Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd dat DA ook wakker skrik

Die gesaghebbende The Washington Post het in die afgelope week in ’n meningsartikel nogal die kuiwe van die Demokrate deurmekaar gekrap en hulle geskud.

Die DA se breintrust kan gerus ook maar die artikel gaan lees, want dit kon net sowel op hulle van toepassing gewees het.

Johann Maarman

Die vraag wat The Washington Post vra, is of die Demokrate voor 2020 gaan wakker skrik. Die kragtigheid van die artikel lê egter in die subopskrif. Prontuit word gesê die Demokrate het nie ’n leier wat kan verenig nie en hulle het ook nie ’n duidelike boodskap nie. Nog nie.

Een van die Demokrate se ghoeroes in meningspeilings, Mark Mellman, gaan ’n stappie verder en sy prognose is dat die Demokrate van binne-af gesond lyk, maar van die buitekant gesien is alles nie wel nie.

Mellman sê die Demokrate is tans nie gewild onder die kiesers nie en dat dit grootliks aan die leierskapsvakuum toegeskryf kan word. Natuurlik stem die Demokrate nie saam nie en sê daar word oordryf met die narratief dat die party ’n identiteitskrisis het, want hulle glo hulle het nog genoeg anti-Trumppetrol in hul tenk om die Republikeine gas te gee.

Die snydendste kommentaar kom van Eric Garcetti, burgemeester van Los Angeles. Hy verwoord dit só: “Trump het ons identiteit onder ons uitgesteel. Die Demokrate was die politieke party van die mense, maar Trump laat ons lyk asof ons die party van die elite geword het. Identiteit maak saak en die Demokrate het daarvan weggehardloop.”

Maar laat ons by die teksvers vir oordenking uitkom: Is die DA nie maar in dieselfde posisie as die Demokrate nie?

Mmusi Maimane mag ’n uitstekende orator wees, maar of hy ’n party soos die DA kan bestuur, is te betwyfel. Van buite af lyk dit nie so nie, want die DA het die laaste maande van een krisis na ’n ander gestrompel en Maimane het nie geweet of hy kom of gaan nie.

Die Dag Zero-veldtog wat die DA in die Kaap gevoer het, was ten beste ’n bemarking-spektakel. Maimane kon ook nie behoorlik onder die vel van die Patricia de Lille-kwessie kom nie en die hof het hom ’n paar harde klappe gegee.

Ook wou Maimane homself kroon as Wes-Kaapse premier, maar het binne twee dae ’n eierdans gedoen. Groot fout.

Toe Maimane en Wilmot James mekaar destyds die stryd aangesê het in ’n televisiedebat oor wie die DA-leier moet wees, het iemand getwiet: Mmusi het tonne charisma, maar geen intellektuele diepte nie. Wilmot het intellektuele diepte, maar geen charisma nie.

Kiesers is nie dom nie en mense gaan nie aanhou om vir ’n party te stem wat bly mor nie.

Die naaste wat die DA waarskynlik aan ’n leier gekom het wat ’n goeie skeut intellektuele diepgang én charisma gehad het en die party goed kon navigeer, was Helen Zille.

Die DA se uitdagings is enorm. Om die regering op hul tone te hou, weeg die swaarste wanneer dit by die opposisie se kritieke prestasieareas kom. Maar om geraas te maak oor elke bakatel net om te toets wie se pinkie is die dikste, is verregaande.

Kiesers is nie dom nie en mense gaan nie aanhou om vir ’n party te stem wat bly mor nie.

Soos The Washington Post dit gestel het: Kiesers wil nie net meer die partye se stem hoor nie, maar wil ook sien dat hulle aan die tafel van die besluitnemers sit.

Teen die pas wat die DA nou volhou, gaan dit hom lank vat om aan die tafel van die besluitnemers te kom sit.

Wat die DA nou nodig het, is iemand met vars idees oor hoe om die ANC aan te pak en ’n leier wat oor kleurgrense heen aanklank kan vind. Anders gaan hulle die opposisiebanke nog vrot sit.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.