Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd is nou ryp vir ’n nuwe UDF

Die tyd is ryp vir ’n nuwe politieke beweging. ’n Politieke party wat dalk meer geskoei is op die ou United Democratic Front (UDF), wat die enigste werklike politieke tuiste vir almal was.

Dit was ’n inklusiewe organisasie, waarin ryk en arm presies dieselfde hoeveelheid politieke aandele gehad het.

Die destydse UDF was ’n merkwaardige organisasie en het ’n prominente rol in die val van apartheid gespeel.

Johann Maarman

Dit was werklik ’n organisasie wat ’n breë front verteenwoordig het en wat die stryd teen apartheid binnelands gevoer het toe die ANC nog ’n verbanne en verbode organisasie was.

Hoekom die ANC die UDF tot niet gemaak het, sal net hulle weet, want dit was die enigste organisasie wat oor rasgrense soveel politieke kapitaal gehad het dat dit die ou NP-regering tot raserny gedryf het.

Die UDF was ’n voetsoolvlakorganisasie en dr. Allan Boesak, een van die beskermhere en ’n medeargitek, het dit beskryf as ’n beweging waar selfs die hondjies en die katjies, die teevrou, arbeider en die base tuishoort.

Binne die ANC, die politieke kolos, is daar getroues wat diep besorg is oor die algehele welstand, die geestesgesondheid, van hul geliefde beweging.

Daar is ANC-kaders wat bitter graag ’n herstel wil hê van die glorieryke era, toe hul party morele gesag, eenheid in doelwit en samebinding gehad het in die vaste wete dat hulle die regte ding doen vir die land en al sy inwoners.

Daar is ’n flonkering dat beter dae aangebreek het met die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot ANC-leier, maar hy word omring deur die immorele Zuma-mandaryne wat sy herstelprojek vertraag, want wat die vorige leier in sy boedel nagelaat het, was verdeeldheid, wat openbare instellings vir politieke gewin misbruik en die ANC (en Suid-Afrika) se naam krater gemaak het.

Die DA, wat homself as die heiligste van die heiliges beskou, kan ook nie meer met die land se toekoms vertrou word nie. Die spektakel wat hulle met die De Lille-sage gemaak het, het hulle ontbloot as ’n party wat ook nie vertrou kan word nie. ’n Mens kry die indruk dat hulle te elitisties is en verreweg die meeste swart kiesers nooit aanklank by hulle sal kan vind nie.

Met sulke vroueleiers behoort Suid-Afrika stukke beter te vaar en hulle behoort die sewe duiwels uit die ANC, DA en EFF te irriteer.

Wie glo die EFF is ’n opsie as toekomstige regeerders, moet sy kop laat lees.

Die EFF is gewild onder die armstes van die armes, maar Julius Malema is so radioaktief met besmetting dat niemand wat ernstig is oor die toekoms van die land dit durf waag om sy aan sy met hom te staan nie.

Die agenda van swart ekonomiese emansipasie behoort op elke moontlike manier ondersteun te word, behalwe waar dit aangedryf word deur blote opportunisme en opsweping ten koste van die meeste van ons mense.

Wat die meeste kommer wek, is dat hulle die wit deel van die bevolking as hul grootste vyande in die stryd sien.

Demagogiese leiers soos Malema behoort verwerp te word met die minagting wat dit verdien.

Oor Cope, die IVP, UDM en die VF Plus hoef ’n mens nie eens ’n eier te lê nie; hulle eet maar genadebrood.

Dit bring ’n mens by De Lille.

Het dit nie tyd geword dat ’n verenigde front gelei word deur sterk vroue soos De Lille, Lindiwe Mazibuko, Ma­khosi Khoza en Mamphela Ramphele nie? Ons land het vroueleiers broodnodig. Ons het ’n vars briesie nodig in die muwwe politieke kamers. Met sulke vroueleiers behoort Suid-Afrika stukke beter te vaar en hulle behoort die sewe duiwels uit die ANC, DA en EFF te irriteer. Soos in die struggledae gesê is: Sekanjalo ke nako. Die tyd is nou.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Udf  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.