Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd dat MRK en OVK tande wys

Die Menseregtekommissie (MRK) het die EFF-leier, Julius Malema, ’n vrypas gegee deur te bevind dat ’n opmerking wat hy in November 2016 gemaak het, nie as haatspraak vertolk kan word nie.

Malema het gesê hulle het “nog nie” hul ondersteuners gevra om wit mense uit te moor nie. Met ander woorde, hulle kan dit nog oorweeg, maar dalk op ’n ander tyd. Dit is ’n kwalik verbloemde dreigement om ’n deel van die gemeenskap uit te moor.

Die MRK het bevind daar is ’n historiese konteks wat in aanmerking geneem moet word by oorweging van die klag, en in die lig van hierdie “konteks” kan die uitlating nie as haat­spraak vertolk word nie. Die Engelse taal het ’n mooi woord vir dié redenasie: “balderdash!”

As daar ’n “konteks” is vir dié soort van roekelose en gevaarlike opmerkings wat Malema en leiers soos hy maak, is dit juis die nuwe waardestelsel van grondwetlikheid wat Suid-Afrika in 1994 aanvaar het.

Dit is ’n waardestelsel wat van ons almal vereis om ’n herhaling van die vergrype van die verlede te vermy en die land te bou op beginsels van menseregte en versoening.

Malema en die EFF het nog nooit heeltemal die veranderinge van 1994 aanvaar nie. Hulle neem wel deel aan die grondwetlike instellings wat in 1994 geskep is, maar hulle aanvaar dit nie noodwendig nie. Kyk maar na hul ontwrigting van die parlement en ander wetgewende instellings.

Malema en die EFF het, net soos die res van ons, ’n grondwetlike verpligting om nie ander se regte as burgers te bedreig nie, ongeag wat hulle dalk in die verlede gedoen het.

Die MRK is ’n waghondinstelling wat moet waak oor ons grondwetlike regte en verpligtinge.

Malema en die EFF het, net soos die res van ons, ’n grondwetlike verpligting om nie ander se regte as burgers te bedreig nie, ongeag wat hulle dalk in die verlede gedoen het.

Malema-hulle besef maar alte goed dat daar ’n vrugbare teelaarde vir hul uitlatings is. Die probleem is dat dié opvattings iewers kan wortelskiet en tot ’n tragedie kan lei. Dit is juis die verkondiging van soortgelyke gevoelens wat waarskynlik tot die afgelope naweek se tragedie in Nieu-Seeland aanleiding gegee het.

Dit is die taak van ’n instelling soos die MRK om te doen wat hy kan om verspreiders van onverantwoordelike retoriek te stuit en te ontneem van suurstof om te floreer.

Dieselfde geld die opruiende retoriek van die leier van die Black First, Land First-beweging, Andile Mngxitama, wat verlede week op televisie gal gebraak het teen wit mense – wat ook op haat­spraak neerkom. Die MRK en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) behoort sy uitlatings te ondersoek, want sy uitsprake vertrap duidelik bepalings van die Kieswet.

Dit is begryplik dat die MRK en die OVK dalk huiwerig is vir die reaksie van die EFF en die BLF op enige sanksies teen hulle. Die instellings vrees dalk dat derduisende ondersteuners van die twee organisasies na hul kantore kan opruk en hulle ontwrig.

Dit is egter noodsaaklik dat art. 9-instellings soos die MRK en die OVK die moed van hul oortuiging het en optree teen mense en organisasies sonder aansiens des persoons.

Die gehalte en integriteit van ons demokrasie mag nie uitgelewer word aan vrese vir die invloed of reaksies van individue of organisasies nie.

Die MRK behoort sy bevinding oor Malema te herbesoek. Indien nie, behoort die bevinding heroorweeg te word. En die OVK behoort te besin oor of die BLF voldoen aan die vereistes van die Kieswet en geregtig is om aan die verkiesing deel te neem.

Die EFF moet besluit of hy deel wil wees van ’n grondwetlike bestel (wat hy duidelik verpes) en ophou met sy opruiende retoriek wat tot aanvalle op sekere dele van die Suid-Afrikaanse gemeenskap kan lei.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Haatspraak  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Ovk  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.