Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd dat Cyril die land eerste stel
Henry Jeffreys

Pres. Cyril Ramaphosa se Januarie 8-verklaring Saterdag in Kimberley het toe voldoen aan die pessimistiese verwagtinge wat dit voorafgegaan het. Die toespraak in ’n plaaslike sportstadion was nie net plan- en visieloos nie, dit het ook geen begrip getoon van die realiteite waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word nie.

Sommige sal sê dat dit nie eintlik Ramaphosa se toespraak was nie, maar wel die van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, wat verantwoordelik is vir die jaarlikse verjaardagvieringe.

Indien wel, dan het dit net weer die gaping tussen Ramaphosa, die ANC-leier, en sy party beklemtoon. Die toespraak is nietemin deur hom gelewer en hy moet daarvoor pa staan.

Die ANC verkies duidelik om vasgevang te bly in die glorieryke dae van sy verlede en in ontkenning te leef oor die chaos en vernietiging wat die party oudpres. Jacob Zuma toegelaat het om op die land los te laat.

Die ANC se verbintenis tot die sogenaamde nasionale demokratiese revolusie (NDR) is Saterdag deur verteenwoordigers van die SAKP en Cosatu beklemtoon. Die NDR is bloot ’n dekmantel vir planne om die land in volle sosialisme te dompel.

Hy het lustig meegedoen aan die populistiese strydkrete wat deur die loop van die dag deur die stadion weergalm het.

Ramaphosa kan nie van die gebeure en die toespraak verskoon word nie. Hy het lustig meegedoen aan die populistiese strydkrete wat deur die loop van die dag deur die stadion weergalm het.

Hy het nie in die bres getree vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, wie se kop in die kabinet deur Cosatu onder luide toejuiging geëis is nie. Dit lyk of Gordhan se dae in die kabinet inderdaad getel is en dat Ramaphosa dit nie sal kan afweer nie.

Die EFF het reeds gesê dat hy die president se staatsrede op 13 Februarie gaan ontwrig indien hy nie Gordhan as minister in die pad steek nie.

Die president is duidelik nie sy eie man nie en laat toe dat hy rondgepluk word deur elemente in sy party en in organisasies wat aan die ANC verwant is. Hy is so goed as gekaap deur magte wat nie sy visie vir die land en die ANC deel nie. Die toespraak wat hy Saterdag gelewer het, kom neer op boedel oorgee en dit is moeilik om te sien hoe hy hom uit sy penarie gaan loswikkel en homself vestig as ’n leier in eie reg.

Die fokus verskuif nou na die staatsrede, ’n toespraak waaroor die president ten volle in beheer sal wees. Gegewe Saterdag se swak vertoning, sal die druk groot wees vir ’n verbetering. Die president moet besef die nasie is sat vir opgewarmde toesprake uit die verlede. Saterdag s’n was inderdaad niks anders nie as ’n opgewarmde weergawe van vorige soortgelyke toesprake.

’n Mens kan sê dat dit te verwagte is van die ANC, maar die verwagtinge van die president is egter hoër. Die staatsrede is ’n geleentheid om Saterdag se misoes reg te stel.

Ramaphosa moet in sy staatsrede duidelik aandui wat gedoen gaan word om uit die diep ekonomiese krisis te kom, eerder as om te hunker na die ANC se vergange gloriedae. Wat gaan gedoen word oor Eskom en die res van die land se staatsondernemings? Om van Gordhan ontslae te raak, is eenvoudig nie genoeg of die antwoord nie. Allermins.

Die probleme met staatsondernemings is diepgewortel en wydverspreid. Gordhan het die naweek in ’n onderhoud gesê sy lot is in Ramaphosa se hande, en toe dié belangrike punt gemaak: “My loopbaan is oor die jare deur een belangrike ding gekenmerk: Ek het nog altyd die land se belange bo my eie gestel.” Dit is iets wat baie in die ANC gerus van hom kan leer.

Dit is ook tyd vir Ramaphosa om meer waaghalsig te wees en sy eie politieke oorlewing op die agtergrond te skuif. Sekerlik moet hy Suid-Afrika eerste stel, of hoe?

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Strydkrete  |  Land  |  Populisme  |  Presidensie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.