spreek.

Ons het almal nou al baie keer gehoor Ramaphosa sal sy party in een stuk moet hou as hy volgende jaar se verkiesing wil wen.

(Ek is gister daaraan herinner dat Mthembu net voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember getwiet het: “I fully agree with @bhekicele that having @AceMagashule as @MyANC SG will relocate its #HQ to #Guptaworld and kill the ANC.”)

As die verdeeldheid nie nou op die spits gedryf word nie, gaan die verlamming voortduur.

Mense uit die Ramaphosa-binnekring kla gereeld dat hy die land met die een hand agter die rug moet lei omdat elemente in sy eie party hom dwarsboom.

Ons het almal nou al baie keer gehoor Ramaphosa sal sy party in een stuk moet hou as hy volgende jaar se verkiesing wil wen.

My eie siening is dat dit sleg vir Suid-Afrika gaan wees as die ANC nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, want dan is ’n koalisie­regering met die EFF ons voorland.

Ons weet mos nou wie en wat die EFF regtig is en watter soort alliansievennote hulle is.

Ons weet mos nou wie en wat die EFF regtig is en watter soort alliansievennote hulle is.

Maar Ramaphosa moet begin nadink daaroor dat hy dalk meer gaan verloor as hy aanhou om ’n deurslaggewende botsing met sy vyande te vermy.

Die minstens nege maande voor die verkiesing is ’n baie lang tyd in die huidige politieke gewrig.

As hy gesien word dat hy sy amp as president van die ANC hoër as sy amp as president van die republiek ag, gaan hy ’n duur prys betaal.

Die ANC se flirtasie met populistiese politiek kom uit die Zuma-kamp en het klaar ’n swaar ekonomiese tol geëis. Die stommiteit om te besluit om die Grondwet se eiendomsklousule te verander vóór enige impakstudies of deeglike oorweging, is ’n voorbeeld.

Dalk moet besorgde ANC-lede na die lys van 86 verkose NUK-lede (plus 20 ex officio-lede) kyk en druk op elkeen van hulle plaas om ’n slag met ruggraat op te tree en minstens Magashule uit sy amp te skors. Dalk moet die ANC-veterane weer van hulle laat hoor.

Ek vermoed ’n klein bietjie kragdadigheid is nou dalk in orde, Meneer die President.

Meer oor:  Politiek  |  Adder  |  Korrupsie  |  Cr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.